Handelsektor steeds onder hoogtepunt

Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) het die data rakende die bruto binnelandse produk (BBP) van Suid-Afrika vir die tweede kwartaal van 2010 op 24 Augustus vrygestel. Die oorkoepelende syfer vir groei (seisoenaal aangepas teen ʼn jaarkoers) was 3,2%. Dit is wyd in die media gerapporteer.

Daar is ook heelwat gesê oor die feit dat die handelsektor (groot- en kleinhandel, motorverkope en akkommodasie) se groei in die tweede kwartaal 5,8% was, teenoor die 3,3% van die eerste kwartaal van 2010. Dit is verblydend om beter groei te sien, maar hoeveel daarvan aan die Sokkerwêreldbeker toegeskryf kan word, is nie duidelik nie.

Die vraag oor die invloed van die sokker is egter eintlik nie die belangrikste vraag om te vra nie. Die belangrike vraag wat implikasies vir Suid-Afrikaanse verbruikers inhou, is of die vlak van hierdie afdeling van die BBP nou al weer gelykgetrek het met die vorige hoogtepunt of nie. Soos op die grafiek gesien kan word, is dit nog nie die geval nie. Die volgehoue daling sedert die tweede kwartaal van 2008 is nog nie omgekeer deur die afgelope twee kwartale se positiewe groei nie. Die jongste (seisoenaangepaste) syfer (die rooi lyn) is steeds 2,7% laer as die hoogtepunt wat in die eerste kwartaal van 2008 bereik is. (Die syfer op die grafiek is deur vier gedeel slegs sodat die visuele skaal van die grafiek nie skeefgetrek word nie.) Die onaangepaste syfer (die blou stippellyn) is ook steeds 2,2% laer as die vorige hoogtepunt vir ʼn tweede kwartaal.

Indien groei in dié sektor aangehou het teen die tempo waarteen dit gegroei het in 2006 en 2007 (die rooi stippellyn), sou die vlak van hierdie afdeling van die BBP reeds 14,6% hoër gewees het as wat dit tans is. Dit is hierdie verskille, dit wil sê die verskille tussen die huidige vlak en die vorige hoogtepunt en die huidige vlak en die hipotetiese hoogtepunt, wat verbruikers tans steeds as ʼn “resessie” ervaar. As mense gewoond is daaraan dat verbruik teen ongeveer 1,2% (onaangepas) per kwartaal toeneem en daardie koers van toename word onderbreek, tref dit waargenome lewensstandaard baie hard. Die relatief hoë groeikoers van 2004 tot 2008 was natuurlik uiteraard onvolhoubaar, omdat dit erg deur uitermatige kredietopneming gedryf is.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • http://www.solidariteit.co.za Paul Joubert

    Goeie vraag daar, maar dis, soos ek in die vorige kommentaar geïmpliseer het, ‘n heel ander debat.
    Die data uit die BBP-datastel kan nie op so manier ingespan word nie. Ek wou slegs uitwys dat, hoewel sommige “analiste” nou juig oor die 5,8% groei, dit nog glad nie opgemaak het vir die agteruitgang van die afgelope paar jaar nie.

    Ek stem saam dat ‘n toestand van “om nie ‘n BMW te kan koop nie” nie ‘n resessie behoort te wees nie, maar in werklikheid is dit hoe mense daaroor dink. As iemand in 2007 ‘n BMW kon koop, maar die bank het dit in 2008 teruggevat en sy kan vandag steeds nie weer een koop nie, sal sy, as sy soos “die mark” optree, “voel” dat sy steeds in ‘n resessie is.

    StatsSA publiseer wel data oor kleinhandelsverkope wat bietjie fyner opgebreek is. Dit is egter steeds nog in redelik breë kategorieë, so hoewel dit meer gepas sal wees vir die tipe analise wat jy gedoen wil hê, is dit nog steeds nie ideaal nie. Die fynere tipe data is gewoonlik net in klein opnames beskikbaar, wat dikwels nie herhalend is nie en ook meestal net klein geografiese areas dek, so dit kan nie regtig gebruik word vir vergelyking oor tyd of vir veralgemening na die hele SA nie. Dit sou definitief sinvol wees om sulke opnames met fyn detail op groot skaal en gereeld te doen. Of die geld daarvoor beskikbaar is (en of die bruikbaarheid die koste sal regverdig) is ‘n ander saak.

  • Marionade

    Sal dit nie sinvol wees om so ‘n onderskeid te tref nie? Dit voel vir my asof die data ge-skew word en die gevolgtrekkings effens van die merk af is as luukshede deel vorm van die som. As brood en melk bv. bekostigbaar is en dit kan bygebring word, as skoolklere bygebring kan word, as daar nou-en-dan ‘n slagding bekostig kan word, maar daar staan nie ‘n BMW in die garage nie, glo ek nie dat dit as ‘n “resessie” ervaar behoort te word nie, ongeag van hoe dit wél ervaar word – so ‘n tipe lewe is blote realiteit.

    Dit sou interessant gewees het om te geweet het wie nou eintlik hierdie “resessie” ervaar en wie nie, alhoewel daar sonder te veel brein-gimnastiek ‘n goeie idee gekry kan word van wie diegene is, maar genoeg van my punteneurigheid. Die onderliggende vraag is (en dit is retories): moet stats in ‘n hoogs nie-homogene Suid-Afrika nie langs strenger lyne bepaal word nie, of sal die nuttige data wat daaruit geput kan word, nie die ekstra moeite en koste werd wees nie?

  • http://www.solidariteit.co.za Paul Joubert

    Die 2% aanwas is nie homogeen versprei nie. Die swart bevolking groei, terwyl die wit bevolking (waarskynlik meer a.g.v. min kinders as a.g.v. emigrasie) krimp.
    Onthou dis 2% in 2 jaar, darem nie 2% in een jaar nie. Bygesê, dit is die amptelike syfers, wat waarskynlik immigrasie uit die res van Afrika onderskat.
    Met hierdie data kan mens ongelukkig nie noodsaaklikhede van luukshede (wat ek aanneem is wat met “consumables” en “consumerism” bedoel word) skei nie. Vir die doeleindes van die argument, wat gaan oor hoe “voorspoedig mense voel” a.g.v. die dinge wat hulle kan koop (of gemaklik voel om te koop), is dit ook nie werklik nodig nie.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube