Een dag by die Steve Biko hospitaal

 

Blogger in die kombuis.

Ons was so groepie vrywilligers wat vandag aangemeld het vir diens by die Steve Biko  Akademiese hospitaal. Aan die einde van die dag het die groep vrywilligers gegroei tot 150. Hoe weet ek dit? Wel ons groep het in die kombuis geëindig en moes kosmaak. 

Luister Solidariteitradio.

Die groep het bestaan uit Solidariteitlede wat ingesluit het opgeleide susters en dan ook personeel van die vakbond en ander vrywilligers wat hul dienste via Facebook aangebied het. Die susters onder die vrywilligers wou gaan   uithelp in die teater maar die nood was nie so groot vandag nie.

Soos genoem  is ons groep kombuis toe gestuur. Hier is die volgende oggend se ontbyt voorberei. Ander lede van die groep het begin skottelgoed was. Vir ontbyt kry hul twee broodjies, botter, suiker en ʼn appel. Dit is verpak in ʼn bord. Tien borde op ʼn skinkbord en dan is die skinkborde in ʼn reuse trollie gesit.

Hierna het ek die melkspan getref. Jy neem ʼn twee liter melk en gooi dit in klein 250 ml houertjies in. Halfpad deur die operasie wys een van die ander spanne ons daarop dat daar lae-vet en volroom melk is. Die met die rooi doppie is volroom en blou is lae-vet. En die twee moet nie gemeng word nie. Bietjie laat.

Die skottelgoedwas-span het alles in een groot masjien gedruk en dit het die anderkant uitgekom. Toe ek naderstaan jaag hulle my weg want ek trap die vloere vuil.

Een van die vrywilligers wat ek daar raakgeloop het was Doreen. Sy is opgelei om ambulans diens te verrig en het ook gehelp as vrywilliger. Op daardie stadium het sy meer as 24 uur gewerk. Sy het my ʼn gedig gewys wat sy die vorige aand geskryf het. Hier is dit:

Doreen se gedig

In my swakheid en in my moegheid
Vind ek vrede in my hart om
Te weet ek doen goed.
ʼn 12 Uur skof sonder loon
om my naaste by te staan
wat in hierdie staking moet boet
die geluide van monitors en
die gekreun van ʼn man met
ʼn gebreekte been, die histeriese
huil en ʼn moeder wat ween
die chaos in die ongevalle
met personeel wat ongeduldig
skarrel en die moegheid
wat soos wind in my kop dwarrel
die sole van my skoene
voel soos vuur kole en
die gebieb en serene
in my ore

Het ʼn mense lewe dan ʼn prys???
om dit opsy te stoot en
iemand te los vir die dood
dis iets wat binne my krap
dis iets wat pla.
want volgens my is dit nood
ek word stil en delf in my
hart en daar vind ek ʼn
passie ek sal volhard
ʼn glas water of ʼn skoon
doek, ʼn glimlag of net
ʼn besoek dis die dinge
in die lewe waar na
ons nasie moet strewe.

Nadat ek die gedig gehoor het toe sy dit voorlees voel ek klein. Die werk in die kombuis is niks teenoor die leiding wat die pasiënte tans ervaar nie. Elke vrywilliger wat sy hand opsteek en iets doen help pyn verlig. Al is dit ʼn nuttelose takie wat jy gaan verrig het.

Toe ek uitstap stap ek vas in die gedans van die Nehawu en PSA-stakers.

Donderdag is daar op Solidariteitradio ook ‘n insetsel oor die hele hospitaal avontuur asook Doreen wat haar gedig voorlees.

Geen verwante artikels nie.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Sam

    Dit was beslis ‘n ervaring soos min – n klein oomblik maar groot herinneringe. Ons het ongelooflike wonderlike mense ontmoet . Almal met n gedeelde doelwit – kom ons help ander wat nie hulself kan help nie. Baie dankie aan almal vir hul onbaatsugtige deelname.

  • Flip van Rensburg

    Dankie aan almal wat betrokke is om lewens te red, julle is sterre …:flip

  • Tina

    Hierdie staking laat koue rillings langs my ruggraat afgaan. Wat het geword van verpleegpersoneel se etiese standaarde? Verpleging is immers ‘n diens beroep. Omgee. Loop die spreekwoordelike tweede myl (en dikwels baie meer!!). Maar deesdae…. net vreemd dat die eens baie streng Raad op verpleging tjoepstil is te midde van alles wat gebeur. Dalk hoor ons net ‘n klein deeltjie in die media??
    Net die naweek gedink aan Henriette Stockdale (laat 1800′s) se harde werk om registrasie van verpleegpersoneel daar te stel. (en dit was ‘n wêreld eerste!!!) Om die publiek te beskerm!! En dis daarby vanjaar die jaar van die verpleegster (200 jaar na Florence Nightingale)……en kyk hoe gaan dit nou met verpleging in SA. Nie wat hierdie twee dames van weleer ooit kon van droom nie. Hoe lyk die pad vorentoe vir verpleging in SA….???

  • Andre

    Baie mooi aan al manne en manninne wat hulle weg opgesien het om bystand te verleen.
    Selfs tydens ʼn oorlog word mediese hulp nie geweier aan siek en beseerdes nie.
    In hierdie “Nuwe” Suid Afrika word pasiënte weg gejaag ten spyte van ʼn eed wat verpleegkundiges aflê.
    Daar is genoeg ordentlike mense oor in die Land wat nog omgee vir hulle naaste, en die moed van hulle oortuiging het om ʼn verskil te maak.
    Laat hulle staak tot die perde horings kry en gee werk aan mense wat wil werk en ʼn verskil kan maak

    Andre

  • Louis

    Reint,

    ja, as ek so kyk na die foto’s en die vrywilligers wat tot 150 aangegroei het, is dit wonderlik om de volgende te kan se: die Afrikanervolkie het nie groot geword nie, maar ons het wel ietsie geword deurdat ons bereid was om iets self te doen te midde van teenkanting, ons het nie die heeltyd eise gestel om ons plek in die son af te bedel om om dit op tie eis nie, ons het sommer deur hard te werk en vir min vergoeding ‘n land geskep wat deur die hele wereld op ‘n stadium mee rekening gehou is. waar is ons moed en durf heen, soos die bekende liedjie: “My Vader was ‘n musikant, ‘n man van durf en daad”. Ons moet die nietige dinge agterlaat en ons uitstrek na die ewige dinge wat werklik saak maak. Groete en hou aan met self-doen.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube