Google “trends” stabiliseer op hoër vlakke as voorheen

Kliek op die grafiek om dit te vergrootSowat ʼn jaar gelede is hier geskryf oor die Google-soekenjin se “trends”-funksie, waar ʼn mens kan sien hoeveel mense na inligting oor spesifieke onderwerpe soek. In daardie stadium het soektogte na sleutelwoorde soos “economic depression”, “recession”, “retrenchment” en “layoffs” begin afneem ná skerp stygings teen einde-2008, soos die ekonomiese pyn oor die wêreld minder geword het.

Hierdie tendense het nou min of meer gestabiliseer – meestal op relatief lae vlakke, maar die vlakke is steeds hoër as wat dit voor Oktober 2008 was. Dit dui op ʼn aanhoudende bekommernis wat in die agtergrond voortduur ten spyte daarvan dat so te sê alle (indien nie alle nie) lande in die wêreld nou reeds uit resessie uit is.

Dit is ook interessant om verskillende lande, of taalgemeenskappe, te vergelyk. Indien die neiging vir “Rezession”, die Duitse woord vir resessie beskou word, is daar slegs ʼn toename vir die laaste kwartaal van 2008 en daarna is die aantal soektogte vir die term weer terug na normaal. Die Duitsers is klaarblyklik nie meer erg bekommerd nie.

Die Japannese se woord vir resessie, 不況, is ook al byna terug by die normale vlak, maar daar moet ook in gedagte gehou word dat die Japannese ekonomie eintlik reeds vir die afgelope 20 jaar stagneer (aangesien hul bevolking ook stagneer, is dit nie so ʼn groot probleem soos dit elders sou gewees het nie).

ʼn Interessante, en kommerwekkende, faktor is dat soektogte vir die woord “unemployment” in die VSA nog nie afgeneem het nie, selfs al het die Amerikaanse werkloosheidskoers al ietwat begin daal.

Die Spaanse woord vir werkloosheid, “paro”, se soektogte neem ook nog nie af sedert einde-2008 nie – nes die Spaanse werkloosheidskoers van digby 20% ook nog nie afgeneem het nie.

Hierdie soort tendense is interessant om dop te hou en gee ʼn bietjie insig in mense se gemoedstoestande – inligting wat nie so maklik uit “harde” ekonomiese data gekry kan word nie. Gaan kyk gerus self ook na Google Trends by www.google.com/trends

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube