Vir miljoene mense regoor die wêreld is lande soos Nederland die land van melk en heuning. Die welvaart is oral sigbaar: die land is baie goed georganiseer en lyk meestal netjies en die maatskaplike vangnet is baie groot. Maar hierdie welvaart is relatief. Volgens ʼn artikel in De Volkskrant is daar ook in Nederland honderdduisende mense wat arm genoem kan word. Die opvallendste aspek is egter dat hulle werk het. En dit geld ook nie net vir laag opgeleide buitelanders nie.
Die rede? Toenemende internasionale mededinging en ʼn owerheid en ondernemings wat as gevolg van die ekonomiese krisis moet besnoei. Dus stel hulle meer en meer tydelike werkers aan. Hulle word hier fleksiewerkers genoem.
Laat ons eerstens kyk na Joris Leijten. Hy is ʼn posbode. In vroeër jare was dit ʼn gerespekteerde, voltydse werk. Maar die voormalige staatsbeheerde posbedryf is nou geprivatiseer en moet wins maak. Te midde van tegnologie soos die internet en iPods wat gewone pos vervang, besnoei die posdiens nou op vaste werkers terwyl hulle dienste toenemend aan ander ondernemings uitbestee word.
Nou is Joris ʼn fleksiewerker wat 16 uur per week werk. Vir elke posstuk wat hy aflewer, ontvang hy vyf sent, wat neerkom op 370 euro per maand – d.w.s. minder as die Nederlandse minimumloon. Joris sê jy moet baie vinnig loop om te verhoed dat jy van die honger omkom! (Terloops, onthou dat die binnelandse koopkrag van die rand hoër as is dié van die euro en dat die pryse in Nederland ook hoër is as in Suid-Afrika.)
En om alles te kroon, kan Joris weens die tydelike aard van sy werk geen pensioen opbou nie en hy het geen reg op werkloosheidsversekering as hy siek word nie. Van indiensopleiding is daar hoegenaamd geen sprake nie.
Kenners voorspel dat hierdie stand van sake sal voortduur en dat die verskille in die arbeidsmark net erger sal word. Vroeër kon jy nog as skoonmaker vorder tot die vlak van toesighouer, maar nou is daardie skoonmaker nie meer deel van die bedryf nie want sy werk is uitbestee.
Vakbonde is ook magteloos en doen ʼn beroep op ondernemings om arbeidskontrakte te eerbiedig.
Klein selfstandige ondernemers soos palingvisser Gaele Postma het skynbaar ʼn redelik goeie inkomste, maar hy en sy vrou werk tot tagtig uur per week. Boonop moet ʼn groot deel van hul inkomste in die onderneming belê word. Bowendien het die Europese Unie so baie reëls dat die mededinging van buite Europa moordend is.
Regdeur Europa is daar dus miljoene mense wat hulle elke maand afvra of hulle genoeg verdien om kos te hê tot die einde van die maand. Hulle leef ook voortdurend in onsekerheid omdat hulle enige dag ontslaan kan word. En veral: dit is byna onmoontlik om uit daardie put te klim. Hierdie mense is ook nie belangrik genoeg vir die politici nie. Niemand luister na hulle nie. Suid-Afrikaners sal hul posisie kan verstaan!
Daar is darem een positiewe aspek: hulle het werk en dus selfrespek. Soos ʼn skoonmaker opmerk: “Dit is miskien die laagste van die lae poste, maar ek verdien my geld eerlik. En daarop is ek trots.”
Vergeleke met baie Suid-Afrikaners – wit, bruin en swart – is hierdie mense miskien nie regtig arm nie, maar hulle is dit wel relatief tot hul eie samelewing.
En dus is die land van melk en heuning maar eintlik net ʼn lugspieëling.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.