Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) het die data rakende die bruto binnelandse produk (BBP) van Suid-Afrika vir die tweede kwartaal van 2010 op 24 Augustus vrygestel. Die oorkoepelende syfer vir groei (seisoenaal aangepas teen ʼn jaarkoers) was 3,2%. Dit is wyd in die media gerapporteer.
Daar is ook heelwat gesê oor die feit dat die handelsektor (groot- en kleinhandel, motorverkope en akkommodasie) se groei in die tweede kwartaal 5,8% was, teenoor die 3,3% van die eerste kwartaal van 2010. Dit is verblydend om beter groei te sien, maar hoeveel daarvan aan die Sokkerwêreldbeker toegeskryf kan word, is nie duidelik nie.
Die vraag oor die invloed van die sokker is egter eintlik nie die belangrikste vraag om te vra nie. Die belangrike vraag wat implikasies vir Suid-Afrikaanse verbruikers inhou, is of die vlak van hierdie afdeling van die BBP nou al weer gelykgetrek het met die vorige hoogtepunt of nie. Soos op die grafiek gesien kan word, is dit nog nie die geval nie. Die volgehoue daling sedert die tweede kwartaal van 2008 is nog nie omgekeer deur die afgelope twee kwartale se positiewe groei nie. Die jongste (seisoenaangepaste) syfer (die rooi lyn) is steeds 2,7% laer as die hoogtepunt wat in die eerste kwartaal van 2008 bereik is. (Die syfer op die grafiek is deur vier gedeel slegs sodat die visuele skaal van die grafiek nie skeefgetrek word nie.) Die onaangepaste syfer (die blou stippellyn) is ook steeds 2,2% laer as die vorige hoogtepunt vir ʼn tweede kwartaal.
Indien groei in dié sektor aangehou het teen die tempo waarteen dit gegroei het in 2006 en 2007 (die rooi stippellyn), sou die vlak van hierdie afdeling van die BBP reeds 14,6% hoër gewees het as wat dit tans is. Dit is hierdie verskille, dit wil sê die verskille tussen die huidige vlak en die vorige hoogtepunt en die huidige vlak en die hipotetiese hoogtepunt, wat verbruikers tans steeds as ʼn “resessie” ervaar. As mense gewoond is daaraan dat verbruik teen ongeveer 1,2% (onaangepas) per kwartaal toeneem en daardie koers van toename word onderbreek, tref dit waargenome lewensstandaard baie hard. Die relatief hoë groeikoers van 2004 tot 2008 was natuurlik uiteraard onvolhoubaar, omdat dit erg deur uitermatige kredietopneming gedryf is.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.