Letterlik honderde der honderde mense het oor die Kerstyd opgestaan en hul sê oor FNB gesê. Binne enkele ure het honderde klagtes FNB getref. Die Facebook-groep het oor die 500 lede in die stilste tyd van die jaar gekry, en ons dienssentrum is oorval met e-posse. Die reaksie was oorweldigend en het ons verwagtinge oortref.
Mense het gesê: “Ons gaan dit nie vat dat daar teen ons op grond van ons ras gediskrimineer word nie en as julle nie luister nie, straf ons julle deur ons rekeninge te sluit.”
Gaan lees gerus weer die reaksie van mense. Dit was ongelooflik.
Wat ons hier beleef het, is die krag van gemeenskapsaktivisme. Dit is ʼn nuwe soort politiek waarvan die volle krag nog nie ontdek is nie. Nuwe tegnologie maak hierdie soort aktivisme net meer effektief. In die veldtog teen FNB het ons die webbladsy, blogs, Facebook, Twitter en e-posse ingespan.
Die resultaat: sukses!
In gesprekke tussen myself en die uitvoerende hoof van FNB, Michael Jordaan, is ooreengekom dat, indien dit uit ʼn regsoogpunt moontlik is, wittes wel bevoordeeldes van die trust sal wees.
Ons het voorlopig ooreengekom dat Solidariteit en FNB se regspanne op 11 Januarie sal vergader in ʼn poging om ʼn regskikking te vind.
FNB se verweer is dat die trust wat die studiehulp toeken deel is van ʼn groot swartbemagtigingstransaksie en dat die bevoordeeldes swart moet wees. Hulle hou die tersaaklike regstellendeaksiewette en swartbemagtigingswette en -kodes as verweer voor.
Solidariteit se argument is dat daar geen bepaling in enige wet is dat bevoordeeldes eksklusief swart moet wees nie. Daar is ook talle gevallestudies. By AngloGold Ashanti en SASOL is daar ook personeeltrusts geskep en in beide gevalle is wit werknemers deel van die trusts. Beide transaksies is deur die regering erken as swartbemagtigingstransaksies en wittes was deel daarvan.
Dit is net te gemaklik om te sê geen wittes mag bevoordeel word nie.
Die toets is nou eenvoudig: bepaal swartbemagtigingswetgewing dat wittes uitgesluit moet word?
Indien die antwoord nee is, verval FNB se verweer en moet wittes wat minder as R100 000 verdien deel word van hulle transaksie.
Ek kan reeds vooraf met selfvertroue sê die antwoord is nee. FNB se regspan sal moeilik die teendeel kan bewys. Die trustees moet maar begin om die dokumente gereed te kry om wittes wat behoeftig is deel te maak van die bevoordeeldes.
Die gesprek volgende week gaan nog baie interessant word.
Gee asseblief julle menings. Indien daar regspersone is wat ʼn mening het, sit dit gerus op die blog of Facebook. Alles sal help.
Nooi julle vriende en familie om by ons Facebook groep aan te sluit of volg die gebeure op die Solidariteit-blog en -webblad.
Nogmaals geluk aan almal wat aan die veldtog deelgeneem het. Julle het ʼn verskil gemaak.
Die koeël is egter nog nie deur die kerk nie en die finale groot gesprekke lê nog voor.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.