Bafana, Mexico, Petrus Johannes Gerhardus Karolus en Apple dalk maats

Ek is 34 weke swanger met ons eersteling. Dit is ‘n dogtertjie. Vir maande het ek en my man gedink en weer gedink. Die naamskwessie is beslis nie ‘n maklike een vir die nuwe generasie ouers nie. Moet ons die tradisionele roete volg en ouma se string name op die klein bondeltjie mens afdwing? Of kies ons ‘n pikante naam wat moontlik volksvreemd mag klink?

Ek hoor vanoggend oor die nuus van ‘n ene meneer Venter (van Bloemfontein as ek dit nie mis het nie). Hy klink so Afrikaans as kan kom. Hy en vroulief het verlede week ‘n tweeling gekry. Omdat die tweeling op die afskop van die wêreldbeker gebore is, het Venter besluit om die twee mannetjies Bafana en Mexico te noem. Vreemd? Miskien.

Of dit ‘n legende is weet ek nie, maar daar is ook die storie oor die een kind (ek dink van Brasilië) wat ‘n paar jaar gelede al die name van die nasionale sokkerspan gekry het. Praat van swaardra!

Hoewel ek glo die besluit by elke ouer lê om die naam van die nuwe mensie te kies, is daar telkens druk van alle kante om die “regte” naam te kies. Is familiename werklik nog die norm? Moet mense verkwalik word as hulle op die een of ander unieke samestelling tussen Elmarie en Marius besluit en op iets soos Elruis besluit? Is dit die plig van vandag se generasie om familiename te laat voortleef?

Of kies ons die middeweg tussen volkseie en volksvreemde? Ons het dalk nie op ‘n eg Afrikaanse naam vir ons dogtertjie besluit nie, maar een ding weet ek wel. Sodra daar eendag ‘n seuntjie kom is een ding seker – ons volg die tradisionele roete met pa se name. Al drie name, want daar is ‘n trots en tradisie in die name. En dit is beslis nie iets waarmee ek wil peuter nie.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • Ronell

    My ouers was nog die mening gedaan dat ‘n kind vernoem moet word. Soms is daaraan voldoen maar met huiwering van die nuwe Pa en Ma. Maar ek het met trots my kinders vernoem. My oudste dogter is die sewende geslag wat die naam Jacoba Petronella dra en op die jong ouderdom van 30 is sy trots daarop en praat reeds dat haar dogter (as sy die voorreg het) ook Jacoba Petronella sal heet. Ag nee wat, dit was nie ooit vir myself of een van my nege broers en susters nodig om skaam te wees oor ons drie of selfs vier name wat van die voorsate kom aan ons gegee is nie. Dit is deel van ons familie-tradisie en -kultuur. Met die oordra van staaltjies en familie-stories en gebruike, kan die name ook maar in gebruik bly. Dit is mos nou ‘n stamboom!

  • KOOS V ZYL

    Ek was ook dêêêêstyds in dieselfde bootjie,veral met familie wat hul siening wou afdwing.Ek het toe besluit my kinders is uniek en moet so bly,maar soos Radies ook se hulle moet iewers vandaan kom.Wel hulle kom van hulle ma en pa.En dit is soos Wynona Adri en Waylon Jacobus toe gebore is.Uniek maar met ‘n stamboom.

  • Radies

    Ek glo vas dat as dit by name kom, die eerste seun noodgedwonge maar MOET swaardra aan Pa of Oupa of pa se oudste broer se name. Die eeu oue vraag: “Ma, waar kom ek vandaan?” Het niks meer te doen met die ooievaar of spermpies & eierselle nie. Op ‘n dag wil ‘n mens mos maar weet hoe het jou familie boompie deur die lewe geloop??

  • Oupa Louis

    Ons het vier seuns en ons het dêêêêstyds besluit teen die tradisionele vernoemery. Ons familienaam is van Nederlandse oorsprong; drie van ons kinders het eenlettergrepige name wat ook van Nederland kon gekom het, die ander een het my voornaam geërf. Oupas en oumas wat daarop aandring dat kleinkinders hulle name kry, dring aan op verwarring en alte dikwels op verleentheid vir die kind wat met ‘n vrag name by die skool opdaag.

  • Charl Oberholzer

    Daar was ook ‘n vrou in Suid-Amerika wat haar seuntjie “Superman” wou noem, maar sy is verbied. Ook gehoor van ouers wat hulle kinders “Jesus” wou noem en ook groot debat daarmee ontlok het. Ouers moet mooi dink wanneer hulle name kies, my vorige buurman se naam was “Sakkie” en sy van was “Kleingeld”.

    So maak seker dat as jou van “Klopper” is dan moet jy nie jou kind “Paneel” noem nie.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube