
Rina Vrey (78), wat tydens president Zuma se besoek verlede maand die Helpende Hand Afrikaner Armoede-verslag aan hom oorhandig het.
President Jacob Zuma kan een ding sê net om die volgende dag ʼn handomswaai te maak op sy mening. Hy sal vir Julius Malema berispe net om hom te los as daar tugstappe moet kom. Hy sal staatsdiensamptenare waarsku om nie vir “apartheid” die skuld te gee nie, net om in sy volgende toespraak te vertel dat apartheid gelei het tot swartes se ekonomiese agterstand.
Zuma sal ʼn nasionale MIV/Vigs veldtog loods net om met begerige oë na die danseresse te loer.
So het Solidariteit se Helpende Hand ʼn stel met hom afgetrap toe hy met agt ministers opgedaag het by ʼn klomp arm-blankes en die son, maan en sterre belowe het. ʼn Maand verder en niks het gebeur nie.
Lees Afrikaner Armoede verslag en brief oor Afrikaner-lyding aan president Zuma.
Beeld berig. Danie Langer vertel die storie op Radio Pretoria.
ʼn Maand ná besoek bly Zuma se beloftes leeg
President Jacob Zuma, agt kabinetministers en verskeie regeringslui het op 30 Maart tydens ʼn besoek aan die informele nedersetting Bethlehem meer as 1 000 arm wittes opnuut verseker dat daar vir hulle staatshulp beskikbaar is. Dit is reeds byna ʼn maand later en steeds is daar geen hulp vir hulle nie, het Solidariteit Helpende Hand gesê.
Volgens dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, het die organisasie reeds inligting ingewin oor verskeie voorvalle waar arm wittes toegang tot die beloofde staatshulp geweier is.
Rina Vrey (78), wat tydens president Zuma se besoek verlede maand die Helpende Hand Afrikaner Armoede-verslag aan hom oorhandig het, is kort na die besoek ingelig dat haar aansoek vir ouderdomspensioen vir die derde keer afgekeur is. Haar aansoek is intussen eers ná direkte korrespondensie met die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Edna Molewa, op 21 April goedgekeur.
“Tydens ʼn besoek wat Helpende Hand onlangs aan Sassa se kantore gebring het, is Helpende Hand ingelig dat die aansoeke vir vanjaar se voedselkoepons ter waarde van R1 080 reeds op 31 Maart, ʼn dag na die president se besoek, gesluit het. Beverly Maunatlala, ʼn inspekteur by Sassa, het by navraag oor president Zuma se beloftes dat arm wittes nou vir die koepons kan aansoek doen, gesê die president weet nie wat in hulle begroting aangaan nie. Maunatlala het ook beklemtoon dat die koepons net in Maart uitgedeel is,” verduidelik Langner. Volgens haar is die “voedselkoeponstelsel korrup.”
Intussen het meer as 70 ma’s wat op 30 Maart aansoek gedoen het vir die voedselkoepons steeds geen terugvoer in die verband ontvang nie. Helpende Hand het onlangs Sassa se kantore saam met verskeie van dié ma’s besoek om die aansoeke op te volg, maar is ingelig dat die aansoeke reeds gesluit het. Talle van die aansoekers het al sedert 2008 soveel as drie keer onsuksesvol vir voedselkoepons aansoek gedoen.
“Ek wag al twee jaar vir die beloofde voedselkoepons. President Zuma het ons reeds tydens sy besoek in 2008 voedselkoepons beloof. Ek was al hoeveel keer by die welsynskantore, maar elke keer is daar een of ander verskoning,” sê Irene Erasmus ʼn gemeenskapsleier van Elandspoort.
Volgens Langner is amptenare van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling verlede maand uitgekryt as rassisties toe hulle voedselkoepons aan arm wittes wou uitdeel.
Langner sê Helpende Hand is uiters bekommerd oor ʼn duidelike oningeligtheid van inspekteurs by Sassa oor die kwessie van wit armoede.
Maunatlala het gesê die werknemers van Sassa weet nie waar die informele nedersettings van arm wittes in Pretoria is nie. Daarbenewens blyk dit uit gesprekke met personeel dat die agentskap net in swart gebiede werksaam is.
Hoewel Helpende Hand daagliks oorval word met klagtes van siekes, gestremdes en bejaardes van regoor Suid-Afrika wie se aansoeke vir ongeskiktheidstoelaes keer op keer afgekeur word, blyk daar steeds geen uitkoms vir hulle te wees nie. Verskeie aansoeke vir onder meer ongeskiktheidstoelaes vir arm wittes word telkens afgekeur. “Die rede vir die afkeur van aansoeke is in baie gevalle onduidelik en in sommige gevalle word die rede bloot as ‘for other reason’ aangeteken,” sê Langner.
Intussen het Helpende Hand by verskeie staatsbronne verneem dat daar steeds geen besigheidsplan opgestel is om die toenemende armoede onder wittes in Pretoria aan te pak nie.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.