Wanneer ʼn produk of diens in ʼn transaksie van eienaar verwissel of gebruik word, moet daar daarvoor betaal word. Dit kan natuurlik deur middel van ʼn ruiltransaksie gebeur, maar in die moderne ekonomie is die algemene praktyk dat ʼn monetêre betaalmiddel – geld – gebruik word.
Wat “geld” presies is en nie is nie, is ʼn hele onderwerp op sy eie. Hier is slegs die aanvaarbaarheid van geld as ʼn waardedraer ter sprake. Iemand wat Suid-Afrikaanse munte en papiergeld in sy beursie het, kan feitlik seker wees dat dit in enige transaksie as ʼn betaalmiddel aanvaar sal word en dat almal op enige gegewe tydstip min of meer dieselfde waarde aan ʼn rand heg. Dit is een van die groot voordele van geld as ʼn betaalmiddel.
Die gebruik van so ʼn betaalmiddel gaan egter oor die algemeen gepaard met ʼn monetêre koste, iets wat mense dikwels nie besef of in gedagte hou nie. Afhangende van die presiese metode wat gebruik word, kan hierdie koste op die ou end ʼn aardige persentasie van die volle prys van ʼn produk of diens uitmaak.
Lees verder ‘Die koste van betaalmiddels’
