Belastingkoerse en belastinginkomste

Dit is nie groot nuus om te hoor dat Suid-Afrikaners oor die algemeen baie swaar belas word nie. Inkomstebelasting kan maklik in die omgewing van 25% van die totale inkomste van ʼn middelklaspersoon wees. Op die nabelaste inkomste kom nog rofweg sowat 14% BTW op meeste produkte by. Dit werk uit op sowat 10% van totale inkomste voor inkomstebelasting. Ná hierdie twee belastings is 35 sent uit elke rand dus reeds deur die regering uit die salaristrekker se sak gehaal.

Verder is daar nog belasting op brandstof, heffings op eiendom, kapitaalwinsbelasting, belasting op rente-inkomste en groot belastings op motors. Daar is invoerbelasting op verskeie ingevoerde produkte. Om sekere produkte soos ʼn TV, ʼn motor of ʼn vuurwapen te kan besit, moet lisensiegeld en heelwat administrasiekoste betaal word. Daar is belasting op lugvervoer, op aftreegeld (dubbele belasting!), op oordrag van eiendom – so kan ʼn mens aangaan!

Daar is natuurlik ook dan die verskynsel van ʼn tipe dubbele belasting op ʼn indirekte wyse, aangesien baie van die dienste wat die staat met belastinggeld befonds, nie op ʼn aanvaarbare standaard is nie. Daar is natuurlik wel ʼn element van persoonlike voorkeur ook betrokke. Een ouer dink dalk dat ʼn staatskool nie goed genoeg is nie, en betaal ekstra om sy kind in ʼn privaatskool te sit, terwyl ʼn ander ouer met dieselfde vlak van inkomste dieselfde staatskool dalk as goed genoeg beskou. Hierdie “dubbele belasting” gaan natuurlik nie direk na die regering se sak nie, maar lewer wel indirek ʼn bydrae deur verhoogde BTW- en inkomstebelastinginkomste.

Lei die hoë effektiewe belastingkoers egter tot die hoogste moontlike belastinginkomste vir die regering, of kan ʼn laer koers nie dalk lei tot groter inkomste vir die staat en terselfdertyd tot meer geld in die belastingbetaler se sak nie? Dit klink dalk onmoontlik, maar dit is nie noodwendig so nie.

Die volgende denkeksperiment is in die moderne tyd deur die Amerikaanse ekonoom Arthur Laffer weer onder die wêreld se aandag gebring, hoewel verskeie antieke denkers lankal reeds die idee gehad het.

Gestel dat daar geen belasting gehef word nie. Ekonomiese aktiwiteit behoort op ʼn baie hoë vlak plaas te vind, omdat elke sent uit elke rand in die persoon wat die werk doen, se eie sak gesteek kan word. Die regering se inkomste uit belasting in so ʼn situasie is egter natuurlik niks. Gestel nou dat belasting gehef word teen ʼn effektiewe koers van 100%. Teen so ʼn koers sal ekonomiese aktiwiteit feitlik tot stilstand kom, of mense sal baie moeite doen om belasting te ontduik. Die regering sal dus ook geen belastinginkomste kry teen ʼn koers van 100% nie. Die ideale belastingkoers moet dus iewers tussen 0% en 100% lê.

Die eenvoudigste voorstelling van die Laffer-kurwe veronderstel dat belasbare ekonomiese aktiwiteit teen dieselfde tempo sal afneem as wat die belastingkoers toeneem. Prakties gesproke beteken dit dat iemand teen ʼn belastingkoers van 1% baie “ekstra sal insit” by die werk om soveel inkomste as moontlik te verdien, teen ʼn koers van 2% ook een persentasiepunt minder “ekstra” sal doen, totdat die persoon dalk later teen ʼn koers van 99% of 100% niks sal doen nie of slegs op die swartmark aktief sal wees. Die belastingkoers waar die regering die meeste inkomste sal kry, sal onder sulke omstandighede by 50% wees. Soos die koers van 0% na 50% beweeg, styg belastinginkomste, en soos dit van 50% tot 100% beweeg, daal die regering se inkomste. In so ʼn situasie kan ʼn regering wat belasting teen ʼn koers van 70% hef, die koers laat daal tot 30% en belastinginkomste sal dieselfde bly. Die regering se situasie bly dieselfde, maar ekonomiese aktiwiteit is groter en lei tot meer welvaart vir die land se bevolking.

In die werklikheid is die situasie nie noodwendig so eenvoudig nie. Daar is niks wat sê dat die Laffer-kurwe noodwendig so ʼn netjiese paraboliese vorm moet hê nie. Dit kan ook wees dat die kurwe wel redelik parabolies is, maar dat dit aan die einde begin afplat, omdat mense nie heeltemal kan ophou produseer nie, selfs teen ʼn koers van 100% (soos in ʼn totalitêre kommunistiese stelsel). Die kurwe kan ook dalk na die hoër koerse se kant toe oorhel indien belastingbetalers danksy doeltreffende regeringdienste bereid is om hoë belasting te betaal. Dit is ook moontlik dat ander faktore kan veroorsaak dat die kurwe chaoties wissel, hoewel dit onwaarskynlik is.

Die boodskap van die Laffer-kurwe bly egter steeds dat belastingkoerse wat té hoog is ekonomiese aktiwiteit onderdruk en lei tot sub-optimale belastinginkomste vir die regering, sowel as sub-optimale welvaart vir die mense van die land. Dit kom egter nie voor asof die Suid-Afrikaanse regering dink dat ons tans aan die regterkantkant van die Laffer-kurwe is waar laer belastingkoerse kan lei tot hoër belastinginkomste nie…

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Marionade

    Ek moet altyd eers gaan rondkrap op die internet om te sien oor wie jy nou eintlik praat. Oor Newspeak en job titels: daar is so ‘n legio van job titels deesdae dat die noodwendige gevolg daarvan is dat Jan Alleman maar die besigheidswêreld platonies vereenvoudig. Nou is die vraag: is die verwysing na ‘n Intermediêre Groot-, Groot- of Baie Groot Antie die vermindering van ‘n woordeskat, of die “trimming down of an inflated vocabulary to its original size and making it sane again”?

    My in-die-bank ervaring behels nou weer iets anders. Ek wou nie internet banking doen nie en gaan toe bank toe om ‘n “veiliger” betaling bínne die bank te maak, net om te sien dat die antie in élk geval ‘n internetbetaling wou maak. Ek het haar toe nou maar gestop en besluit dat die risiko groter is om die betaling in die bank via iemand anders te maak as wanneer ek die betaling self maak, want all things being equal en die leap of faith (ábsoluut fondasieloos) dat P != NP, kom die risiko neer op dit: dat die rekeningnommer verkeerd ingetik kan word – en dáái verantwoordelikheid neem ek maar eerder op myself.

    Anyway, hierdie voel soos ‘n braai-geselsie. Bier?

  • http://www.solidariteit.co.za Paul Joubert

    Ek het al een keer in ‘n bank vir die “antie” (ek weet nie of dit ‘n Intermediêre Groot, Groot of Baie Groot [terloops, dit klink soos Orwell se Newspeak] een was nie) gevra om te verduidelik watse fooi ek gaan betaal as ek ‘n spesifieke transaksie wil doen. Al wat sy gedoen het is om op haar rekenaar op die bank se webwerf te gaan soek na die fooi (iets wat ek reeds sonder vrug gedoen het voordat ek fisies na die bank toe gegaan het).
    Raai wat sê sy op die ou end vir my?

    “Doen maar net die transaksie, en dan kan jy later op jou bankstaat sien hoeveel dit gekos het.”

    Watter ander onderneming sê vir jou: “Koop en gebruik ons produk en ons sal na die tyd vir jou sê hoeveel jy moet betaal en ons sal dit sommer self van jou banksaldo aftrek!”

  • Marionade

    My bankkostes was nou bietjie dag R312 – vir één maand – en dít nádat ek gedink het dat ek destyds vir my ‘n redelike goeie produk gekry het wat bankkostes minimeer. Ek begin toe die ander dag daai “padda in die pot” gevoel, maar ek is ook nie heeltemal seker nie, want ek het nie regtig tred gehou met verwikkelinge nie en die inkremente of die “fee creep” sou in elk geval nie spectacularly waarneembaar gewees het nie (hulle maak mos so). Tot my ábsolute moerigheid (maar glad nie verbasend nie) en teenstrydig met wat ek gedog het die bank-antie vir my destyds gesê het (daar werk mos net anties in my bank), sien ek toe dat my maandelikse “flat fee” van R169 feitlik géén van die alledaagse kostes dek nie, so na dese vra ek vir myself: wat dek dié “flat fee” nou éíntlik? Ek betaal vir internet banking, vir kontantontrekkings, vir die, vir daai, vir dit, dat en die ander – én ek betaal ‘n “flat fee” van R169 per maand. En ja, die argument kan nou seker uitgepak word dat ek nie my bank op sy tone hou nie, but really, that’s a futile exercise the way things are going at the moment – báie tyd en energie, bítter min dividende. Jy kan slegs jou bank op sy tone hou as daar balans in die verhouding is – en balans is daar nie. Dit is die een stuiwer.

    Die ander stuiwer is dít: ek ken níémand in daai bank nie en níémand ken mý nie; élke keer as ek daar kom, dan is die antie met wie ek laas gewerk het, bevorder tot die pos van Intermediêre Groot Antie of Groot Antie of Baie Groot Antie of een of ander ánder groter-as-ekke pos. Die nuwe antie dryf net die komper wat op haar lessenaar staan – sy kan géén besluite neem of énige diskresie gebruik nie, want “die stelsel laat haar nie toe nie”. Súper frustrerend om met banke te werk – die perd wie se besigheid dit is, is nooit daar om sélf mee te praat nie, of dit is ‘n klómp perde wat die besigheid sáám besit en so verwater die verantwoordelikheid na die bokant toe, maar laat ék die slag 50 sent in die rooi gaan, dan pinpoint hulle vir my presíés daar waar ek sit – man, al sit ek nou op my troon en rook my pyp, hulle sal my daar kom haal. Totále wanbalans wat aangehelp word deur die “vereiste” dat jy deesdae ‘n bankrekening “móét” hê. Totále wanbalans wat Jan Taks ook betref.

    Ek hoor Cameron is besig om die regering se rol te trim. Baie goeie beginsel – dit sal sekerlik die een of ander politieke flavour hê as die ding nou eers geïmplementeer is, maar ‘n baie goeie beginsel. Dalk is dit ‘n goeie treetjie in die rigting van die herstel van die balans – sommer in alle fasette, Jan Taks en die banke inkluis. Ek sou nie omgee as dit hier ook gebeur nie.

  • http://www.solidariteit.co.za Paul Joubert

    Jy kan so ‘n besigheid begin. Mens noem dit ‘n bank. Daar word ook mos sommer lekker “straffooie” gehef wat dadelik deur die bank afgetrek word van ‘n kliënt se saldo. Enige ander besigheid moet eers hof toe gaan en kontrakbreuk bewys en dan sal die hof besluit wat die “straffooi” moet wees. Nie ‘n bank (of die staat) nie!

  • Marionade

    Ek wens ék kon ‘n wet afvaardig wat vir mý kliënte voorskryf wat húlle vir mý móét betaal, óngeag van die diens en/of die kwaliteit van die diens wat ek lewer – en dan boonop die bedraggie elke jaar aanpas na gelang van hoeveel geldjies ek in my eie hoedanigheid besluit het ek die volgende jaar nodig gaan hê.

    Belasting kan slegs werk as daar ‘n samewerkingsooreenkoms tussen Jan Taks en Jan Publiek (spesifiek die belastingbetaler) is, maar daar is tans geen sprake daarvan nie. Jan Taks staan met die groot stok en Jan Publiek vat die houe. As die drag slae klaar uitgedeel is, dan skop Jan Taks vir Jan Publiek so al in die ribbes van sy werf af en skree vir hom “VOERTSEK!” agterna. Môre-oormôre maak Jan Taks weer die hek van sy werf oop vir Jan Publiek om sleepvoets en kop omlaag na die houe-vat-kantoor toe te stap – of hy nou wil of nie, dit alles terwyl Jan Taks éíntlik die een is wat hoed in die hand staan. Dit is beláglik om die mínste te sê.

    Kan iemand asseblief ‘n beknopte weergawe van al die belastings wat ons betaal – en waarvoor dit nou eintlik is en wat die regverdiging daarvoor is – in duidelike, verstaanbare taal publiseer sodat daar ‘n slag deur Jan Publiek stock gevat kan word van hoe warm die water waarin die padda gekook word, nou eintlik al geword het? Maar doen dit tog net voordat die geheimhoudingswet intree.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube