Dink 10 minute ‘n dag

Elkeen het drome, elkeen begeer ‘n groot grasdak huis of ‘n Toskaanse-styl strandhuis. Dalk soek jy ‘n Z4, M3, R2 of ‘n Audi. Wat van jou liefdeslewe? ‘n Verhouding waar jy elke oggend giggel van die plesier en elke oomblik geniet asof dit jou laaste is, waar iemand jou ondersteun, lief het en saam jou stokoud word. En geld, om te kan toer. Italië, Brasilië, Hongarye, Argentinië, Australië en Orania. Wat van jou geloofslewe? Wil jy op ‘n stadium wees waar jy pligsgetrou Bybelstudie doen, aan ‘n kerkgemeenskap behoort en werklik voel asof jy elke dag deur die heilige gees gelei word? Wil jy jou besigheid hê? Jou eie eiland of jou eie kinders? Die geheim is om die dinge wat jy so graag wil hê en wil bereik, te visualiseer.

Jou brein en onderbewussyn skep jou emosies, jou denke, jou aksies en op die ou end jou werklikheid. Daarom, as ons iets wil hê moet ons dit eerstens besluit. Daarna moet jy al jou sintuie gebruik om die werklikheid wat jy wil hê ‘n realiteit te maak. Stap 1: Maak jou oë toe en visualiseer hoe jy jou lewe oor 10 jaar wil hê, dink aan die detail, aan elke aspek van jou lewe. Kom ons gebruik die voorbeeld van ‘n droomhuis. Sien die huis wat jy wil besit, die kleur, die tuin, die swembad en elke aspek daarvan. Stap2: Sien jouself in daardie huis. Dink oor gelukkig jy voel wanneer jy by jou motor uitklim en in so huis kan instap. Dink jouself in en voel hoe gelukkig en opgewonde dit jou maak. Stap3: Glo by jouself dat jy hierdie huis gaan besit, weet dat dit moontlik is. Glo dat God jou drome wil verwesenlik. Herhaal dan hierdie stappe op ‘n daaglikse basis en jou onderbewussyn sal aanvaar dat dit die rigting is waarin hy jou moet neem. As jy glo en weet wat jy wil hê, sal jy dit kry.

Dit is ook nou gekoppel aan geloof. God wil vir ons oorvloed gee in elke deel van ons lewens, so waarom vra ons nie daarvoor nie? Skep die prentjie in jou kop en jy sal agterkom dat jou aksies en jou optrede so gevorm sal word dat jy jouself in die regte rigting stuur sonder dat jy dit besef. Dit mag dalk klink soos ‘n lawwe oefening, maar as daar ‘n kans is dat tien minute se dink ‘n dag jou lewe kan verbeter, hoekom dit nie dan probeer nie?

Luister elke week Perspektief op www.solidariteitradio.co.za om wenke oor inspirasie, geld, kinders en doen-dit-self werkies in en om die huis te kry. Luister elke Vrydag om 12:00 na i nuwe program en laai sommer nou die insetsels van die webtuiste af.

Geen verwante artikels nie.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Betsy

    Depressie,Bipolar, dood van albei my ouers, 3 egskeidings, ‘n huwelik van 5jr waarin my man toelaat dat sy 2 kinders my vloek en skel en selfs goed steel en dan vat hy heeltyd hulle part. Ek visualiseer al 10 jaar lank wat en waar ek in my lewe wil wees. Ek moet erken die tyd raak min, want op 44 is my veglus geblus deur mense in die lewe. Ek is al 18jr op antidepresante en ek weet dit help nie meer nie. Ek wens ek kon weer glo soos toe ek op 17 tot bekering gekom het, maar dit alles is weg. JE Potgieter ek weet presies waarvan jy praat as jy nogsteeds oor jou ma treur. Vir my voel dit asof ek nie meer ‘n “huis” het waarheen ek kan teruggaan nie, ek mis die oproepe wat ek elke tweede dag na hulle gemaak het, dit het my laat voel dat wat ookal in die lewe gebeur, my ouers is altyd daar, nou is hulle nie meer nie. Die enigste rede hoekom ek nog hier is is my pragtige seun wat 18jr oud is. Ek wil nie op hierdie delikate ouderdom sy lewe verwoes deur selfmoord nie, ek dink 3 egskeidings het genoeg skade gedoen.

    Rykdom is nie ‘n sonde nie! Ek wil ook genoeg geld hê sodat ek nie vir my man hoef te werk nie, sodat ek op my eie kan aangaan sonder om elke dag te moet hoor hy moet vir my en my “bliksemse” kind sorg. Ek wil ook weer erkenning hê en ondersteuning vir die briljante werk wat ek lewer. Iemand wat vir my sê: Dankie dat jy hier is en dankie dat jy ‘n unieke mens is en dankie vir die werk wat jy lewer.

    Ek wil skatryk wees sodat ek nie my kind se pa hoef te smeek vir onderhoudgeld sodat hy sy diploma kan klaarswot nie. Ek wil nie meer stoksiel alleen wees in alles wat ek doen nie en as dit dan my “destiny” is om nooit gelukkig te wees nie, wil ek ten minste skatryk wees sodat ek alleen kan aangaan sonder om afhanklik te wees van ander vir werk en geld.

    Ek was by Dr John Demartini se kursusse in JHB waar hy beweer die lewe het ‘n balans en moet altyd in balans wees anders kan die lewe nie werk nie. Ek het na die SECRET geluister en ek lees my Bybel en vra vrae en praat met GOD, want dit is die enigste met wie ek kan praat, maar alles bly ‘n gemors.

    JE Potgieter, ek is verskriklik bang en beangs en is gedurig hartseer want ek weet nie wat volgende gaan gebeur nie, maar een ding weet ek vir ‘n feit. Ek sal nie selfmoord pleeg nie, want ek is te bang ek mis uit op die dag as my drome waar word.

  • Jan Venter

    Beste JE Potgieter,
    Daar is behalwe medikasie ander hulp vir depressie. Moenie bly by die persoon wie jou net met medikasie wil help nie.

    Wat die verlies van jou moeder betref. my innige simpatie. Ek het in Februarie hierdie jaar my geliefde vrou aan die dood afgestaan na amper 35 jaar se saamwees. Daar is nog altyd die hartseer en verlange maar daar is soos JP Satre hierbo sê net die Goddelike liefde waaraan ons kan vashou. Jou troos moet wees dat God sy doel met haar op hierdie aarde bereik het en daarom is sy opgeneem in Sy hemelwoning. Vir die gelowige is daar lewe na die dood, ‘n lewe sonder pyn, hartseer en bekommernisse. Al wat ek ook kan sê is sterkte en ek dra almal wat in rou is daagliks in die gebed op aan Hom wat beskik oor lewe en dood.

  • jp satre

    @JE POTGIETER: My liewe vriend, my hart gaan eerlik uit na jou toe. Soveel mense na aan my, het met depressie geworstel en ek het heeltemal te veel respek vir jou en die uitdagings van depressie om jou te adviseer. Ek sien ook soveel mense afsink in depressie. My innige simpatie ook met die verlies van jou moeder: ‘n ma is die skuiling wat ons dink altyd daar is. Die enigste rede vir my reaksie op jou kommentaar is om te sê: jy is nie alleen nie en iemand het jou vanoggend gehoor en het geluister. Nee, dis ook nie ‘n goeie daad vir die dag nie, aangesien goedheid slegs betoon kan word indien die ontvanger werklik geen mag het nie. Solank daar iets is wat die ontvanger vir die gewer kan doen, is dit nie goedheid nie, want dalk soek hy iets terug. Wonderlik, Goddelike liefde: daar’s regtig absoluut niks wat ons terug kan doen nie, absoluut, absoluut niks. Ons is magtelose ontvangers, soos die sweet wat jy van ‘n boemelaar se voorkop afvee op sy sterfbed. Iemand bekend skryf dat “the meaning of life, is that it ends”. Selfs vir my as gelowige, is daar waarheid in. Baie sterkte, liewe JE Potgieter, ek dink aan jou.

  • jp satre

    Nog ‘n bietjie slim rykdomsleer waarvan die massakerke vol word? “God sal jou finansiële drome laat waar word – betaal hier asb”! Nee, nee, nee. Waar is die tentwoning, waar is die pa en ma verlaat, waar is die oog van ‘n naald … Kom ek vra die vraag omgekeerd: wanneer begin die ewige lewe?

  • JE POTGIETER

    HOE KAN EK VAN MY DIEPE DEPRESSIE ONTSLAE RAAK? MEDIKASIE DOEN DIT NIE MEER NIE EN EK ROU NOG OOR MY MA SE DOOD NOVEMBER VERLEDE JAAR. HOE SURVIVE ‘n MENS?




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube