Goeie nuus is nie meer wat dit was nie

In die eerste helfte van hierdie jaar was dit baie maklik om ʼn positiewe datapunt of twee hier te bespreek. Selfs die kleinste styging in enige aanwyser was groot nuus, aangesien dit gevolg het op maande en maande se nuus en data wat die een slegter as die ander gelyk het.

So was dit in April byvoorbeeld groot nuus toe ʼn paar Amerikaanse banke tussentydse winste bekendgemaak het. Vandag is so iets egter nie meer opspraakwekkend nie. In dieselfde maand was ʼn verslag van die Amerikaanse Nasionale Vereniging vir Besigheidsekonomie (National Association for Business Economics) oor verbeterende besigheidstoestande in daardie land groot nuus gewees. Indien ʼn mens dit nou weer lees, lyk dit eintlik maar vervelig. Hul jongste verslag, met aanhef “The Great Recession is over!”, het skaars enige belangstelling ontlok, selfs al was dit baie meer positief as die vorige verslag van April. Die Baltic Dry Index is ook reeds weer byna by ʼn nuwe hoogtepunt vir hierdie jaar, maar dit gaan ook net stil-stil verby.

Die effek wat hier aan die werk is, is vergelykbaar met die effek wat aan die werk gaan wees in Suid-Afrika wanneer die eerste positiewe BBP-syfer aangekondig word (Hou duim vas vir die 24ste November!). BBP-groei ná ʼn lang tydperk van inkrimping is baie makliker om te behaal en lyk baie indrukwekkender as dieselfde persentasie groei ná ʼn tydperk van volgehoue groei. Dít ten spyte van die feit dat groei vanaf ʼn lae basis minder beteken as dieselfde persentasie groei vanaf ʼn hoë basis. Indien die 24ste se syfers aantoon dat Suid-Afrika se BBP in die derde kwartaal met 1% gegroei het, sou dit beteken dat produksie met sowat R12,4 miljard toegeneem het. Dieselfde syfer van 1% sou ʼn jaar gelede beteken het dat daar R12,76 miljard se toename in produksie was – dus R360 miljoen meer. Hierdie jaar sal die “laer” 1% egter baie indrukwekkend wees, waar dit verlede jaar, ná tydperke van beter groei, slegte nuus sou gewees het.

Op ʼn vergelykbare wyse lyk ekwivalente ekonomiese nuus wat aan die begin van die jaar, toe ons diep in resessie was, goed vertoon het nou nie meer so indrukwekkend nie. Huidige goeie nuus, veral internasionaal, volg op maande se ander goeie nuus. Dit het verwagtinge reeds so ʼn hupstoot gegee het dat selfs vandeesweek se nuus dat die EU (Suid-Afrika se grootste handelsvennoot) amptelik uit resessie uit is, nie juis opspraak gewek het nie.

Die nuus waarna mense nou smag, is iets wat kan toon of volgende jaar se BBP-groei in ontwikkelde lande in die omgewing van 0,5% tot 1% gaan wees, of eerder 1,5% tot 3%. Nuus oor hierdie sake word dikwels ʼn selfvervullende voorspelling. Iemand wat lees dat BBP-groei slegs 0,5% in die komende jaar gaan wees, gaan twee keer dink voor hy geld spandeer, terwyl die teenoorgestelde geld vir iemand wat lees dat dit 3% behoort te wees.

Suid-Afrikaanse verbruikers is in hierdie stadium egter steeds soos skilpaaie wat in hul doppe ingekruip het. Hoewel die algemene en veral die internasionale ekonomiese nuus reeds positief genoeg geword het dat positiewe nuus eintlik nie meer nuus is nie, word die skilpad se dop nog elke nou en dan geklap deur ʼn bietjie plaaslike nuus soos Eskom-tariewe en SAUK-belasting. Hopelik is die 24ste se BBP-syfers goeie nuus wat goed genoeg is dat die skilpad weer kan begin deelneem aan die resies.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube