Ons was so groepie vrywilligers wat vandag aangemeld het vir diens by die Steve Biko Akademiese hospitaal. Aan die einde van die dag het die groep vrywilligers gegroei tot 150. Hoe weet ek dit? Wel ons groep het in die kombuis geëindig en moes kosmaak.
Luister Solidariteitradio.
Die groep het bestaan uit Solidariteitlede wat ingesluit het opgeleide susters en dan ook personeel van die vakbond en ander vrywilligers wat hul dienste via Facebook aangebied het. Die susters onder die vrywilligers wou gaan uithelp in die teater maar die nood was nie so groot vandag nie.
Soos genoem is ons groep kombuis toe gestuur. Hier is die volgende oggend se ontbyt voorberei. Ander lede van die groep het begin skottelgoed was. Vir ontbyt kry hul twee broodjies, botter, suiker en ʼn appel. Dit is verpak in ʼn bord. Tien borde op ʼn skinkbord en dan is die skinkborde in ʼn reuse trollie gesit.
Hierna het ek die melkspan getref. Jy neem ʼn twee liter melk en gooi dit in klein 250 ml houertjies in. Halfpad deur die operasie wys een van die ander spanne ons daarop dat daar lae-vet en volroom melk is. Die met die rooi doppie is volroom en blou is lae-vet. En die twee moet nie gemeng word nie. Bietjie laat.
Die skottelgoedwas-span het alles in een groot masjien gedruk en dit het die anderkant uitgekom. Toe ek naderstaan jaag hulle my weg want ek trap die vloere vuil.
Een van die vrywilligers wat ek daar raakgeloop het was Doreen. Sy is opgelei om ambulans diens te verrig en het ook gehelp as vrywilliger. Op daardie stadium het sy meer as 24 uur gewerk. Sy het my ʼn gedig gewys wat sy die vorige aand geskryf het. Hier is dit:
Doreen se gedig
In my swakheid en in my moegheid
Vind ek vrede in my hart om
Te weet ek doen goed.
ʼn 12 Uur skof sonder loon
om my naaste by te staan
wat in hierdie staking moet boet
die geluide van monitors en
die gekreun van ʼn man met
ʼn gebreekte been, die histeriese
huil en ʼn moeder wat ween
die chaos in die ongevalle
met personeel wat ongeduldig
skarrel en die moegheid
wat soos wind in my kop dwarrel
die sole van my skoene
voel soos vuur kole en
die gebieb en serene
in my ore
Het ʼn mense lewe dan ʼn prys???
om dit opsy te stoot en
iemand te los vir die dood
dis iets wat binne my krap
dis iets wat pla.
want volgens my is dit nood
ek word stil en delf in my
hart en daar vind ek ʼn
passie ek sal volhard
ʼn glas water of ʼn skoon
doek, ʼn glimlag of net
ʼn besoek dis die dinge
in die lewe waar na
ons nasie moet strewe.
Nadat ek die gedig gehoor het toe sy dit voorlees voel ek klein. Die werk in die kombuis is niks teenoor die leiding wat die pasiënte tans ervaar nie. Elke vrywilliger wat sy hand opsteek en iets doen help pyn verlig. Al is dit ʼn nuttelose takie wat jy gaan verrig het.
Toe ek uitstap stap ek vas in die gedans van die Nehawu en PSA-stakers.
Donderdag is daar op Solidariteitradio ook ‘n insetsel oor die hele hospitaal avontuur asook Doreen wat haar gedig voorlees.
- Blogger in die kombuis.
- Besig met die melk.
- Deel van die Solidariteitgroep.
- Doreen het 24 uur gehelp en nog ‘n gedig geskryf.
- Tyd vir ‘n dansie.
- Die stakers is kwaad vir die polisie.

















Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.