Solidariteit Helpende Hand maak vandag geskiedenis met die stigting van die 100ste plaaslike Helpende Hand-tak. Die tak, wat vanaand in Brits in Noordwes gestig word, vorm deel van Helpende Hand se nasionale voetspoor wat uitgebrei word in reaksie op die groeiende Afrikanerarmoede in gemeenskappe regoor Suid-Afrika. Helpende Hand het nou takke in elke provinsie wat strek vanaf Kaapstad tot Tzaneen.
Luister Radio Pretoria.
“Die omvang van die stille armoede onder Afrikaners is geweldig. Die krag van gemeenskappe is broodnodig om die groeiende armoedekrisis in Suid-Afrika hok te slaan,” sê dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.
Langner sê verder dat Afrikanerarmoede sedert 1994 met 150% met toegeneem het. Volgens die bekende demograaf Flip Smit is daar tans 600 000 Afrikaners wat in armoede verval.
“Helpende Hand het die afgelope ses maande 100 takke landswyd gestig. Die Reddingsdaadbond is waarskynlik die enigste ander hulporganisasie wat in so ʼn kort tyd soveel takke gestig het,” sê Langner. Volgens hom is Helpende Hand se geweldige groei ʼn teken dat Afrikaners omgee en prakties betrokke wil raak om die groeiende armoedekrisis in Suid-Afrika aan te pak.
“Helpende Hand word letterlik oorval deur vrywilligers wat takke wil stig om die groeiende nood in hulle gemeenskappe te verlig. Baie van die takke het reeds ʼn sigbare verskil in hulle gemeenskappe gemaak deur die geestelike, kulturele en maatskaplike nood aan te pak. Die takke koördineer ook die beskikbare hulp in gemeenskappe deur hande te vat met organisasies wat reeds hulp verleen,” sê Langner.
Helpende Hand-takke is ook betrokke by landswye opheffingsprojekte soos die nasionale Skooltassieprojek wat behels dat duisende skooltassies jaarliks aan behoeftige graadeens regoor Suid-Afrika uitgedeel word. Helpende Hand se nasionale Kosblikkieprojek is ook deel van die groter strategie om kinders op te hef. Verder vat Helpende Hand-takke regoor die land hande met behoeftige kleuterskole en bied ook dagmoederopleiding aan ma’s van behoeftige gemeenskappe. Die opleiding sal die ma’s in staat stel om hulle eie dagsorgsentrums te registreer.
“Helpende Hand wil deur die vestiging van ʼn nasionale voetspoor mense help om hulle roeping te ontdek en uit te leef, en verantwoordelikheid vir hulself te aanvaar,” sê Langner.
Takke word hande van hoop
Van die takprojekte vir Junie 2010
SPRINGS
• Die tak het die afgelope drie maande kospakkies ter waarde van ongeveer R280 000 aan werknemers van die Grootvlei-myn uitgedeel.
• Die tak het op 26 Junie ʼn kermis vir die terneergedrukte mynwerkers van Springs gehou.
FICKSBURG:
• ʼn Arm tienermeisie met ernstige velprobleme is na ʼn skoonheidsalon geneem wat vir haar velbehandelings en -produkte gegee het.
• Die tak het vir ʼn 24-jarige man werk gekry.
• Klere is vir behoeftige mense ingesamel. Komberse is ook aan behoeftige gesinne uitgedeel.
• ʼn Handjievatdag met ʼn sokkertema is gereël en behoeftige kinders is bederf met eetgoed.
HENNENMAN:
• ʼn Vakansieprogram is vir kinders aangebied.
• Vier behoeftige kleuters word gefinansier om ʼn kleuterskool by te woon.
• Ouetehuise word gereeld besoek en ondersteun waar moontlik.
• Werk word vir werkloses gesoek.
• Die tak het ʼn Vrou-tot-vrou-projek wat vroue bemagtig.
BLOEMFONTEIN:
• Twintig kinders is op ʼn uitstappie na die Oorlogsmuseum geneem as deel van ʼn opvoedingsprogram van drie dae.
• Komberse wat geskenk is, is aan behoeftige bejaardes in ʼn aftreeoord uitgedeel.
• ʼn Negentienjarige dame gaan rekenaaropleiding ontvang as deel van ʼn werkskeppingsprojek
KIMBERLEY:
• Kos en klere word aan behoeftige kinders in ʼn karavaanpark verskaf.
KEMPTONPARK:
• Sporttoerusting is vir behoeftige kinders van Hoërskool Kemptonpark ingesamel. (Dit sluit krieket-, gholf-, muurbal-, rugby- en basketbaltoerusting in.)
RANDBURG:
• Die tak het 100 sweetpakke vir behoeftige kinders gemaak en uitgedeel.










Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.