Koerante: Laat mense asb weer formele briewe skryf

Mense weet nie meer hoe om briewe te skryf nie. Ek onthou nog hoe ons in die vak Afrikaans op skool geleer het om ‘n formele brief te skryf. Indien jy ‘n brief aan die redakteur van ‘n koerant wou skryf was daar weer ‘n ander formaat.

En toe kom die tegnologie. Vandag lewer mense kommentaar in kort kriptiese frases op Facebook, Twitter en webbladsye sonder dat hul gaan sit en behoorlik dink wat dit is wat hulle wil sê. En ek dink dit is presies waar die probleem inkom. Mense dink nie meer voordat hulle goed sê nie. Hulle lewer net kommentaar op ondeurdagte maniere en baie keer agter die tegnologie-gordyn wat help dat jy gesigloos kan optree.

Die tegnologie-era het duidelik ook ‘n invloed gehad op die soort van kommentaar wat mense op artikels in koerante en veral op nuuswebbladsye lewer. Vandag is daar meer sms’e (die meeste in swak taal en swak smaak) in Beeld as goed deurdinkte briewe. Die briewe wat wel geplaas word is gedurig anonieme mense of persone met vreemde skuilname wat erens ‘n vinnige gesiglose e-possie vir die koerant geskryf het.

As ons dalk weer die ou tradisie van bryfskryf in sy goeie formele formaat begin gebruik kan mense dalk weer dieper dink oor wat hulle alles kwytraak. My Afrikaans-onderwyseres het altyd gesê dat al die adresse en datums en goed wat jy eers bo-aan ‘n brief moet skryf juis daar is om jou tyd te gee om af te koel oor dit waaroor jy kommentaar wil lewer sodat wanneer jy by die inhoud van jou brief kom jy ‘n gebalanseerde en goed beredeneerde brief kan skryf.

Ek dink koerante moet eis dat briefskrywers weer van die formele formaat gebruik maak en dat hulle hul volledige besonderhede insluitende ‘n adres en kontaknommer moet insluit sodat die persoon se werklike identiteit geverifieer kan word. Dieselfde moet vir sms-kolomme geld.

Tegnologie is ‘n wonderlike ding en dit vergemaklik tweerigtingkommunikasie sonder twyfel. Dit is egter nie ‘n verskoning om ‘n platform vir lafaards en luiaards wat net oppervlakkige, gesiglose kommentaar op elke liewe ding wil lewer, te skep nie. Persoonlike vryheid insluitende vryheid van spraak, het sy perke en in baie gevalle eindig jou vryheid waar myne begin. Indien jy dus op ‘n gesiglose wyse op my vryheid indruis word ek benadeel sonder dat jy die gevolge vir jou dade dra.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • http://www.solidariteit.co.za Paul Joubert

    Franse filosoof met ‘n paar vreemde idees, maar een daarvan was dat mense vandag in ‘n sogenaamde “hiperrealiteit” leef d.m.v. die media. ‘n Soort saamgeperste en vereenvoudigde weergawe van die werklike wêreld. Soos mense glo dat hulle sin kan maak van alles in een koherente prentjie (wat deur die media aan mense gevoer word), verloor hulle eintlik hul besef van die werklikheid en lewe in die hiperwerklikheid. Dit veroorsaak ook dat mense op hol gejaag kan word met dinge wat hul eintlik in werklikheid nie affekteer nie, maar in die hiperwerklikheid affekteer dit hulle wel: “AG NEE!! MICHAEL JACKSON IS DOOD!! *huil snot en trane*” of “In ‘n skool in Amerika is kinders doodgeskiet, nou voel ek baie onveilig!” Almal word gelyktydig, op dieselfde manier geaffekteer deur dinge wat eintlik geen praktiese gevolg vir hul lewens inhou nie.

  • Marionade

    Wie’s dié nogal?

  • Paul

    Lees ek iets van Jean Baudrillard se denke in dié kommentaar?

  • Marionade

    Die moderne media pla my al lank – oor die redes wat jy noem, maar ook oor ander redes (wat eintlik maar deel is van ‘n groot geheel). Die huidige media-malheid is ook maar deel van die sikliese aard van dinge, maar ek wens dat ons nou ‘n slag by hierdie punt kan verbykom, want dit hou nou al soos ‘n brannewynkots hopeloos te lank aan.

    Ons wêreldbeskouïng word al hoe meer deur die media beïnvloed (die meningsmouse) en dit neig selfs na ‘n punt waar dit geheel en al deur die media gevórm word (dit is niks nuuts nie, dit is net deesdae vir my baie intens, so asof die hele ding op die drempel van ‘n draaipunt staan). Voor jy weet, leef jy tussen individue wat reken dat dít wat hulle op die kassie sien of in ‘n tydskfrif lees, die werklikheid is en dat hul eie lewens redelik vaal en sub-standaard is vergeleke met “hoe dit veronderstel is om te wees” – veral onder kinders, maar ook onder beïnvloedbare ouers (níé ‘n goeie kombinasie nie). Hogere verwagtinge word geskep en uiteindelik is daar net een uitkoms, wat ‘n aantal verskillende name het: teleurstelling, ontnugtering, ‘n “reality check”, ens.

    Die media beïnvloed alles wat ons doen: hoe ons Suid Afrika moet sien, wat ons oor die land moet dink, wat ons oor misdaad veronderstel is om te dink, oor swart bemagtiging en allerlei ander sosiale ongeregtighede wat deur die massamedia verontskuldig en in ons keelgaaie afgedruk word; hoe mans veronderstel is om te wees (vandag is dit metrosexual, môre is dit hardebaard, oormôre is dit wie weet wat), hoe vrouens veronderstel is om te wees, hoe hulle veronderstel is om te dink oor kinders en emansipasie, professionalisme en ‘n rits ander buzz words, hoe kinders veronderstel is om te wees; en dan, om by jou artikel aan te sluit, hoe jy veronderstel is om hardegat en vol opinie te wees, want jý is ‘n “independent, free, stong and intelligent individual”. Op die ou end sit jy met ‘n homogeen-denkende samelewing, maar die probleem is dat die homogeneïteit nie gebore is uit die samelewing nie, dit is gesuperponeer. Môre-oormôre swaai die hele ding weer gat om en só word massas en massas mense beheer (dit is ook niks nuuts nie).

    Ons mensies is nie net verslaaf aan Madiba nie, maar ook aan die media (wat die hoofrol gespeel het in die Madiba-verslawing). Ons kort w’ragtig ‘n ordentlike knyp.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube