‘n Afrikaner is nie ‘n boer nie, maar ‘n boer is nogsteeds ‘n Afrikaner, maar ‘n Afrikaner kan boer solank hy homself net nie’n boer noem terwyl hy net ‘n Afrikaner is nie. Dan is ‘n Afrikaner ‘n tipe bees en boer ‘n tipe bok. Maar soos die hoender en die eier weet ek nie wat was eerste nie, die boer of die Afrikaner?
Die term “boer” verwys blykbaar na ‘n “Afrikaner” wat toegewy is tot die “boervolk”, sal veg vir die “volkstaat” en alles in die stryd werp om “boerevryheid” te bewerkstellig. ‘n Afrikaner is iemand wat toevallig dieselfde herkoms, taal, velkleur, geloof en kultuur het as ‘n boer maar nie noodwendig homself beywer vir die vryheid en onafhanklikheid van die Afrikaner nie…of die boer nie.
Dan kan jy ook ‘n Afrikaanse wees, iemand wat Afrikaans praat maar nie gesien word as ‘n Afrikaner nie. Dit sluit natuurlik kleurlinge, swartmense, onwettige immigrante en verwarde Europeërs in. Om Afrikaans as ‘n eerste taal te hê maak jou ‘n “Afrikaanse”. Afrikaans as eerste taal met ‘n Westerse herkoms en ‘n ligte gelaat kan jou laat kwalifiseer as ‘n Afrikaner. As jy goue status as “boer” wil hê, dan moet jy meer oplees oor die “uitverkore volk”, “Israeliete” en “Siener van Rensburg”. Terwyl mens moet kop hou met al dié terme is jy nog ‘n Suid-Afrikaner ook. En dan begin die hele debat oor wat is jy eerste, ‘n Afrikaner of ‘n Suid-Afrikaner?
Ek is trots op my kultuur, trots op my herkoms, ek beywer myself vir die toekoms en die beskerming van Afrikaners. Ek staan op vir my saak, vir my beginsels, vir my volk en selfs vir my land ook. Ek is eerste ‘n Afrikaner wat toegewyd is aan selfwerksaamheid, tweede ‘n Afrikaanse wat trots is op sy taal en dit wil beskerm en derde is ek ‘n Suid-Afrikaner omdat ek hier woon en deel vorm van die Suid-Afrikaanse kultuur en ook trots is daarop.
H.A.T definisies:
Afrikaanse: Term wat gebruik word vir iemand wat hom of haar in die wydste sin met Afrikaans vereenselwig.
Afrikaner: Persoon is wat Afrikaans is deur geboorte of afstammeling, veral iemand wat Afrikaans as moedertaal het.
Boer: Skeld of prysnaam vir ‘n Afrikaner of vir die polisie.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.