Die verlede ‘n wapen om ons toekoms te vernietig

Rapport berig dat Zuma oorweeg om Eugene de Kock, groot apartheid soldaat, vry te laat as hy belowe om “regses” te jag. So ook 300 IVP gevangenis wat toegesluit is vir politieke misdade. In die skadu van hierdie gebeure sal Shabir Shaik (korrupsie koning) ook kwytgestel word. Hierdie land maak my siek!

Volgens Zuma, bewys hy ‘n guns aan die Afrikaner om vir Eugene te laat gaan. Hier is die (ras)sionaal: Laat een ekstreme Afrikaner vry wat swart mense met grawe doodgeslaan het in apartheid in ruil vir 300 Zulu’s wat gemoor het onder die vaandel van die IVP vlag vir die doel om ”demokrasie” te bewerkstellig. En net om dit regverdig te maak laat ons ‘n korrupsie magnaat ook vry wat met belastingbetalers se geld rondry in sy Z4 BMW. En dan word daar tien teen een weer duisende gevangenis vrygelaat op Mandela se verjaarsdag ook.

Eugene de Kock het gedoen wat van hom verwag word, nadat hy uitverkoop is deur sy Vlakplaas-kollegas, het hy hulle uitverkoop. Hy het sy gruweldade erken en tot sleg gevoel oor wat hy gedoen het. Hoekom is ANC militêre kamerade amnestie belowe? Dit terwyl Kerkstraat bomme geplant is en enige Jan Rap sonder ‘n ANC lidmaatskap kaartjie aan die brand gesteek is. Maar darem is dit onder die naam van “demokrasie” gedoen. Ek moet ook bieg dat ek glad nie apartheid goedkeur nie, maar dat ek wel voel dat mens nie vir “demokrasie” veg op ‘n manier wat jy die konsep van demokrasie diskrediteer nie. Dieselfde geld vir enige een wat in opstand wil kom teen ‘n regering.

Is dit eties dat ‘n nuwe regering mense vervolg van ‘n vorige regering? Is dit reg dat die ANC nou internasionale maatskappye soos IBM aanklae omdat hulle besigheid gedoen het met die NP regering? Ek het nie die antwoorde nie, maar dit maak my kwaad.  

Rubrieke wat ek ongelukkig raak gelees het, vertel van hoe Eugene de Kock ‘n individu is wat afgryslike dinge gedoen het en nie gesien moet word as ’n Afrikaner wat ‘n bydrae gemaak het tot die geskiedenis nie, dat hy nie erken moet word as ‘n Afrikaner nie en sy vrylating nie as ‘n geskenk nie. Sekerlik so, maar goed of sleg is dit deel van ons geskiedenis. ‘n Man (blykbaar kenmerkend vir sy kort humeur) wat as die grootste apartheid soldaat gebrandmerk is, wat in sy vrye tyd Vigs in Hillbrow wou versprei, het ‘n deel van die geskiedenis gevorm. Of Afrikaners dit wil hê of nie, elke man wat bydra tot die vorming van die volgende generasie is deel van jou geskiedenis. 

Moet al die ou AWB manne, met bomplant as beroep, ook vrygelaat word as IVP en die ANC se geesdriftige bomplanters  kwytgeskel word? Moet enige iemand vrygelaat word? Of  Zuma net politieke speletjies speel om sy vrouens te beïndruk en of Eugene de Kock se beloftes oor nog geheime inligting waar is, weet ons nie. Wat ek wel kan sê is dat die jag na die verlede se swart skape vir niemand ‘n nuwe nasie trots gevoel gaan kweek nie, dat geen uitspraak van die Waarheid en Versoenings Kommissie (WVK) mense skielik nader aan mekaar gaan bring nie en elke generasie self verantwoordelikheid moet neem vir sy tyd, op sy tyd. 

Zuma, as jy tronk bewaarder wil speel en elke ANC en elke  Zulu wil vrylaat wat “dit gedoen het vir vryheid en demokrasie”, dan moet jy al die ekstreme “regses” vrylaat wat al ooit gemoor het onder die naam van ideologie of politiek. Beter nog, laat staan die soektog na versoening deur middel van die vrylating van regime vegters en verwyder eerder regstellende aksie en grondhervorming as ‘n versoeningsgebaar.

“As een Afrikaner bereid is om vir Afrika te sterf, hoe durf ‘n ander Afrikaner neutraal bly”

1 Reaksie op “Die verlede ‘n wapen om ons toekoms te vernietig”


  1. 1 michael

    Het u al ooit daaraan gedink dat Rapport lieg of is hulle “bronne” absoluut korrek.Hoekom ondersoek ons nie die bron van die snert nie.In alle geval,wat is ‘n “regse”.Wat was jy in 1994?Michael

Lewer Kommentaar




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube