En die wêreld doen steeds niks omtrent Zimbabwe nie

Dit is vanjaar tien jaar sedert Robert Mugabe en sy Zanu-PF-regering uit desperaatheid om die mag in Zimbabwe te behou duisende wit boere van hul plase begin verdryf het in ʼn sogenaamde grondhervormingsproses. Duisende wit en swart Zimbabwiërs het hul huise, werk en inkomste verloor, terwyl ʼn onbekende getal persone deur regeringsmagte, die Zimbabwe-regering en die polisie gemartel en selfs doodgemaak is.

Vandag is meer as 80% van die land se bevolking werkloos en ly meer as die helfte van die bevolking honger. Voor 2000 was Zimbabwe een van die stabielste lande in Afrika, met hoë opvoedingsvlakke, lae misdaad en groot uitvoere van landbouprodukte.

Dit was vroeg in die 21ste eeu reeds duidelik dat Zimbabwiërs nie deur demokratiese prosesse die probleme in hul land sou kon oplos nie. Zanu-PF het eenvoudig deur korrupsie en geweld Zimbabwiërs in vrees laat leef, wat weer verhoed het dat enige ander party deur middel van demokratiese verkiesings die regering sou kon oorneem.

Tog lyk dit terugskouend vir my na een van die makliker konflikte wat die Weste en instellings soos die VN kon oplos. Ons weet almal dat die probleme in Irak en Afghanistan byna onoplosbaar is weens die komplekse geskiedenis van hierdie lande, asook weens geografiese en ander uitdagings. Zimbabwe kon egter maklik reggeruk word. Dit sou ʼn middelmatige poging van ʼn paar duisend Amerikaanse en Britse soldate geverg het om Mugabe en sy klein binnekring te onttroon en die demokrasie in Zimbabwe te herstel. Zimbabwiërs sou vandag in ʼn baie beter posisie kon wees en die landboubedryf sou waarskynlik groter as voor 2000 gewees het! Suid-Afrika sou nie met miljoene vlugtelinge uit Zimbabwe opgesaal gewees het nie en die VN sou nie nodig gehad het om kos aan arm Zimbabwiërs uit te deel nie.

Die Weste het egter niks gedoen nie. Sanksies hier en sterk uitsprake daar, maar Mugabe is steeds president van Zimbabwe en dit gaan vandag net nog slegter met Zimbabwiërs. Ook in Irak, Pakistan, Afghanistan, die DRK en al die ander groot konflikgebiede gaan dit net so sleg as vyf of tien jaar gelede, of selfs slegter. Al die pogings van die Weste om konflikte in hierdie lande op te los, het misluk. Hoekom het hulle nie maar probeer om die oplosbare konflik toe wel op te los nie?

Ander internasionale nuus van die week:

Falkland-eilande: Die dekades-oue geskil tussen Brittanje en Argentinië oor die besit van die Falkland-eilande het die afgelope tyd weer opgevlam. Dit word toegeskryf aan die ontdekking van olie op die eilande.

Nigerië: Dié land se president het die afgelope week, nadat hy drie maande in ʼn hospitaal in Saoedi-Arabië deurgebring het, na Nigerië teruggekeer. Dit kan tot ʼn krisis in Nigerië lei nadat die land se adjunk-president intussen die presidentskap oorgeneem het.

Griekeland: ʼn Nasionale staking teen die regering in Griekeland het ekonomiese aktiwiteite in dié land die afgelope week lamgelê. Dit vind plaas te midde van ʼn groot ekonomiese krisis in Griekeland.

Soedan: Dié land se president het ʼn vredesooreenkoms met ʼn rebellegroep in Darfoer onderteken in ʼn poging om die konflik in dié deel van Soedan op te los. Honderde duisende Soedannese het die afgelope paar jaar hul lewens in die geweld in Darfoer verloor.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube