Die kern van demokrasie is dat almal verteenwoordig en gehoor moet word, en nie net die meerderheidsparty nie. ‘n Politieke party hoef net 1% steun te hê om Parlementêre verteenwoordiging te kry, omdat die wese van demokrasie insluiting is wat op die beginsel van vryheid van assosiasie berus.
Dít word as vanselfsprekend aanvaar in die politieke demokrasie, en iemand wat sou voorstel dat nét die meerderheidsparty verteenwoordiging kry sal as ondemokraties en belaglik beskou word. Selfs Mugabe laat opposisiepartye toe. Maar in die Nywerheidsdemokrasie is dit soms anders. Dáár is ‘n groeiende aandrang uit sekere kringe dat net die meerderheidsvakbond in die werksplek erkenning moet kry.
Dit sal beteken dat waar ‘n party parlementêre verteenwoordiging kan kry met net 1% steun, mag net ‘n vakbond wat meer as 50% van werknemers verteenwoordig erkenning kry. Dit spruit uit die “one industry one union” 1985 beleid van Cosatu wat plek-plek deur sekere vakbonde bepleit word. Hierdie beleid het sy oorsprong in die kommunistiese era, met sy stelsel van een land, een party en een vakbond. Vakbonde se doel was om die klassestryd in die werksplek te stry, in ‘n tyd toe die “werkersklas” gesien was as die enigste geldige groepsvorming van werkende mense.
Werklikheid
Maar die Kommunisme het juis ingeplof omdat dit met die werklikhede gebots het. Daarom maak ons land se Grondwet voorsiening vir groepsvorming volgens vrye assosiasie, en is ‘n stelsel wat almal in een vakbond wil indwing net so ongrondwetlik as ‘n eenparty stelsel op politieke gebied. Vrye assosiasie is ‘n kerndeel van demokrasie, omdat mense uiteenlopende sienings oor die politiek, ekonomie en vakbonde het. Demokrasie beteken juis nie dat almal moet saamstem en aan een organisasie moet behoort nie, dit gee almal juis die reg om te verskil en om self te besluit waar hulle wil aansluit.
Vakbonde wat hulle mag, ledetal en inkomste kunsmatig wil verhoog deur die wet te probeer misbruik om werknemers teen hulle sin te probeer dwing om by hulle aan te sluit, tree lynreg teen die gees van die demokrasie, die grondwet en die Internasionale Arbeidsorganisasie op. Hulle probeer die wet misbruik om te doen wat hulle nie deur demokratiese ledewerwing kan regkry nie, en ‘n ideologie voorkeur oor die belange van werknemers geniet.
Nadelig
Dit is tog onmoontlik om in ‘n demokratiese land ‘n ondemokratiese een vakbond arbeidsmonopolie te hê. Net soos ‘n eenparty politieke demokrasie rampspoedig vir die land sal wees, sal ‘n eenvakbond arbeidsbestel nadelig vir die land, die ekonomie en die demokrasie wees. Maar ‘n eenvakbond stelsel is erger, omdat die meerderheidsvakbond werknemers deur middel van ‘n agentskap ooreenkoms kan dwing om by hulle aan te sluit of om ‘n heffing aan die vakbond te betaal. Dit sal aan die meerderheidsvakbond die alleenmag in die werksplek gee, ten koste van ander belangegroepe, werknemers se reg op vrye assosiasie en diversiteit.
Wanneer so ‘n vakbond staak, is werknemers wat teen hulle sin moes aansluit deel van die staking al stem hulle nie daarmee saam nie. By sekere werksplekke waar daar reeds slegs een vakbond erken word is daar voorbeelde van onrealistiese hoë looneise en die uiteinde van ‘n staking ‘n korttermyn voordeel van ‘n dubbel syfer verhoging inhou. Die arbeidskoste gekoppel aan ‘n onrealistiese hoë loon verhoging lei egter automaties tot ‘n afname in indiensneming en self afleggings, waar die intree vlak werknemer in hoofsaak nadelig geraak word.
Politiek
Maar die impak van ‘n ondemokratiese arbeidsbestel strek verder as die werksplek. Cosatu is in ‘n formele alliansie met die Kommunistiese party, en ‘n stelsel wat werknemers dwing om by hulle aan te sluit, maak hom so indirek deel van die alliansie en verplig hom om ‘n organisasie te help befonds waarmee hy drasties mag verskil.
Gelukkig besef die meeste vakbonde en werkgewers dat so ‘n ondemokratiese stelsel uiteindelik ‘n wanbalans skep en nie in die beste belang van die land sal wees nie, maar het dit al gebeur dat ‘n werkgewer en ‘n vakbond saamspan om kleiner vakbonde uit te druk. Die verskoning is gewoonlik dat dit “makliker” is om net met een vakbond te werk.
Natuurlik werk ‘n eenparty stelsel “makliker”- maar ‘n demokratiese stelsel werk beter. Dit is in sekere gevalle moontlik makliker om net met een vakbond te onderhandel, maar die “prys” van demokrasie is juis deelname deur minderheidsgroepe ook. Dr Van Zyl Slabbert het mos gesê dat dit nie demokrasie is as die twee wolwe en die skaap met ‘n meerderheidstem besluit wat hulle vir middagete gaan eet nie! Selfs mnr Mugabe begin dit besef.










Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.