Vrydag het die Solidariteit Navorsing Instituut ʼn Landbouseminaar aangebied oor die mieliekrisis in die land. Daar is al heelwat op die blog berig daaroor. As inleiding het ek die storie van Gerrit vertel. Luister na die storie. Luister na al die klank.
Ek is ‘n plattelander en kom van Heilbron in die Vrystaat. Ek is in suiwel ontvang en gebore en my pa was hoof van Clover SA. My pa-hulle is steeds op Heilbron en ek gaan af en toe soontoe. Twee weke gelede was dit weer sulke tyd. Heilbron toe!
Toe ek by Heilbron inry sien ek die plakkerskamp het waarskynlik met nog 20% gegroei. Die strate lyk sleg en my ou laerskool se rugbyveld lyk soos ‘n Vrystaatse grasveld. Op die hoek van Raubenheimerstraat, waar my pa-hulle bly, is ‘n bordjie: ‘Slaggate voor, maak vas jou gordel en haal jou valstande uit.’ Heilbron lyk nie meer dieselfde nie.
Vir lank was Heilbron die suiwelhoofstad van Suid-Afrika met Clover SA se hoofkantore in die dorp. Die hoofkantoor is verlate. Suiwelboere in Suid-Afrika het getuimel van 30 000 na 2700. Heilbron het saam met die aantal boere getuimel, behalwe natuurlik die plakkerskamp.
My beste maatjie van graad 1 af is Gerrit. Gerrit boer op Heuningspruit tussen Heilbron en Frankfort. Ek besluit toe om sommer ‘n draai by Gerrit te gaan maak. Gerrit is ‘n mielieboer. Nie ‘n klein boer nie, maar ook nie ‘n groot boer nie. Hy melk op klein skaal en het ‘n paar blesbokke op die plaas. Geploegde lande praat met hom, hy hoor as mielies groei en kry seer as die son die blare laat draai. Hy is van daardie soort mense wat die grond agter die ploeg optel en ruik. “Ek boer met graan omdat ek nie anders kan nie”, sê hy altyd.
Op pad na Gerrit het die oop Vrystaatse vlaktes my opgeval. Die oopgeit het my egter benoud gemaak. Die Engelbrechts se huis staan leeg. Die Van Tonders se plaas is verlate. Die Else se huis het ‘n opstal geword. Drade hang en paaie lyk beroerd. Ek kan my ook nie te veel vergaap aan die oop benoude vlaktes nie, want die slaggate tussen Heilbron en Frankfort is van so aard dat jou oë maar op die pad moet wees.
Gerrit is nog so joviaal soos altyd, regte boergasvryheid. Ons sit in die gerestoureerder sandsteen huis. Sy oupa het dit gebou en op die deur staan 1927. Gerrit se vrou, Marlene gaan gooi vir ons ‘n koppie boeretroos. Sy twee seuntjies loer om die hoek met hul vuil gesiggies. “Sê hallo vir oom Dirk”, “Hallo Oom Dirk,” sê hulle reeds hardlopende buiten toe. Regte plaasjapies.
“Onthou jy vir Hannes,” vra Gerrit. “Hy is twee maande gelede in sy bed doodgeskiet. Reinette en die kinders is stad toe. Die plaas is verlate en daar word nou gewag vir die boedelproses voordat die plaas opgeveil word.” Ek onthou vir Hannes en het in die koerant van sy moord gelees.
“Hoe lyk die oes?” Vra ek vir Gerrit. Nou lyk sy oë agter sy glimlag sommer oes. “Dit lyk goed”, sê hy, maar verander die onderwerp. Hy wil eerder oor Solidariteit weet. “Ek ken jou te goed Gerrit, wat’s fout?” vra ek toe.
Gerrit begin toe praat. “Dit gaan nie goed nie Dirk. Die bedryf is onder druk. Ek het ‘n goeie oes gehad, maar hoe groter die oes, hoe groter die verlies. My insetkoste is nou hoër as die prys wat ek ontvang. Rondom my is talle boere weg. Boere wat uitboer is nie vandag se verskynsel nie. Dit kom nou al lank. As ek met my pa praat, praat hy oor ‘n tyd wat was. Landbouvoorligters, koöperasies wat met hulle gesig na die boere gestaan het, die landboukredietraad, bemarkingsrade, Die Landbank ensovoorts.
Die gevolg was dat Suid-Afrika nie net voedselsekerheid gehad het nie, maar ook voedselselfvoorsienendheid. Al hierdie meganismes om ‘n stabiele omgewing te skep waarbinne ons kan boer is weg, opgevreet deur die misbruik van die heilige koei, die vrye mark. Die mark is egter nie vry vir die landbou nie. Dit lyk of ons nou in die oerwoud is waar net die grotes oorleef. Vrye mark? Nee die mark van die magtiges. Hulle wat het, vat meer. ‘n Mark is bloot vry indien daar balans tussen die rolspelers is. Daar is nie balans nie, boer is te swak en die groot aankopers te sterk.
Ons bedryf is ook te vol onvoorsiene veranderlikes. Ons kan nie droogtes of hael voorsien nie. Soms is daar oorproduksie en soms onderproduksie. Dan is ons oeste swak en dan goed. As die oeste swak is, is die prys goed en as die oeste goed is, is die prys laag. Landbou funksioneer nie in ‘n normale markomgewing nie. Om normaal te kan funksioneer het ons beskerming nodig. Die spykers waarmee boere se doodskiste ingeslaan word is die woorde, mark, vraag en aanbod. Vir mark, vraag en aanbod om te werk, is balans nodig.
Ironies maak mark, vraag en aanbod tans die landboumark eintlik onvry. Die probleem is dat dit net ons is wat die sogenaamde vrye mark spel speel. Globaal kompeteer ons teen ‘n gesubsidieerde mark. Daar is nie meer vir ons bekostigbare kapitaal en krediet in krisistye nie. Daar is nie meer bemarkingsrade wat surplus en tekort reguleer nie. Landbou is siklies. Oor ‘n tydperk is daar ‘n normaalkurwe, maar ons moet die skerppunte van die op en af bestuur anders oorleef ons nie om die normaalkurwe te beleef nie.
Mens kan nie argumenteer dat as ek met een voet in die ys en een voet in die vuur staan, my temperatuur gemiddeld is nie.
Die omgewing het makro geword. Die grotes word groter en die kleintjies word ingesluk. Die mark word meer en meer gedomineer deur makro verskaffers en makro aankopers. Ons ouens hier in die middel word gewurg. Boere verstaan nie die krag van die kollektief nie. Ons sukkel om saam te staan. Die boer se bedingingsmag is te klein. Ons kan nie arm druk nie. Ons moet verkoop, want ons het die kontant nodig. Ons sal die krag van die kollektief weer moet herontdek.
Deur sterker kollektief te raak kan boere die magsbalans en die ware vrye mark herstel. Die toekoms van die boer is in sy eie hande.”
Ek knik maar net my kop, want ek kom agter ek kan moeilik verstaan as ek nie plaas is nie.
“Kom ek gaan wys die plaas,” sê hy. Toe lewe Gerrit weer. Die twee seuns is op die bakkie en Gerrrit babbel oor dinge wat ek ok nie verstaan nie. Al wat ek weet is dat hy in sy element is.
Terug by die huis gooi Marlene weer vir my ‘n koppie boeretroos. Gerrit dring daarop aan dat ‘n vleis inpak en die seuns gaan pluk ‘n klomp groente. Toe vang my oog ‘n veilingkennisgewing, so half weggesteek op sy lessenaar. Gerrit se plaas. Nog twee kinders uit die Heilbron skool. Nog ‘n gesin uit die NG-Kerk, nog minder kopers by die plaaslik supermark, nog ‘n groter plakkerskamp, nog ‘n boer wat van binne dood is.
Sterkte met die konferensie, ek moet vir Gerrit bel oor die uitkoms.
Geen verwante artikels nie.










Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.