Ek is 34 weke swanger met ons eersteling. Dit is ‘n dogtertjie. Vir maande het ek en my man gedink en weer gedink. Die naamskwessie is beslis nie ‘n maklike een vir die nuwe generasie ouers nie. Moet ons die tradisionele roete volg en ouma se string name op die klein bondeltjie mens afdwing? Of kies ons ‘n pikante naam wat moontlik volksvreemd mag klink?
Ek hoor vanoggend oor die nuus van ‘n ene meneer Venter (van Bloemfontein as ek dit nie mis het nie). Hy klink so Afrikaans as kan kom. Hy en vroulief het verlede week ‘n tweeling gekry. Omdat die tweeling op die afskop van die wêreldbeker gebore is, het Venter besluit om die twee mannetjies Bafana en Mexico te noem. Vreemd? Miskien.
Of dit ‘n legende is weet ek nie, maar daar is ook die storie oor die een kind (ek dink van Brasilië) wat ‘n paar jaar gelede al die name van die nasionale sokkerspan gekry het. Praat van swaardra!
Hoewel ek glo die besluit by elke ouer lê om die naam van die nuwe mensie te kies, is daar telkens druk van alle kante om die “regte” naam te kies. Is familiename werklik nog die norm? Moet mense verkwalik word as hulle op die een of ander unieke samestelling tussen Elmarie en Marius besluit en op iets soos Elruis besluit? Is dit die plig van vandag se generasie om familiename te laat voortleef?
Of kies ons die middeweg tussen volkseie en volksvreemde? Ons het dalk nie op ‘n eg Afrikaanse naam vir ons dogtertjie besluit nie, maar een ding weet ek wel. Sodra daar eendag ‘n seuntjie kom is een ding seker – ons volg die tradisionele roete met pa se name. Al drie name, want daar is ‘n trots en tradisie in die name. En dit is beslis nie iets waarmee ek wil peuter nie.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.