Eerste Nasionale Bank diskrimineer openlik teenoor sy wit lede wanneer dit kom by die uitleen van studiehulp. Slegs sogenaamde BEE personeel kan aansoek doen vir studiehulp. In die FNB nuusbrief Treetalk word genoem dat “swart” personeel wat minder as R100 000 verdien per jaar kan aansoek doen vir die studiehulp. Waar is FNB met hul goeie nuus stories en hul wortels in Afrika? Is die wit personeel net goed genoeg om die kliente te diens? Solidariteit gaan ʼn uitgebreide veldtog loods sodat FNB kliente en die publiek druk op die bank en hul wanpraktyke kan plaas. FNB is so ewe trots Suid-Afrikaans. Moet net nie vrae stel nie. Die bank vrae hoe kan hulle help? Hulle kan help deur die studielenings aan alle personeel beskikbaar te stel.
Kyk STube video. Engelse video.
Sluit aan op Facebook.
Teken protes aan.
Besoek www.solidariteit.co.za om ‘n direkte vorm te stuur.
Swart Kerskous vir wit werknemers by FNB
Die vakbond Solidariteit het vandag met ʼn reuse internetveldtog begin waardeur FNB-kliënte gemobiliseer word om druk op die bank te plaas nadat die bank besluit het wit werknemers kan nie kwalifiseer vir beurse vir hulle kinders nie.
In die November-uitgawe van hulle nuusbrief aan die werknemers, Treetalk, skryf FNB dat indien werknemers finansieel sukkel met die eise van hoë studiekoste, daar goeie nuus is. Volgens die skrywe is FNB daartoe verbind om opleiding vir almal te verseker en as deel van die inisiatief bied hulle finansiële steun aan swart werknemers, met inbegrip van Afrikane, Indiërs, Kleurlinge en Chinese, wat minder as R100 000 per jaar verdien.
“Wittes is dus nie deel van “almal” nie. Wit werknemers wat swaarky en minder as R100 000 verdien, word eenvoudig uitgesluit suiwer op grond van hulle ras. Dit is seker die onsensitiefste Kersgeskenk wat ʼn werkgewer aan ʼn seker deel van sy werknemers kan gee. Die wit werknemers by FNB ontvang ʼn swart Kerskous wat hulle nie mag oopmaak nie, want hulle is nie swart nie,” het Dirk Hermann, adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.
Lede van die publiek kan direk by FNB kla deur middel van die webbladsy van Solidariteit. Op die webbladsy kan webgebruikers ook deel word van ʼn Facebook-aksie teen FNB. Blogs is gister teen FNB begin en video’s teen FNB is op www.stube.co.za asook YouTube gepubliseer. Die veldtog met die naam “Kerskouse vir almal” skop vandag af en sal in 2010 voortgesit word.
Ons beroep tot kliënte van FNB en die publiek is om met ʼn veldtog teen die bank voort te gaan totdat die rassekriteria uit die beurstoekenning gehaal word.
Die fokus van FNB se Werknemersondersteuningstrust is om kinders van werknemers op primêre skoolvlak tot graad sewe te help. “Klein kindertjies op laerskoolvlak word dus die slagoffers van diskriminerende praktyke. Op grond van watter morele argument kan FNB argumenteer dat ʼn graadeentjie van ʼn ouer wat minder as R100 000 verdien steeds ʼn bevoordeelde uit apartheid is? FNB het geen morele argument nie, maar bloot ʼn rasse-argument,” het Hermann gesê.
“FNB-kliënte en alle Suid-Afrikaners moet opstaan teen hierdie harde rassestandpunt. Indien enige werknemer minder as R100 000 verdien, is dit byna onmoontlik vir daardie gesin om vir hul kinders se studies te betaal. Die regte benadering sou wees om almal wat minder as R100 000 verdien te laat kwalifiseer vir studiehulp. Die meerderheid van die FNB-werknemers wat minder as R100 000 verdien, is swart, maar jy kan nie die wit werknemers uitsluit nie.”
In die klag wat Solidariteit van ʼn werknemer ontvang het oor die diskriminerende beurspraktyk by FNB, word ʼn voorbeeld gebruik van twee wit vroue wat in ʼn spesifieke afdeling werk en minder as R100 000 per jaar verdien. Albei is enkelouers en sukkel om kop bo water te hou. In dieselfde afdeling werk ʼn swart vrou wat dieselfde verdien, maar haar man verdien R50 000 per maand. Sy kwalifiseer vir hulp maar die wit vroue, by wie die nood die grootste is, kwalifiseer nie, suiwer op grond van ras.










Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.