Die Internasionale Geregshof se uitspraak verlede week dat Kosovo se onafhanklikheidverklaring van Serwië wettig is, het baie separatistegroepe regoor die wêreld laat wonder of dit nou vir hulle makliker gaan wees om ook onafhanklike state te word.
In talle wêrelddele bly minderhede geografies gekonsentreerd in gebiede waar hulle dan die meerderheid uitmaak, soos in Kosovo, waar Albanese sowat 80% van die bevolking uitmaak. Dit laat dus die vraag ontstaan waarom nie meer volkere die roete volg wat Kosovo gevolg het nie.
Die antwoord lê daarin dat minderhede in die meeste gevalle weens federale regeringsvorme of deur onderhandelde skikkings heelwat outonomiteit in die geografiese gebiede waar hulle ʼn meerderheid is, geniet. Dink byvoorbeeld aan die Franse in Quebec, Kanada en die Baske en Kataloniërs in Spanje.
Wanneer ʼn minderheidsgroep in ʼn land egter deur geweld onderdruk word, sien ons dat nuwe state soos Eritrea in die noordooste van Afrika en natuurlik Kosovo ontstaan. Die vraag ontstaan dus: Moet ʼn volk eers as ʼn minderheid onderdruk word voordat hy homself in ʼn eie geografiese gebied onafhanklik kan verklaar? Oor Kosovo word die vraag ook tereg gevra: Wat van die 20% Serwiërs wat nou weer in Kosovo ʼn minderheid is?
Daar behoort geen twyfel daaroor te bestaan dat minderhede ʼn reg behoort te hê om waar hulle ʼn aansienlike meerderheid in ʼn bepaalde geografiese area uitmaak, ʼn groter mate van selfregering te mag hê nie. Dit word moontlik gemaak deur federale en konfederale regeringsvorme. Die probleem is egter dat in baie lande die onderdrukking en uitbuiting van minderhede vir die meerderheid van sodanige waarde is dat hulle om politieke redes alles moontlik sal doen om volle mag en beheer oor minderhede te behou.
Ander internasionale nuus van die week:
Brittanje: Die Liberaal-Demokrate, wat tans as ʼn minderheidsvennoot saam met die Konserwatiewe Party in Brittanje regeer, se steun is besig om skerp af te neem in peilings. Dit laat bespiegelinge ontstaan dat die party waarskynlik meer konflik met die konserwatiewes sal moet skep ten einde sy liberale steunbasis te heraktiveer en sodoende ʼn groot loesing in die volgende verkiesing te voorkom. Dit kan die koalisieregering in Brittanje, wat goed weggespring het en deur hervorming reeds baie steun van Britte het, destabiliseer.
Derdewêreldlande: Nuwe statistieke van die Wêreldgesondheidsorganisasie toon dat twee uit elke drie kindersterftes in Derdewêreldlande deur longontsteking en diarree veroorsaak word. Terwyl inentings ʼn groot afname in kindersterftes weens masels, pokke en polio veroorsaak het, bring ʼn tekort aan befondsing en swak lewensomstandighede mee dat baie kinders steeds nie toegang tot inentings het nie en weens maklik behandelbare toestande soos diarree sterf.
China: Die Chinese het besluit om twee gesogte reuse pandas aan Japan te skenk in ʼn poging om verhoudinge tussen die twee lande te verbeter.









0 Reaksies op “Gaan Kosovo die toon aangee vir meer onafhanklikheidsverklarings?”
Lewer Kommentaar