Belastingkoerse en belastinginkomste

Dit is nie groot nuus om te hoor dat Suid-Afrikaners oor die algemeen baie swaar belas word nie. Inkomstebelasting kan maklik in die omgewing van 25% van die totale inkomste van ʼn middelklaspersoon wees. Op die nabelaste inkomste kom nog rofweg sowat 14% BTW op meeste produkte by. Dit werk uit op sowat 10% van totale inkomste voor inkomstebelasting. Ná hierdie twee belastings is 35 sent uit elke rand dus reeds deur die regering uit die salaristrekker se sak gehaal.

Verder is daar nog belasting op brandstof, heffings op eiendom, kapitaalwinsbelasting, belasting op rente-inkomste en groot belastings op motors. Daar is invoerbelasting op verskeie ingevoerde produkte. Om sekere produkte soos ʼn TV, ʼn motor of ʼn vuurwapen te kan besit, moet lisensiegeld en heelwat administrasiekoste betaal word. Daar is belasting op lugvervoer, op aftreegeld (dubbele belasting!), op oordrag van eiendom – so kan ʼn mens aangaan!

Daar is natuurlik ook dan die verskynsel van ʼn tipe dubbele belasting op ʼn indirekte wyse, aangesien baie van die dienste wat die staat met belastinggeld befonds, nie op ʼn aanvaarbare standaard is nie. Daar is natuurlik wel ʼn element van persoonlike voorkeur ook betrokke. Een ouer dink dalk dat ʼn staatskool nie goed genoeg is nie, en betaal ekstra om sy kind in ʼn privaatskool te sit, terwyl ʼn ander ouer met dieselfde vlak van inkomste dieselfde staatskool dalk as goed genoeg beskou. Hierdie “dubbele belasting” gaan natuurlik nie direk na die regering se sak nie, maar lewer wel indirek ʼn bydrae deur verhoogde BTW- en inkomstebelastinginkomste.

Lei die hoë effektiewe belastingkoers egter tot die hoogste moontlike belastinginkomste vir die regering, of kan ʼn laer koers nie dalk lei tot groter inkomste vir die staat en terselfdertyd tot meer geld in die belastingbetaler se sak nie? Dit klink dalk onmoontlik, maar dit is nie noodwendig so nie.

Die volgende denkeksperiment is in die moderne tyd deur die Amerikaanse ekonoom Arthur Laffer weer onder die wêreld se aandag gebring, hoewel verskeie antieke denkers lankal reeds die idee gehad het.

Gestel dat daar geen belasting gehef word nie. Ekonomiese aktiwiteit behoort op ʼn baie hoë vlak plaas te vind, omdat elke sent uit elke rand in die persoon wat die werk doen, se eie sak gesteek kan word. Die regering se inkomste uit belasting in so ʼn situasie is egter natuurlik niks. Gestel nou dat belasting gehef word teen ʼn effektiewe koers van 100%. Teen so ʼn koers sal ekonomiese aktiwiteit feitlik tot stilstand kom, of mense sal baie moeite doen om belasting te ontduik. Die regering sal dus ook geen belastinginkomste kry teen ʼn koers van 100% nie. Die ideale belastingkoers moet dus iewers tussen 0% en 100% lê.

Die eenvoudigste voorstelling van die Laffer-kurwe veronderstel dat belasbare ekonomiese aktiwiteit teen dieselfde tempo sal afneem as wat die belastingkoers toeneem. Prakties gesproke beteken dit dat iemand teen ʼn belastingkoers van 1% baie “ekstra sal insit” by die werk om soveel inkomste as moontlik te verdien, teen ʼn koers van 2% ook een persentasiepunt minder “ekstra” sal doen, totdat die persoon dalk later teen ʼn koers van 99% of 100% niks sal doen nie of slegs op die swartmark aktief sal wees. Die belastingkoers waar die regering die meeste inkomste sal kry, sal onder sulke omstandighede by 50% wees. Soos die koers van 0% na 50% beweeg, styg belastinginkomste, en soos dit van 50% tot 100% beweeg, daal die regering se inkomste. In so ʼn situasie kan ʼn regering wat belasting teen ʼn koers van 70% hef, die koers laat daal tot 30% en belastinginkomste sal dieselfde bly. Die regering se situasie bly dieselfde, maar ekonomiese aktiwiteit is groter en lei tot meer welvaart vir die land se bevolking.

In die werklikheid is die situasie nie noodwendig so eenvoudig nie. Daar is niks wat sê dat die Laffer-kurwe noodwendig so ʼn netjiese paraboliese vorm moet hê nie. Dit kan ook wees dat die kurwe wel redelik parabolies is, maar dat dit aan die einde begin afplat, omdat mense nie heeltemal kan ophou produseer nie, selfs teen ʼn koers van 100% (soos in ʼn totalitêre kommunistiese stelsel). Die kurwe kan ook dalk na die hoër koerse se kant toe oorhel indien belastingbetalers danksy doeltreffende regeringdienste bereid is om hoë belasting te betaal. Dit is ook moontlik dat ander faktore kan veroorsaak dat die kurwe chaoties wissel, hoewel dit onwaarskynlik is.

Die boodskap van die Laffer-kurwe bly egter steeds dat belastingkoerse wat té hoog is ekonomiese aktiwiteit onderdruk en lei tot sub-optimale belastinginkomste vir die regering, sowel as sub-optimale welvaart vir die mense van die land. Dit kom egter nie voor asof die Suid-Afrikaanse regering dink dat ons tans aan die regterkantkant van die Laffer-kurwe is waar laer belastingkoerse kan lei tot hoër belastinginkomste nie…

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • http://www.solidariteit-blog.co.za/author/paul/ Paul Joubert

    Riaan, jy kan gerus die konsep van ‘n “flat tax” bestudeer. Daar is heelwat inligting daaroor op die internet. Dit werk nie presies soos jy voorstel nie, maar op die ou end kom dit redelik op dieselfde ding neer.

  • Riaan Vorster

    Paul, wat sou die effek wees v ‘n persoonlike belastingkoers v 0% tot en met ‘n inkomste v se maar R1 Milj. pa., maar ‘n BTW koers wat hoog is ongeveer 25-30%. Natuurlik nie in ‘n land soos SA waar sosiale toelaes en pensioene vir die helfte vd bevolking sorg nie. Sal dit nie lei tot hoe produktiwiteit, groot besteebare inkomste wat weer lei tot werkskepping nie? Die BTW koers wat hoog is sal mos sorg dat die regeringsinkomste steeds hoog bly? Daar moet dan natuurlik net nie nog allerhande ander “verskuilde” belastings wees nie. Ek besef natuurlik dat BTW wat TE hoog is sal beteken mense spaar net en spandeer nie, ek glo egter ‘n koers v 25-30% is redelik sou daar nie allerhande ander belastings wees nie, invordering v belasting behoort ook makliker en goedkoper te wees, tog sal die “belastingvermydingpraktisyns” se werk seker afneem. Onthou net hierdie vraag spruit uit logika nie ekonomiese kennis nie, ek is duidelik ‘n leek, derhalwe geen antwoord eerder as te teoretiese een, tensy jy natuurlik vir die slim mense wat sal verstaan ‘n volledige antwoord wil gee.

  • Blink Stefaans

    Hallo Paul,

    Ek dink die maklikste manier om jou persoonlike belastingslas te verlig is om jou huishouding as ‘n besigheid te registreer en al die lopende uitgawes as aftrekkings teen jou inkomste te hanteer :-)

    Lekker naweek!

  • Marionade

    P is ‘n klas probleme waarvan die oplossings maklik is om te kry en NP is ‘n klas waarvan die oplossings maklik is om te verifieer, maar nie noodwendig maklik is om te kry nie. Die veiligheid van die internet is gebaseer op P != NP, maar of dit waar is of nie, moet nog bewys word en selfs dán mag daar uitsonderings wees wat die virtuele wêreld ‘n baie onveilige plek maak…

  • http://www.solidariteit.co.za Paul Joubert

    Ek moes nooit die woord “bank” in my kommentaar genoem het nie – die arme Laffer-kurwe word nou afgeskeep!
    Wat verteenwoordig P en NP? “!=” ken ek darem.

    Ek gee nie om vir ‘n bietjie Newspeak wanneer dit kom by postitels soos “Executive Vice President of the Department of Consumable Stationery Supply Logistics” nie.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube