“Double dip” vir engiemand?

Nee, dit is nie ʼn uitnodiging om roomys te gaan eet nie! Die begrip “double dip” verwys na die moontlikheid van ʼn tweede afswaaiperiode kort nadat die ekonomie ʼn groeiperiode binnegegaan het.

In geheel het die wêreldekonomie gemiddeld in die tweede kwartaal van 2009 van inkrimping na groei omgeswaai. Hierdie groei was in vele lande merkwaardig skerp, met die grafieke wat in die vorm van ʼn V geteken word, eerder as ʼn U of ʼn L.

Suid-Afrika, tesame met ʼn hele paar ander lande, was in die tweede kwartaal egter nog nie by die draaipunt gewees nie, maar ons sal na alle aanduidings op die laatste in die vierde kwartaal weer by die groeiers aansluit.

Daar is egter nou wêreldwye bekommernis oor watter vorm hierdie groeitydperk oor die langtermyn gaan inneem en hoe volhoubaar dit sal wees. Aan die een kant bestaan die potensiaal vir goeie en snel groei as gevolg van die groot hoeveelheid industriële kapasiteit wat ongebruik lê. Dit beteken dat dit nie nodig is om nuwe kapasiteit te bou om produksie te laat groei tot op ten minste die vlakke voor die resessie nie. Aan die ander kant is daar egter ʼn groot vraagteken oor die vermoë van veral Westerse verbruikers om dié produksie op ʼn volhoubare manier te kan absorbeer. Om eenvoudig terug te keer na skuld-tot-inkomsteverhoudings van meer as 100% in Amerika gaan geen probleem oplos nie. Dit is verbasend genoeg tog wat sekere ekonomiese beleidsmakers in Amerika op die oomblik aanbeveel!

Hierdie teenstelling is een van die faktore wat die moontlikheid van ʼn “double dip” skep. Daardie moontlikheid word aangewakker deur veral fiskale stimulering soos die “cash for clunkers”-skemas (skrappingsprogramme met finansiële aansporings om ou voertuie in te ruil vir ʼn nuwe, brandstofdoeltreffende voertuie) wat in Duitsland begin is, maar uitgebrei het na feitlik alle Westerse lande. Hierdie tipe stimulering, waar subsidies vir ʼn relatief kort tydperk gegee word, is nie so ontwrigtend soos permanente maatreëls nie. Dit kan egter veroorsaak dat sekere ekonomiese “seine” wat uitgestuur word, misleidend word. Indien produsente soos normaalweg op hierdie seine reageer, bestaan die moontlikheid dat produksie te vroeg te hoog opgejaag kan word, wat sal lei tot ʼn tweede korreksie in die vorm van ʼn afswaai – die sogenaamde “double dip”- of W-vormige scenario. Een van die persone wat die aard en omvang van die ekonomiese krisis van 2007/2008 redelik akkuraat voorspel het, Nassim Taleb, het juis onlangs genoem dat hy ʼn sterk waarskynlikheid van ʼn “double dip”-scenario sien vorm.

Daar is egter ook ʼn ander manier hoe die teenstelling tussen ongebruikte industriële kapasiteit en onwillige verbruikers kan uitspeel. Die moontlikheid bestaan dat sekere produsente steeds baie versigtig bly, terwyl andere wel die risiko neem en hul kapasiteit weer ten volle begin benut. Dit sal aanleiding gee tot ʼn meer gebalanseerde, volhoubare situasie, waar groei minder skerp is, maar wat pas by die veranderde gewoontes van verbruikers en nie ʼn tweede reeks kredietgedrewe bate- en kommoditeitsprysborrels veroorsaak nie.

Suid-Afrika is natuurlik steeds ʼn gevangene van sy eie strukturele probleme, soos elektrisiteitsvoorsiening (wat tot ten minste 2012 gaan voortduur), lae vaardigheidsvlakke in die arbeidsmag (wat selfs nog langer gaan voortduur indien die regte stappe nie nou dadelik geneem word nie), en geweldsmisdaadsvlakke (wat wel in per capita-terme verbeter, maar steeds te hoog is). Enige van hierdie plaaslike faktore maak ons meer vatbaar vir ʼn “double dip” as wat in die meeste ander ontwikkelende lande die geval is. Optimisme is geregverdig en Suid-Afrika verlaat definitief die donker tonnel van die afgelope 12 maande, maar pasop tog vir ʼn internasionale “double dip” se gevolge in hierdie land!

Geen verwante artikels nie.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube