Solidariteit Blog » Ingrid Scholtz

Die sekerheid van onsekerheid
Onsekerheid. Die mensdom leef al sedert menseheugenis daarmee saam. Die gesegde dat die dood en

die belastinggaarder die enigste sekerhede in die lewe is, kom van ver.

In sommige tye is dit erger as ander. Die moderne sekularisasie het die sekerheid van

godsdienstige opvattings afgebreek, massa-immigrasie het die bekende omgewing

onherkenbaar verander, die ekonomiese krisis het gelei tot onsekerheid oor die

toekoms.

Ons begin op die persoonlike vlak. Werkloosheid styg vinnig, maar die sterkste onder jongmense, selfs

onder hoogs opgeleides. Hulle vra hulself af of hulle eendag nog die werk sal kry

waarvoor hulle gestudeer het.

Mense wat binnekort aftree, het altyd gedink dat hulle oor een ding seker kan wees: hul pensioene.

Maar as gevolg van die ekonomiese krisis, verkeerde beleggings en lae rentekoerse

moet baie pensioenfondse die uitkerings verlaag.

Op nasionale politieke vlak is daar ’n toenemende polarisasie tussen uiters links en ver-regs.

In Nederland is dit al so erg dat mense hulle afvra of die land na die

verkiesings van September wel regeerbaar sal wees.

Internasionaal is daar groot onsekerheid oor die voortbestaan van die EU en die gevolge as

Griekeland sou uittree. Die bevolkings van die lidstate is oor die algemeen

baie negatief oor die EU, en daar is ook baie verontwaardiging oor die feit dat

hulle finansieel moet opdok vir Griekeland se gemors.

Wêreldwyd verskuif die eeue-oue magsoorwig van die Weste na lande soos China en Indië. Niemand

weet wat die gevolge daarvan sal wees nie.

En as dit kom by fundamentele kwessies soos die verhouding tussen wetenskap en geloof, het die groeiende invloed van die wetenskap al die ou sekerhede afgebreek, maar nie regtig nuwes in die plek daarvan gebring nie.

Die wetenskap het inderdaad ons kennis van die ons omringende wêreld duisendvoudig vergroot. Dit

beteken egter nie dat dit ons nou volledige sekerheid gee oor hoe daardie wêreld werk nie.

Die enigste sekerheid van die wetenskap is juis die insig dat dit nooit voltooi is nie. In ’n artikel in die weekblad De Groene

Amsterdammer met die opskrif “Die onmeetbare dieptes van ons onwetendheid” word

hierdie onsekerheid duidelik uitgespel.

Telkens as ons dink dat ons vatplek het op ons kennis, duik daar nuwe misteries op. Ons weet byvoorbeeld

nog steeds nie waaruit die grootste deel van die heelal bestaan nie. Ook nie

hoe ons brein regtig werk nie, of waarom daar so ’n groot verskeidenheid van

lewensvorms op aarde is nie.

Kortom, ons weet baie van die “hoe” en min van die “waarom”.

Maar omdat mense nie van onsekerheid hou nie, probeer ortodokse ateïste tans vanuit die

wetenskap bewys dat God nie bestaan nie en gelowiges vanuit die geloof dat hy wel

bestaan.

Eersgenoemdes voer aan dat die afwesigheid van bewyse nog nie die bewys van afwesigheid van die

bestaan van God is nie. En laasgenoemdes hou vas aan iets wat ons dominee

onlangs in ’n preek gesê het: “Ek kan nie bewys dat God bestaan nie, maar ek

kan wel oor Hom getuig.”

Met ander woorde, almal – ateïs en gelowige – sal moet leer om met onsekerheid saam te leef.

Wat nie sal verhoed dat ons sal aanhou soek nie.

Regstaat onontbeerlik
As Afriforum protesteer teen die nuwe voorgestelde taalwet of die

verengelsing van skole, skryf die koerante dat daardie organisasie deur sy

optrede sy demokratiese reg uitoefen.

Sulke proteste is egter baie meer as net die blote uitoefening van ’n demokratiese

reg. Elke keer as Afriforum sulke verklarings maak, wys hy die Suid-Afrikaanse

regering en die burgers van die land daarop dat Suid-Afrika daarop aanspraak

maak dat hy ’n regstaat is.

Die woord demokrasie – regering deur die volk – beteken sonder die

aanwesigheid van ’n regstaat niks. Lande is regstate as hulle grondwet in die

praktyk deur almal – ook die regering – geëerbiedig word. As regeringsinstansies

doelmatig, oop en regverdig is vir almal. As mense bereid is om aktiewe en

kritiese burgers te wees en terselfdertyd die wette te gehoorsaam. En as daar by

almal ’n bereidheid is om fundamentele norme en waardes toe te pas en te

verdedig, op sosiale sowel as ekonomiese gebied.

Regoor die wêreld is hierdie regstaat toenemend onder druk. In

Suid-Afrika self – dink byvoorbeeld aan die mediawette – maar ook in lande soos

China of in die Midde-Ooste.

In China stel jy jou lewe in gevaar as jy korrupsie oopvlek. Dan word jy

in ’n skynproses veroordeel of na die buiteland verban, soos onlangs met die

blinde Chinese dissident Chen Guangcheng gebeur het.

Ook in die Midde-Ooste is daar toenemende kommer oor die toekoms van die

regstaat. Die opstandelinge van die “Arabiese Lente” het hul tiranne verdryf,

maar nou bedreig fundamentalistiese Moslems godsdienstige minderhede en

vroueregte.

Selfs in Europa en Amerika hang daar vraagtekens oor die toekoms van die

regstaat. Hier veroorsaak ekonomiese probleme onsekerheid. Burgers raak

toenemend teleurgesteld in hul leiers, wat die indruk wek dat hulle nie weet

hoe om die huidige krisis op te los nie.

Die geskiedenis leer dat samelewings onstabiel raak wanneer groeiende

verwagtinge gefnuik word. Burgers raak ook al hoe meer daarvan oortuig dat die

owerheid nie na hulle wil luister nie.

In Nederland was daar onlangs ’n ondersoek na die betrokkenheid van

burgers by die politiek. Die navorser, Pieter Winsemius, self ’n oudminister,

was geskok deur die groot wantroue tussen burgers en die owerheid.

Vra jy byvoorbeeld in ’n saal van honderd mense hoeveel van hulle

deelgeneem het aan peilings deur die owerheid, steek 60% hul hande op. As jy

vervolgens vra of hulle tevrede was met die proses en die uitkoms daarvan, steek

net ’n paar mense hande op.

Wantroue en ontevredenheid lei toenemend tot onverskilligheid teenoor die

politiek en dit ondermyn weer die regstaat. Wanneer die situasie eindelik

onstabiel genoeg is, kan jy onder aanvoering van populistiese leiers – links of

regs – ’n rewolusionêre situasie kry. Ook hier leer die geskiedenis dat ŉ rewolusie

altyd deur ’n teenreaksie gevolg word.

Die antieke Grieke het al besef dat demokrasie en ’n regstaat wat goed

funksioneer, onlosmaaklik met mekaar verbind is.

In lande soos Afganistan of Rusland kan jy “demokratiese” verkiesings hou

totdat jy blou in jou gesig is, maar sonder ŉ regstaat is hulle betekenisloos.

Suid-Afrikaners, hou aan veg vir daardie regstaat, want daarsonder is

daar geen demokrasie nie.

Onseker kiesers klap hard
In die onlangse verkiesings in die Duitse deelstaat Noordryn-Wesfale ly die Christen-Demokratiese Unie (CDU) van Bondskanselier Angela Merkel swaar verliese.

In Frankryk kies die Franse ’n nuwe sosialistiese president, Francois Hollande, omdat hy tydens die verkiesingsveldtog beloof het dat hy minder streng sal besnoei as sy voorganger, Nicholas Sarkozy.

In Griekeland straf die kiesers die gematigde regeringspartye hard. In Spanje – waar die werkloosheid onder jong mense 50% is – is die verontwaardiging oor die beleid van die huidige regering groot.

Eintlik is groot dele van die bevolkings in Europa in opstand oor die streng besnoeiings deur hul regerings. Hierdeur word die welsynstaat met sy groot sosiale vangnet afgebreek, die aftree-ouderdom verhoog en die burger swaarder belas.

Hierdie rubriek het al vantevore aan hierdie Europese politieke krisis aandag bestee. Vandag gaan ons ’n bietjie dieper grawe.

Eerstens val dit op hoe die kiesers die pad byster geraak het. Nie alleen sal hulle maklik van die een party na die ander oorloop nie, maar daar is ook ’n neiging om óf vir uiters links óf vir uiters regs te stem. Of sommer vir enige nuwe beweging.

So is daar in Duitsland ’n nuwe verskynsel, die sogenaamde Piratenpartei. Dit kan nie as ’n normale party omskryf word nie. Dit is teen die vorm waarin die huidige demokrasie gegiet is en is ’n voorstander van direkte demokrasie en veral vryheid van inligting. ’n Mens sou dit ’n anargistiese internetparty kon noem.

Swede is die eerste land wat daarmee begin het, en daar is nou in 40 – meestal Europese – lande sulke bewegings. Die een in Duitsland is die grootste.

Wat ’n mens hier eintlik sien, is dat die groot middelpartye – liberaal, christen- of sosiaal-demokraties – hul aanhang verloor, en dat nuwe, ekstreme bewegings aanhangers wen.

Die belangrikste rede hiervoor is die agteruitgang in welvaart van die groot Europese middelklas. Die Nederlandse koerant NRC Handelsblad het afgelope naweek ’n artikel aan hierdie verskynsel gewy.

Die Europese middelklas is nog steeds die grootste sosiale groep, maar die getal mense wat in Europa op die armoedegrens leef, het tussen 2007 en 2009 van 85 miljoen na 115 miljoen gestyg. Dit is 23% van die Europese bevolking.

Die middelklas se vrees dat dit sal afgly na hierdie armoedegrens plaas dié klas onder druk en maak sy lede onseker. Die sogenaamde “verburgerliking” van die Europese samelewing het feitlik tot stilstand geknars.

Die middelklas sien globalisering glad nie as ’n kans of uitdaging nie, maar eerder as ’n bedreiging van die sekerheid wat hulle deur die jare opgebou het en wat nou stelselmatig afgebreek word. En nie alleen deur hul regerings nie, maar ook deur die koms van immigrante.

Hulle verskans hulself agter die grense van hul eie state en sal by elke verkiesing uiting gee aan daardie angs en onsekerheid. Dan stem hulle vir enige party wat die gevestigde orde aanval.

Eens was hulle die stutte van die liberale demokrasie. Tans neem hulle wraak op daardie einste demokrasie deur hul protesstem.

17 Mei 2012. Deur Ingrid Scholtz

Franse, Grieke roer Europa
Toe val die koerse van die markte wêreldwyd opnuut. Hierdie keer na aanleiding van die Frans en Griekse verkiesings van verlede Sondag.

Teen die agtergrond van ’n groot Europese skuldkrisis verkies die Franse die sosialis Francois Hollande tot president. En die Grieke was so kwaad oor die diep ekonomiese krisis waarin hul land die afgelope jaar verkeer, dat hulle oorweldigend teen die regeringspartye en vir óf ekstreem-regse óf ekstreem-linkse partye gestem het.

Daardie partye, net soos die sosialistiese party van Hollande, is gekant teen die besnoeiings wat die EU-lande afgespreek het. Die besnoeiings moet lande se groot begrotingstekorte terugsny tot 3% van die totale begroting.

Selfs in ’n deeglike land soos Nederland is dit besonder moeilik om daardie ooreenkoms na te kom. Die probleme is nog groter in lande soos Spanje met sy yslike werkloosheidsyfer van 50% onder jong mense, om nie van lande soos Ierland en Portugal te praat nie.

In die algemeen kan ’n mens sê dat Europa in ’n groot resessie verkeer, met groeiende skuld – selfs teen ’n lae rentekoers styg staatskuld met ’n paar miljoen per dag – toenemende werkloosheid en dalende ekonomiese aktiwiteit.

Die politici is veral magteloos en weet nie hoe om hierdie krisis op te los nie. Kiesers straf nou die politici wat tans op die kussings sit, vir daardie onvermoë en stem vir partye wat hulle wil wysmaak dat hul uitkerings nie sal krimp nie, dat die huurgeld nie sal styg nie, en dat hul wonings se waarde nie sal daal nie. Dit is egter leë beloftes, want regerings sal moet besnoei of hulle nou wil of nie.

In Frankryk is daar ook ’n ander faktor: die persoonlikheid van Hollande se voorganger, Nicolas Sarkozy. Hy word die “bling bling”-president genoem. Hy wou net so glansryk leef soos die beroemde Amerikaanse president John Kennedy en hy het al die opwinding en mag ooglopend geniet. Hy het ook nie geskroom om mense te laat deel in sy woelige privaat lewe nie, veral in sy verhouding met die Italiaanse model Carla Bruni, met wie hy later getroud is.

Die Franse is nie preuts nie, maar hulle verwag van hul president waardigheid en diskresie. Dit het Sarkozy nie gehad nie en die Franse het hom dit nie vergewe nie.

Francois Hollande is in baie opsigte die teendeel van Sarkozy. Rustig, rasioneel, en soos iemand gesê het, “altyd homself”. In teenstelling met Sarkozy – wat sterk negatiewe of positiewe gevoelens opgeroep het – het niemand regtig sterk gevoelens oor hom nie. Hy het dan ook tydens die veldtog gesê dat hy ’n “normale” president wil wees en dat hy die Franse wil verenig. Volgens sy aanhangers het hy dit altyd tydens sy lang loopbaan as politikus probeer doen.

Sy agtergrond is hoër middelklas met ’n pa wat baie regs was en ’n ma met sosialistiese voorkeure. En soos sy naam ŉ mens laat vermoed, is hy inderdaad oorspronklik van Nederlandse afkoms.

Hoewel sy sosialisme baie gematig is, het hy al herhaaldelik gesê dat “die wêreld van geld” sy vyand is en dat hy minder sterk oor die 3%-reël voel. Ook wil hy veral die rykes ekstra belas.

Daarom is die markte senuagtig. Of dit geregverdig is, moet die toekoms uitwys.

Venster op Europa
En toe gebeur ’n politieke wonderwerk die afgelope week in Nederland. Die minderheidskabinet van liberale (VVD) en Christen-Demokrate (CDA) sluit binne 48 uur na sy val ’n ooreenkoms met drie opposisiepartye oor streng maar noodsaaklike besnoeiings.

In verlede week se rubriek is beskryf hoe Nederland in ’n politieke krisis beland het. Die gedoogvennoot van die minderheidsregering, die Partij voor de Vrijheid (PVV) van Geert Wilders, het weggeloop na sewe weke se onderhandelings oor 18 miljard euro se ekstra besnoeiings. ’n Regeringsverlamming het gedreig.

As selfs ’n sterk land soos Nederland nie sy staatsfinansies tot orde kan roep nie, kan die swakker lande van die Europese Unie (EU) dit sekerlik nie doen nie. Wat in Nederland gebeur het, het dus die gevaar van ŉ verdieping van die finansiële probleme vir die EU vergroot. Die Europese lidstate het naamlik – en wel onder aansporing van Nederland – afgespreek dat almal in 2013 moet hou by ’n begrotingstekort van 3%.

Inmiddels het die VVD en CDA daarin geslaag om vinnig met die linkse liberale (D’66), Groen Links en die Christen Unie (’n klein, konserwatiewe Christelike party) ooreen te kom oor daardie pynlike besnoeiings.

Die waarnemende regering kan nou ten minste ’n begroting vir 2013 opstel en kon ook voor die sperdatum van 30 April ’n brief na die Europese Kommissie – die “kabinet” van die EU – stuur waarin Nederland sy planne vir besnoeiings voorlê.

Hoe het hierdie omwenteling gebeur en wat beteken die nuwe akkoord?

Eerstens was die druk natuurlik baie groot. Die sperdatum, die feit dat Nederland self daardie streng begrotingsreëls in die EU voorgestel en nou gevaar geloop het om aansien te verloor, en veral die moontlikheid van politieke verlamming, het alles oopgegooi.

Die vyf bogenoemde partye was bereid om die landsbelang bo hul eie partybelang te stel en daardie pynlike besnoeiings aan hul kiesers te verkoop. In ’n land waar elke politieke akkoord uiters stadig en moeisaam ontwikkel, is dit uniek.

Dit lyk of Nederland weer teruggekeer het na die “poldermodel” van gematigde kompromisse en sy rug gekeer het op die sterk polarisasie van die laaste jare, waarin veral die PVV uitgeblink het.

Dit is egter ook ’n feit dat drie groot partye nie saamgestem het met daardie akkoord nie. Twee is populistiese partye, die linkse Sosialistische Partij (SP) en die regse PVV. “Links” en “regs” is hier eintlik relatiewe begrippe. Albei is anti-EU, teen ’n verhoging van die aftree-ouderdom van 65 na 67 jaar en eie bydraes aan mediese onkoste. Met ander woorde, albei is gekant teen ŉ verswakking van die welsynstaat.

Die meer gematigde Partij van de Arbeid (PvdA) het homself ook buite spel geplaas. Saam beheer dié drie partye maklik ongeveer die helfte van die parlementsetels.

En dan moet die kiesers op 12 September nog hul kruisies trek.

Wat sal hulle doen? Sal hulle kwaad word as hulle die gevolge van die besnoeiings aan hul beursies begin voel, of sal hulle die moed van die vyf partye beloon?

Niemand kan dit voorspel nie.

Plaaslike krisis kring wyd uit
Nederland het verlede Saterdag in ’n politieke krisis beland, toe samesprekings oor streng besnoeiings tussen die twee regeringspartye en die party wat hulle in die parlement ondersteun, misluk het.

Hierdie keer het die plaaslike krisis egter wêreldwyd aandag getrek. Waarom is dit so en wat het gebeur?

Eers ’n kort verduideliking van die politieke situasie waarin Nederland hom die laaste anderhalwe jaar bevind.

Nederland word al dekades lank geregeer deur koalisieregerings van twee of meer partye. Dit maak die saamstel van ’n regering deurgaans ’n moeisame en tydsame proses.

So ook na die verkiesings van 2010, wat na maande van onderhandelings tot ŉ omstrede koalisie gelei het. Twee gematig regse partye – die Christen-Demokrate (CDA) en Liberale (VVD) – het ’n regeerooreenkoms gesluit met die nuwe, populistiese Partij van de Vrijheid (PVV) van Geert Wilders. Die PVV is nie deel van die regering nie, maar steun dit op fundamentele punte. Dit staan bekend as die gedoogakkoord.

Op hierdie ingewikkelde manier kon die regering staatmaak op die ondersteuning van 75 van die 150 setels in die parlement.

Die PVV is ’n nuwe beweging. Dit is gebore uit die jarelange afkeer onder ’n aansienlike deel van die Nederlandse bevolking van die plaaslike en Europese politiek, en die vrees vir Islam en die groot getalle immigrante.

In die laaste verkiesing het anderhalf miljoen mense vir die party gestem, ondanks die feit dat die party geen struktuur of duidelike program het nie. Wilders self staan veral bekend om sy afkeer van sekere sake en nie soseer vir sy konstruktiewe bydrae tot oplossings nie.

Terselfdertyd is die Europese Unie (EU) gewikkel in die ernstigste finansiële krisis in sy geskiedenis. Veral in die suide van die EU het lande jare lank bo hul vermoë geleef, en sommige van hulle is op die rand van bankrotskap.

Miljarde euro’s en streng reëls is nodig om nog sulke krisisse te voorkom. Daar is afgespreek dat geen EU-land in 2013 ’n begrotingstekort van meer as 3% mag hê nie.

Selfs vir sterk lande soos Nederland gaan dit moeilik word. Nederland het die 3%-maatreël sterk gesteun, maar het self te kampe met ’n tekort van 4,6%.

Die drie partye – CDA, VVD en PVV – het hulle dus weke lank teruggetrek in die “Catshuis”, die ampswoning van die premier, om te onderhandel oor ŉ ekstra besnoeiing van 18 miljard euro. Dis ’n besnoeiing wat aan elke Nederlander se beursie gaan vat.

Na sewe weke het dit gelyk of ŉ ooreenkoms bereik is. Toe kom die berig: Wilders het die Catshuis verlaat, die onderhandelings het misluk. Die gedoogakkoord is verbreek.

Wilders verklaar dat hy en sy party hulle nie laat “dikteer” deur Europa nie en dat hy veral bejaardes se staatspensioene wil beskerm. Die ander twee partye is woedend en beskuldig hom van “onverantwoordelikheid”.

Die regering bedank en ŉ verkiesing word aangekondig.

As een van die sterkste lande van die EU nie die 3%-norm kan haal nie, wat beteken dit vir die toekoms van die ander EU-lande?

Daarom het hierdie oënskynlik plaaslike landskrisis groot implikasies vir Europa en dus ook vir die res van die wêreld.

Venster op Europa
In die klein Nederlandse stadjie Dokkum in die provinsie Friesland het die inspektoraat van die departement van volksgesondheid onlangs beveel dat die plaaslike hospitaaltjie gesluit moet word.

So ’n kleinskaalse hospitaal kan tog nooit doeltreffend werk nie, het hulle gemeen.

Inteendeel. Die inwoners van Dokkum is juis baie ingenome met daardie klein hospitaaltjie omdat hulle daar persoonlike aandag kry en die personeel tyd maak om na hulle te luister.

Hierdie plaaslike konflik belig ’n ontwikkeling wat die laaste dekades wêreldwyd plaasgevind het. Dit is die verskuiwing van persoonlike, kleinskaalse en veral ook oorsigtelike menseverhoudings na verhoudings wat onoorsigtelik en onpersoonlik geword het. En waar bestuurders net kyk na doeltreffendheid en produktiwiteit.

Dit is alles die gevolg van ’n verskuiwing na grootskaligheid – oftewel, “groot” moet mos beter wees.

Die Nederlandse meningsvormende koerant De Volkskrant het ’n paar maande terug ’n bylae aan hierdie probleem gewy.

Grootskaligheid maak dat mense verdwaal in onoorsigtelike burokratiese strukture waar die bestuurders voortdurend die struktuur van die onderneming herorganiseer en waar jou menswaardigheid verdwyn in ’n kultuur van syfers en statistieke.

Dit is dus nie verbasend dat daar in Nederland honderde duisende mense is wat nie deel wil wees van daardie hiper-doeltreffendheid nie en verkies om as selfstandige ondernemers deur die lewe te gaan.

In Nederland is daar bitter min plaaslike poskantore, banke of die slagter of bakker wat net om die hoek hul produkte verkoop.

Nog nie so lank terug nie was stede kleinskaalse gemeenskappe wat so gebou was dat hulle die vyand buite kon hou. Daar was gragte en stadspoorte, en om tienuur saans is die hoofpoort gesluit.

Vanaf die negentiende eeu het stede egter toenemend doolhowe vol groot betongeboue geword. Jy soek na die ingang en verdwaal vervolgens in lang gange. Pleks daarvan dat hulle mense teen gevaar beskerm, word stede nou eerder weens hul ongebreidelde uitbreiding as bedreigend gesien.

Dié skaalvergroting maak ook dat die samelewing vloeibaar, onvoorspelbaar en struktuurloos word. Ons menslike brein kan dit nie verwerk nie. Duisende jare was mense juis deel van klein gemeenskappe waarin hulle rol en posisie duidelik was.

Volgens die Amerikaanse sosioloog Richard Sennett maak die nuwe tegnologie, globalisering en die burokratiese doolhof die mens ongelukkig omdat hy nie meer in staat is om sy eie doen en late te beheer en te organiseer nie.

Een van die grootste groepe slagoffers is die tussenlaag van middelbestuurders, ingedruk tussen die sentrale leiding van ’n onderneming en hulle afdelings. Hulle is nie hul eie baas nie, maar hulle moet ook hul afdeling “beheer”. Die gevolg is die verskynsel van wydverspreide siekteafwesigheid onder die werkers.

Dis duidelik dat die moderne samelewing weer moet kyk na die twee basiese behoeftes wat mense deur die eeu ontwikkel het: aan die een kant die behoefte aan oorsigtelikheid en struktuur, en aan die ander kant die behoefte aan informele, persoonlike en gelykwaardige kontakte met min magsverskille.

Oop, direkte en informele kommunikasie is hier die wagwoord, vir almal. Van politici tot direksies. Net so sal die mens weer méns word.

Minder oop, minder gewild
Word Nederland in die Europese Unie (EU) nog

gesien as die “soetste seuntjie in die klas”? Steeds meer mense beskou deesdae

Nederland as polities onstabiel.

Onlangs het ŉ korrespondent van die gesaghebbende

Nederlandse De Volkskrant vir ’n

Portugese sakeman gevra in watter Europese land hy die graagste wou woon.

Sy antwoord: “Twintig jaar gelede sou ek gesê het

‘Nederland’. Maar waar is die Nederland van destyds dan nou? Alles wat vir

julle belangrik was, het verdwyn. Julle verdraagsaamheid, julle sosiale

liberalisme … Hoe kon dit gebeur?”

Natuurlik was daar vroeër ook kritiek op

Nederland. Teenswoordig swel die kritiek egter aan uit alle politieke rigtings,

van links, regs en die middel.

Tot ’n paar jaar terug was Nederland welbekend om

sy verreikende verdraagsaamheid oor dagga, aborsie en die genadedood. Die

Nederlanders was ook sterk ten gunste van die EU.

In 2005 het Nederland teen die nuwe Europese

grondwet gestem. Deesdae is Nederland boonop in die nuus vanweë ’n webwerf waar

Nederlanders kan kla oor die kwansuise oorlas wat die oorwig Poolse gasarbeiders,

ook inwoners van die EU, veroorsaak.

Hierdie webwerf is gestig deur die Partij van de

Vrijheid (PVV) – op twee na die grootste

party in die Nederlandse parlement. Dit het opslae gemaak, nie net in Pole self

nie, maar regoor Europa.

Nederland word nou in een asem genoem met lande soos

Italië, Hongarye of Pole. Dis lande wat deur die belangrike Europese lande as

polities onstabiel beskou word.

Nederland kry dus toenemend die beeld van ’n land

wat anti-Europa en anti-euro is. ’n Land wat sy eie nasionale belange stel bo

dié van die EU en nie langer internasionaal gerig is nie, maar in homself

gekeer geraak het.

Die man wat veral die skuld hiervoor kry, is

Geert Wilders, die leier van die PVV. Dit word minstens gedeeltelik veroorsaak

deur die feit dat hy saam met die huidige regering van liberale en christendemokrate

in ’n sogenaamde “gedoogakkoord” (verdraagsaamheidsooreenkoms) sit. Dit beteken

dat hoewel hy nie deel van die regering is nie, mag hy wel op ’n afstand saamdink

en invloed op beleid uitoefen. Hy gee daardeur die huidige

regering sy broodnodige meerderheid in die parlement.

Heeltemal links van die spektrum is daar nog ’n

party wat minstens net so anti-Europees is: die Sosialistiese Party (SP). Die partyleier,

Emiel Roemer, het onlangs nog verklaar dat hy nie soos ŉ Europeër voel nie en reken

dat die meeste Nederlanders ook so voel. Sy party is egter aan opposisiekant en

kry dus minder aandag in die buiteland.

Die Nederlandse regering gooi toenemend jakkalsdraaie

om vir die ander Europese lande te verduidelik dat Wilders nie deel van die

regering is nie, en dat die regering nog altyd sy eie beleid bepaal. Die ander

Europese lande sien dit duidelik anders

Intussen word die skade steeds groter: Nederland het

in die EU nie langer die beeld van ŉ verdraagsame en oop land nie.

Die globale stam
As jy in Suid-Afrika – of elders in die wêreld – in

die aand op straat loop en jy sien ’n groepie jong mans van ’n ander kleur

naderkom, gee jy maar liewer pad. As ’n vrou in jou eie straat verkrag word,

sal jy meer geskok wees as wanneer jy hoor dat dit in Europa of Amerika gebeur

het.

Hierdie soort instinktiewe reaksies is baie diep

gewortel in die mensdom en mense sal dwarsoor die wêreld min of meer dieselfde

reageer.

Toe mense nog in stamme saamgewoon het, was

oorlewing ŉ stryd. Hulle het hul naaste bure liefgehad, maar lede van ander

stamme is sonder enige gewetensbeswaar om die lewe gebring.

Stadig maar seker het sake verander. Mense het in

stede en state begin saamwoon. Wette en reëls het noodsaaklik geword, eers vir

hul eie gemeenskap en later – as gevolg van toenemende handel – ook vir

vreemdelinge.

Emosionele groepsgevoel is dus deur wette en reëls

aan bande gelê.

Die twee groot oorloë van die twintigste eeu het

mense die gruwelike gevolge van vreemdelingehaat laat besef. Talle lande het in

1948 die Universele Verklaring van Menseregte onderteken. Daarin word die

gelykwaardigheid van alle mense erken, ongeag ras, herkoms, godsdiens of

kultuur. Later is dit ook uitgebrei na sake soos taalregte.

Vandag woon ons almal saam op ’n digbevolkte planeet

waar onderlinge kontak noodwendig baie intens en uitgebreid geword het. As die

dollar skielik daal, het dit direkte gevolge vir die uitvoerposisie van

Suid-Afrika. As die Europese Unie volstruisvleis gevaarlik verklaar weens

voëlgriep, bring dit volstruisboere in die Karoo by die rand van die afgrond.

Miljoene mense vlieg vinnig en meestal veilig om die

aardbol. Virusse doen dit ook, en ’n griepvirus uit Asië kan baie vinnig oor

die planeet versprei.

Dieselfde geld vir immigrante. Sommiges is hoogs

opgelei, ander is ekonomiese en politieke vlugtelinge. Deesdae is dit nie ongewoon

om in jou eie stad te loop en skielik die hele wêreld met al sy vreemde kleure,

geure en geluide raak te loop nie. Dan voel jy self soos ’n vreemdeling.

Sekere politici – van elke politieke rigting – het

skerp neuse wat hierdie angs vir die onbekende uitsnuffel. Hulle skroom nie om daardie

onsekerheid uit te buit om hul eie magsposisie te versterk nie.

Hulle kan byvoorbeeld skrikbeelde oproep oor hordes

ekstremistiese Moslems met baarde en bomme, of oor arm Oos-Europeërs wat jou

werk van jou kom steel. Hulle maak mense wys dat globalisering ’n gevaar is wat

soos ’n tsoenami op die land afkom. Hulle sinspeel graag dat internasionale

verdrae nie nagekom hoef te word nie.

Deur so op mense se basiese instinkte te speel, kan

hulle op die lange duur die regstaat en die internasionale regsorde ondermyn.

Polarisasie en irrasionele vyandbeelde neem die plek in van rasionele debatvoering

en ŉ soeke na oplossings vir die groot probleme van ons tyd.

Want daardie probleme – of dit nou massa-immigrasie

of vinnige veranderings binne die samelewing is – gaan nie verdwyn nie.

Emosionele krete kan dit nie oplos nie. Die groot brein van die mens kan dit

wel doen.

Dit word dus tyd dat ons daardie brein gebruik.

Daar is nog lewe
Die woord “Europa” roep meestal by mense binne en buite Europa heel verskillende

beelde op. “Ou beskawing”, “welvaart”, “demokrasie”, maar ook “materialisme” en

“arrogansie”. Dit hang af van waar jy woon en wat jou ervaring van Europeërs en

Europa is.

Mense wat deur Europa reis, is omring deur die fisieke bewyse van ’n ou kultuur in

die vorm van ou stede, en dit val die reisiger ook onmiddellik op dat elke land

en selfs elke streek sy eie gesig het. Europa was mos eeue lank verdeel in

onafhanklike state en staatjies wat voortdurend met mekaar oorlog gemaak het,

meestal met gruwelike gevolge. Dit het die nagmerrie van die Tweede

Wêreldoorlog gekos om hulle te laat besluit: “nooit weer nie, ons moet oorlog vir

altyd voorkom”. En so het die Europese Unie (EU) uiteindelik ontstaan.

Ook wat betref die politieke kultuur, die welvaart of die rol van godsdiens kan ’n

mens heelwat skeidslyne regdeur Europa trek.

Lande soos Nederland, Duitsland en die Skandinawiese lande is die mees gesekulariseerde

lande; Oos-Europa – wat tot 1989 agter die Ystergordyn onder die heerskappy van

die kommunistiese Sowjet-Unie gebuk gegaan het – is meer tradisioneel godsdienstig.

Lande in die noorde van Europa het ’n meer suinige, “Calvinistiese” benadering tot

hul eie finansies en dié van die staat, terwyl die suidelike lande hulle

geldsake tradisioneel minder ernstig benader.

Korrupsie en nepotisme is ook meer wyd versprei in laasgenoemde lande. Dit sê minder oor

die karakter van daardie bevolkings as oor hoe klein die invloed van liberale,

demokratiese waardes en strukture nog in sommige van die 27 lidstate van die EU

is.

Dan is daar nog die vraag of die eilandryk van Brittanje wel deel is, deel wíl wees,

van die Europese vasteland. En wat van Rusland? Is dit deel van Europa of

eerder van Asië?

Kom ons kyk verder na die groot verskille in welvaart. Portugal, Griekeland en

groot dele van die Balkanstate is baie armer as lande in Midde- en Wes-Europa.

Mens moet dus eerstens konstateer dat Europa gekenmerk word deur groot fundamentele

onderlinge verskille, ondanks hulle losse verbintenis as gevolg van hul

Christelik-Joodse en humanistiese erfenis.

Nou wonder ŉ mens waar pas gedeelde norme en waardes soos respek vir menseregte,

menswaardigheid, demokrasie, vryheid en gelykheid in. Hierdie waardes is

eerstens meer algemeen Westers en sluit dan ook lande soos Amerika en Australië

in. Hulle word – weliswaar onder die invloed van die Weste – ook deur groot

groepe in nie-Westerse kulture as belangrik beskou.

Dit lyk dus die beste as jy jou beperk tot ’n aantal praktiese verskille met die

res van die wêreld. Europa is welvarend en het ’n goed ontwikkelde

welsynstruktuur. Die lewe hier is oor die algemeen baie aangenaam.

Dit is ook ’n ou kontinent. Oud in die betekenis van “ou kultuur”, maar ook met ’n

ou bevolking. Dit lei tot die vraag of Europa nie ’n moeë kontinent is wat

miskien nie meer die woema het om homself te vernuwe nie. Veral die groeiende

nasionalisme in Europa kan sake vir verdere samewerking beduiwel.

Europa het egter reeds verskeie kere soos ’n feniks uit die as opgerys en kan ons

vorentoe weer verras.