Gepubliseer .
Dit lyk my daar is twee syfers waaroor die regering al te gretig die waarheid verdraai. Die eerste is natuurlik misdaadsyfers wat jaarliks in groter twyfel getrek word en nou lyk dit my is dit ook die syfers van padsterftes wat elke jaar vir Desember aangeteken word.
‘n Prokureur wat baie met padongeluk-eise werk tik vandag die Departement van Vervoer oor die vingers oor hulle “opgetofde” syfers vir Desember 2009. Volgens die Departement het daar in dié maand aansienlik minder mense op ons land se paaie gesterf as in 2008. In 2009 het daar blykbaar 1 050 mense gedurende die Feesseisoen gesterf terwyl daar in dieselfde tyd in 2008 blykbaar 1 348 mense gesterf het. Die prokureur, ene De Broglio, glo dat hierdie syfers jaar op jaar gekook word en dat die ware prentjie eintlik heelwat erger is.
Lees verder ‘Regering kook blykbaar syfers van padsterftes’
Gepubliseer .
Dit is nooit ‘n goeie teken nie, maar dit is wat vanoggend gebeur het. My man werk as ‘n plaasbestuurder by ‘n landbouskool en op die gronde woon meer as 40 personeellede en hul gesinne. Toe die foon om 04:00 lui en ons buurman sê met paniek in sy stem “Wayne is aangeval in sy huis” het ons geweet hier is moeilikheid. Wayne is nog ‘n buurman wat ‘n paar honderd meter van ons af bly op die plaas. Ek en my man lê met groot oë en staar. Tien minute later lui die foon weer. Weer is dit ons buurman. “Hulle is gewapen en hulle het weggekom” is al wat hy sê. My hart sit nou in my keel en ek begin bid dat die tyd moet verbygaan sodat die son kan opkom.
Die son het opgekom en ons het die nag genadiglik deurgemaak. Vandag is die storie die hele plaas vol. Twee boewe (albei met gewere gewapen) het by Wayne se huis ingebreek. Half hurkend het die een die kamer binnegekruip en toe Wayne sy oë oopmaak die geweer teen sy kop gedruk en gesê “Do you want to die” en die sneller getrek. Die skoot het nie afgegaan nie en ‘n stoeiery het ontstaan waarna sy makker ook die kamer ingestorm het en die sneller getrek het – weereens het die skoot nie afgegaan nie. In die gestoei is Wayne gebyt en aangerand, maar sy uiteindelike gille en veg vir oorlewing het die boewe laat vlug. Dit is al die soveelste keer dat ons “gemeenskappie” deur misdaad geraak word. Skaars vyf maande gelede is nog iemand in sy huis aangeval en dan is daar natuurlik nog die talle inbrake en diefstalle – waardeur ons ook deurgeloop het!
Ons het vandag ‘n vuurwapen gaan koop (wat ons na alle waarskynlikheid eers oor maande sal kan kry sodra die lisensie-prosedure afgehandel is). Ek was nog altyd teen vuurwapens gekant. Dalk het ek ‘n onrealistiese vrees, maar vandag het ek besef dat ons in Suid-Afrika nie meer ‘n ander opsie het nie. Ons kan nie soos in ander wêrelddele rustig gaan slaap nie. Ek dink wat my die meeste onstel van die hele aanval is sekerlik die manier waarop die skurk met iemand se lewe speel. “Wil jy doodgaan?” Wie het die reg om so iets te vra? Hy vra nie “Waar is jou geld?” of “waar is jou kar se sleutels?” nie. Nee, in Suid-Afrika gaan dit lank nie meer daaroor nie. Ons diewe breek nie meer in omdat hy baie graag jou tv wil hê nie. Hulle breek bloot in met die doel om seer en dood te maak. Hulle is astrant en weet dat hulle nie gevang sal word nie.
En intussen word dit laat en ek weet dit word weer aand – nog ‘n aand waarin ons die donder ure sal ombid vir die son om op te kom.
Gepubliseer .
Daar is ‘n advertensie wat tans op TV wys waarin ‘n skoolseun en -dogter in ‘n klaskamer vryerig raak. Die volgende toneel wys hoe die meisie opgooi en later ‘n boepie kry. Duidelik het hulle gerinkink tot ‘n tienerswangerskap gelei. Almal is natuurlik ongelukkig en kwaad oor die hele petalje. Dan asof daar terug beweeg word in tyd is die tweetjies weer in die klaskamer – maar hulle het die keuse: om ‘n kondoom te gebruik of nie! Al glimlaggend neem die tweetjies nou “‘n wyse” besluit. Ek dog ek kom iets oor. So wat ons nou eintlik vir jongmense leer is: “Dit maak nie saak dat jy rondslaap nie – solank jy net ‘n kondoom gebruik!” In watter wêreld leef ons? Hoe kan dit die boodskap wees?
En ons moet tog nie wegskrum en dink “Ai dit sal nooit met my bloedjie gebeur nie”. Dink weer! Ons tieners en jongmense is blootgestel aan hierdie wêreld waarin dit OK is – want ons is mos “veilig”. Wat het geword van wag vir jou troudag? Wat het geword van selfrespek? Ek weet daar sal nou mense wees wat sê: “Maar hulle gaan dit in alle geval doen, ten minste is hulle dan veilig.” Wat is sopstorie! Ek kan nie aanvaar dat die maar net is hoe dit is nie. Het ander dag in ‘n fliek gehoor iemand sê: “Just because its the way it is, doesn’t mean it is the way it should be”. Dit is presies hoe ek voel – dit hoef nie so te wees nie. Nee, wag – dit mag nie so wees nie.
Ek wens net dat die verantwoordelike persone en besluitnemers in hierdie wêreld het nie die hele ding so “goedkoop” verkoop nie. Ons is ‘n sogenaamde Christen-land en ek weet nie wat die syfers is nie, maar volgens opnames dui die meerderheid van Suid-Afrikaners aan dat hulle Christene is. Hoe is dit egter moontlik dat ‘n nasie wat hulleself as Christene merk – hierdie tipe benadering tot so iets kan volg? Hoe kan ons maar net die gesig wegdraai en sê: “Waarvan praat jy?” en “Ja, maar Vigs is ‘n probleem en op die manier word dit darem beperk.” Ek kan nie sien hoe dit reggepraat kan word nie maar wie weet, dalk is ek wel net te preuts. . .
Gepubliseer .
Dit maak my bitterkwaad as ek e-posse ontvang met die hartseer storie van die een of ander persoon wat die een of ander ongeneesbare siekte het en as ek “‘n hart het” sal ek die e-pos aan mense aanstuur. “As ek ‘n hart het” sal ek ‘n skenking maak. Ek glo nie maklik hierdie stories nie en daarom gaan soek ek gewoonlik oor eers op om uit te vind of die vis wat ek ruik wel ‘n slang in die gras is.
So wrintie waar kry ek toe vanoggend weer so ‘n e-pos wat die hartseer storie vertel van ‘n kindjie wat breinkanker het. Om die hele ding nog erger te maak is daar ‘n foto by van die kind. Die foto was om die minste te sê skokkend en ek was sommer ontsteld daaroor. Nodeloos om te sê was hierdie storie ‘n regte egte “hoax”.
Wat my eintlik die horries in jaag oor hierdie tipe e-posse is beslis die storie van die seuntjie wat oor en oor wolf geskree het. Ek dink daar is baie internetgebruikers wat eenvoudig nie meer hierdie stories lees nie, want daar is al net te veel kere “wolf” geskree.
Lees verder ‘As jy wolf-wolf roep’
Gepubliseer .
Dit is 2009 en nou word daar nou ge-hum en ge-ah oor of saamwoon voor die huwelik nou eintlik verkeerd is. Beide die NG en die NH Kerk wil nou die saak ondersoek en kyk nou na die moontlikheid om ‘n nuwe beleid hiervoor te kry.
Volgens ‘n artikel wat in Rapport verskyn het “het die tyd dalk aangebreek dat die kerk aanpas”.
Van wanneer af moet geloof by die wêreld aanpas? En van wanneer af is dit ok om saam te woon, solank jy dit op ‘n “volwasse manier” hanteer?
Dan is daar nog die woorde van die teoloog, dr. Chris Jones, wat my laat sidder: “Ons verafgond dikwels die huwelik onnodig. Die huwelik is nie ‘n goddelike instelling nie. Dit kan net heilig wees afhangend van hoe dit bestuur word.”
Ek is dalk nie ‘n teoloog nie, maar ek hoef nie een te wees om te weet dat ek nie my geloofstoepassing van dinge kan aanpas soos dit my pas nie. Ek kan nie vandag een ding glo en môre iets anders net omdat die wêreld intussen van sy opinie verander het nie.
Die huwelik IS deur God ingestel, dit is net dat mense dit goedkoop gemaak het. Ons kan maar die huwelik hoog stel, want dit is vir God so belangrik dat Hy die beeld van die huwelik gebruik om Sy verhouding met ons te beskryf.
Gepubliseer .

Geloftefees word lank nie meer net by die Voortrekkermonument in Pretoria of by Bloedrivier in KwaZulu-Natal gevier nie. Die onderstaande artikel het in die e-nuusbrief van Ditsem!Vrystaat verskyn. Blykbaar word die Geloftefees vanjaar ook in Wimbeldon in Engeland gevier:
“Een van die interessante plek waar Geloftefees vanjaar gevier word, is Wimbledon in Engeland. Dit vind plaas om 10:00 in die Hillside Church Hall te Worplelaan 37. Toegang is gratis maar ‘n hoed sal omgestuur word. Navrae: Wynand Kruger, voorsitter Geloftefees UK, +44783 506 3964, of geloftefees_uk@yahoo.co.uk. Ditsem Vrystaat beplan om in sy Desember-uitgawe ‘n lys van Geloftefeeste en waar dit plaasvind in kort teks te publiseer. Dit sal waardeer word indien inligting gestuur kan word aan hermantoerien@iburst.co.za.”