Groeisyfers kan bedrieglik wees

Die totale uitset van die Suid-Afrikaanse ekonomie het in reële terme (aangepas vir inflasie) van die derde kwartaal van 2008 tot die tweede kwartaal van 2009 met 2,78% gekrimp. Dit het sedertdien, tot en met die eerste kwartaal van 2010, weer met 2,16% gegroei. Dit verteenwoordig ʼn verskil van 0,62 persentasiepunte.

Die vlak van uitset was egter in die eerste kwartaal van 2010 steeds 0,69 persentasiepunte laer as wat dit net voor die resessie was. Waar kom die ekstra 0,07 van ʼn persentasiepunt (wat ongeveer R4,5 miljard verteenwoordig, so dis nie ʼn onbenullige getal nie!) dan vandaan?

Die verklaring vir hierdie verskil is die feit dat die persentasies van dalings en stygings in een veranderlike oor tyd nie vanaf dieselfde vlak gemeet word nie. Die daling in bruto binnelandse produk (BBP) word gemeet vanaf die hoogste punt voor die daling, maar die styging word gemeet vanaf die laagste punt tydens die daling. Dieselfde persentasie van die twee verskillende vlakke verteenwoordig egter verskillende hoeveelhede.

ʼn Eenvoudige voorbeeld kan dit illustreer. Gestel daar is 100 mense in ʼn lesingsaal in die oggend. Teen die middag het 20 van die mense die saal verlaat. Daar was dus ʼn daling van 20% en daar is 80 mense oor in die saal. Gestel die aantal mense styg nou weer met 20%. Is daar dan weer 100 mense in die saal? Nee! Daar is net 96 mense, want 20% van 80 is 16, nie 20 nie. As daar weer 100 mense in die saal moet wees, moet die persentasiestyging 25% wees, want 25% van 80 is gelyk aan 20.

Hierdie beginsel is iets wat in gedagte gehou moet word wanneer persentasiestygings ná afloop van ʼn resessie beskou word. Dit is altyd makliker om goeie groeisyfers direk ná ʼn daling te toon as wat dit is om sulke goeie syfers oor ʼn tydperk vol te hou. Om weer “gelyk te breek” ná ʼn resessie is groter groeisyfers nodig as wat die dalingspersentasies was.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube