Bafana, Mexico, Petrus Johannes Gerhardus Karolus en Apple dalk maats

Ek is 34 weke swanger met ons eersteling. Dit is ‘n dogtertjie. Vir maande het ek en my man gedink en weer gedink. Die naamskwessie is beslis nie ‘n maklike een vir die nuwe generasie ouers nie. Moet ons die tradisionele roete volg en ouma se string name op die klein bondeltjie mens afdwing? Of kies ons ‘n pikante naam wat moontlik volksvreemd mag klink?

Ek hoor vanoggend oor die nuus van ‘n ene meneer Venter (van Bloemfontein as ek dit nie mis het nie). Hy klink so Afrikaans as kan kom. Hy en vroulief het verlede week ‘n tweeling gekry. Omdat die tweeling op die afskop van die wêreldbeker gebore is, het Venter besluit om die twee mannetjies Bafana en Mexico te noem. Vreemd? Miskien.

Of dit ‘n legende is weet ek nie, maar daar is ook die storie oor die een kind (ek dink van Brasilië) wat ‘n paar jaar gelede al die name van die nasionale sokkerspan gekry het. Praat van swaardra!

Hoewel ek glo die besluit by elke ouer lê om die naam van die nuwe mensie te kies, is daar telkens druk van alle kante om die “regte” naam te kies. Is familiename werklik nog die norm? Moet mense verkwalik word as hulle op die een of ander unieke samestelling tussen Elmarie en Marius besluit en op iets soos Elruis besluit? Is dit die plig van vandag se generasie om familiename te laat voortleef?

Of kies ons die middeweg tussen volkseie en volksvreemde? Ons het dalk nie op ‘n eg Afrikaanse naam vir ons dogtertjie besluit nie, maar een ding weet ek wel. Sodra daar eendag ‘n seuntjie kom is een ding seker – ons volg die tradisionele roete met pa se name. Al drie name, want daar is ‘n trots en tradisie in die name. En dit is beslis nie iets waarmee ek wil peuter nie.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Blink Stefaans

    Ek en vroulief is bevoorreg om net een voornaam elk te hê, te danke aan ons albei se ouers. Ook geen name wat saam met die stamboom gekom het nie, dus albei uniek in die familie. Ons vind dit gerieflik en kan dit aanbeveel.

    Toe ons dogter haar opwagting gemaak het, het ons besluit sy kry ook net een voornaam, wat uniek is in die stamboom. Dus is daar nou al ‘n paar geslagte wat almal uniek identifiseerbaar is in die familiegeskiedenis. Ek moet darem ook met tong in die kies bysê dat ek subtiel die naamkeuse beïnvloed het, dat my arme dogter nie na een van my vorige liefdes vernoem is nie, want dit sou seker ‘n bietjie emosionele bagasie veroorsaak het :-)

  • Jack Loggenberg

    Dis seker ook lekker om die stamboom voort te sit. So het ek my pappa se name gekry. Tog te dankbaar dat dit nie so ‘n string was nie, maar net twee. En niemand gebruik dit nie. Jacobus het Jack geword, die res is net vir amptelike gebruik. Waarom dan die dubbeldoor-familiename? Dit kon netsowel “Semelbroek Adonis Sagarius Makadonis Karel Blikboud Jan gewees het, dan het almal my bloot geken as Gert. Dis sinneloos. Ek het my kinders beslis nie so gestraf nie. Hul name is uniek aan hulle. Geen naelstringetjies meer nie, dankie.
    Groete Jack




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube