Dit is moontlik dat die dinge wat ek in my lewe verpes eintlik maar dinge is wat ek net nie ten volle verstaan nie. Dit is waarskynlik dinge wat ander mense ‘n veel beter begrip van het. Tog is ek oortuig dat hierdie “dinge” juis so saamgestel is om vir my as gewone mens te verwar en die lewe ‘n bittere stryd te maak.
Ek praat van drie dinge in spesifiek: Mediese fondse, versekering en banke.
Met elkeen van hierdie drie dinge is daar gewoonlik die een of ander slim kleinskrif wat niemand verstaan of een van bewus is nie.
Een van my kollegas moet nou reeds vir maande met sy versekering sukkel nadat sy kar in ‘n motorongeluk afgeskryf is. Dit is nou hier te kort en daar te lank – en intussen word dinge nie afgehandel nie en hy moet maar self plan maak met ‘n ander kar.
Op my eie klein planeet het die realiteit van mediese fondse weer hierdie week getref. Ek is op my laaste (van wat vir my voel soos ‘n lange, lange swangerskap) en hoewel ek maande gelede ingelig is dat alles piekfyn sal wees wat die dekking betref is daar NATUURLIK nou stories en allerande verkuilde kostes. En dit selfs nadat ek by ‘n vorige geleentheid uitgevra het oor al hierdie “kostes”.
Ja, ek besef ons kan nie klaarkom sonder hierdie “wreedhede” nie. Banke, versekering en medies is seker maar hier om te bly, want of ek dit nou wil erken of nie – ek het dit nodig. Tog wens ek dat dit nie so ingewikkeld was nie. Ek wens dat hierdie mense nie daarop uit was om dinge so onduidelik moontlik te maak sodat ons uitgevang kan word met simpel ditjies en datjies nie.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.