Die gebrek aan ʼn statutêre verpligting op werkgewers asook vergoedingstrukture om gestremde werkers te rehabiliteer en by die arbeidsmark te herintegreer, belemmer die Suid-Afrikaanse ekonomie en lei tot armoede onder werknemers, het die vakbond Solidariteit vandag gesê.
Lees Pretoria News en Business Report.
“Suid-Afrika verloor ʼn groot aantal ekonomies aktiewe werknemers weens beroepsbeserings en -siektes. Statistiese data van die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) toon dat ʼn geraamde vyf persent van die globale bruto nasionale produk verlore raak as gevolg van koste wat met beroepsbeserings en -siektes verband hou. Vyf persent van die Suid-Afrikaanse bruto nasionale produk in 2009 verteenwoordig ʼn totale verlies van R121,2 miljard aan ekonomiese aktiwiteit,” volgens Paul Mardon, hoof van Solidariteit se beroepsgesondheid en –veiligheid afdeling.
“Behalwe dat hierdie werknemers nie meer ʼn bydrae tot die ekonomie kan lewer nie, verarm hulle weens onvoldoende vergoeding. Weens die gefragmenteerde vergoedingstelsel en te min klem op rehabilitasie in die wetgewing, word gestremde werkers toenemend in ellende gedompel,” sê Mardon.
Mardon sê voorts dat “die manier waarop vergoeding bereken word, nie voorsiening maak vir die verlies aan inkomstepotensiaal nie. R100 000 se vergoeding is ʼn skrale troos vir ʼn werknemer wat dieselfde bedrag jaarliks verdien het en wat nog vyf jaar sou kon gewerk het as hy nie ʼn besering opgedoen het nie.”
Nog ʼn struikelblok in die wetgewing is dat ʼn werknemer se inkomste ten tyde van ʼn ongeluk gebruik word as basis vir die berekening van die vergoeding wat aan hom verskuldig is, ongeag die datum waarop die werknemer daarop geregtig word.
Iemand wat 30 jaar gelede ʼn besering aan diens opgedoen het en as gevolg daarvan nie meer kan werk nie, sal op grond van sy salaris ten tyde van die besering vergoed word. Iemand wat R200 per maand verdien het ten tyde van ʼn besering, sal dus slegs ongeveer R1 040 eenmalig vir 15% permanente ongeskiktheid ontvang, alhoewel sy salaris vandag ongeveer R15 000 per maand sou gewees het.
Solidariteit doen ʼn beroep op die regering om ʼn nasionale beraad aan te bied waar verskeie belanghebbendes aspekte rondom vergoeding vir beroepsbeserings in Suid-Afrika kan bespreek. Solidariteit stel tans ʼn konsepwetsontwerp op wat in die nabye toekoms aan die regering voorgelê sal word vir spesiale oorweging.










Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.