Ek het gister weereens tot die gevolgtrekking gekom. Op Suid-Afrika se paaie is daar ‘n lewensgevaarlike virus, genaamd padvarke. Padvarke wat met een doel in hul motors klim en dit is om so ongeskik, onbeskof, onbedagsaam en sommer net onverantwoordelik as moontlik te wees. En wat laat hulle agter? ‘n Pandemie van padwoede. En maak iemand kwaad genoeg op die pad en hy verander ook in ‘n padvark. ‘n Pandemie…
Ek ry gister werk toe. Presies 80, die spoedbeperking. En ook maar goed so, want toe ek om die draai kom, sien ek die verkeerskonstabels by die volgende draai. En jou wraggies, daar kom ‘n taxi met ‘n los “bumper” en bande in ‘n bedenklike toestand, teen ‘n stink spoed verby my gejaag – by ‘n toe lyn – en veroorsaak amper ‘n kop-aan-kop botsing met ‘n aankomende voertuig. Almal toet. En wat doen die bekwame verkeerskonstabel? Waai vir die taxi en trek my af om my lisensie te besigtig. WAT?!!!!
En daar is ek sommer op die daad woedend. En al die pad werk toe wil ek nie vir ander plek gee nie en ek verskreeu elke lorrie-bestuurder wat 60 ry in ‘n 120-sone. Toe ek by die werk stop het ek eers 5 minute gesit en myself gedwing om te kalmeer. Want hoe maklik gebeur dit nie dat een insident, soos die, jou hele dag bederf nie? Hoekom gee ons ander soveel mag?
Ek het vanoggend ‘n plan gemaak. ‘n Rustige CD aangesit en die taxi’s wat onwettig verby jaag probeer ignoreer. Ek gaan van nou af my bes probeer om nie toe te laat dat ‘n padvark my aansteek en ook ‘n gevaar op die pad maak nie. Dit is immers hulle wat een van die dae die spit gaan afbyt. En wat die simpel verkeerskonstabel van gister aanbetref? Shame! Hy is seker blind. En hoewel my bloeddruk nog dikwels op die lang pad huis toe die hoogte wil inskiet, begin ek dan maar liewers klip hard saamsing.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.