Mense weet nie meer hoe om briewe te skryf nie. Ek onthou nog hoe ons in die vak Afrikaans op skool geleer het om ‘n formele brief te skryf. Indien jy ‘n brief aan die redakteur van ‘n koerant wou skryf was daar weer ‘n ander formaat.
En toe kom die tegnologie. Vandag lewer mense kommentaar in kort kriptiese frases op Facebook, Twitter en webbladsye sonder dat hul gaan sit en behoorlik dink wat dit is wat hulle wil sê. En ek dink dit is presies waar die probleem inkom. Mense dink nie meer voordat hulle goed sê nie. Hulle lewer net kommentaar op ondeurdagte maniere en baie keer agter die tegnologie-gordyn wat help dat jy gesigloos kan optree.
Die tegnologie-era het duidelik ook ‘n invloed gehad op die soort van kommentaar wat mense op artikels in koerante en veral op nuuswebbladsye lewer. Vandag is daar meer sms’e (die meeste in swak taal en swak smaak) in Beeld as goed deurdinkte briewe. Die briewe wat wel geplaas word is gedurig anonieme mense of persone met vreemde skuilname wat erens ‘n vinnige gesiglose e-possie vir die koerant geskryf het.
As ons dalk weer die ou tradisie van bryfskryf in sy goeie formele formaat begin gebruik kan mense dalk weer dieper dink oor wat hulle alles kwytraak. My Afrikaans-onderwyseres het altyd gesê dat al die adresse en datums en goed wat jy eers bo-aan ‘n brief moet skryf juis daar is om jou tyd te gee om af te koel oor dit waaroor jy kommentaar wil lewer sodat wanneer jy by die inhoud van jou brief kom jy ‘n gebalanseerde en goed beredeneerde brief kan skryf.
Ek dink koerante moet eis dat briefskrywers weer van die formele formaat gebruik maak en dat hulle hul volledige besonderhede insluitende ‘n adres en kontaknommer moet insluit sodat die persoon se werklike identiteit geverifieer kan word. Dieselfde moet vir sms-kolomme geld.
Tegnologie is ‘n wonderlike ding en dit vergemaklik tweerigtingkommunikasie sonder twyfel. Dit is egter nie ‘n verskoning om ‘n platform vir lafaards en luiaards wat net oppervlakkige, gesiglose kommentaar op elke liewe ding wil lewer, te skep nie. Persoonlike vryheid insluitende vryheid van spraak, het sy perke en in baie gevalle eindig jou vryheid waar myne begin. Indien jy dus op ‘n gesiglose wyse op my vryheid indruis word ek benadeel sonder dat jy die gevolge vir jou dade dra.










Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.