Solidariteit Blog » Flip Buys

Die ANC kry nou van sy eie medisyne, en die hele land word siek
Die ANC-in-regering pluk nou die vrugte van die beleid en beloftes van die ANC-in-struggle, en die hele land ly daaronder. Ene mnr. Sipho Duma, ’n werklose van Thokoza, het die twee kernprobleme in die land beter as ’n politieke wetenskaplike beskryf. “Die regering moet vir ons gee wat ons nodig het. As ons met toi-toi protesteer, moet die regering na ons luister, want hulle het hulself aan bewind getoi-toi,” het hy volgens koerantberigte gesê.

Die politieke hongerdieet waarmee die ANC mnr. Duma en miljoene ander armes se stemme gekry het, het net een bestanddeel en ‘n eenvoudige resep gehad: kom ons struggle tot ons oorneem, en dan sorg die regering verder met die belastingbetalers se geld. Hierdie formule was ŉ treffer, en niemand kon beter doen as dit nie. Miljoene armes het die maklike politiek geglo dat apartheid die oorsaak van hul armoede en die ANC die oplossing is. Daarom het hulle die ANC gesteun vir ’n beter lewe, maar uiteindelik net stemreg gekry.

Met die skryf van die Grondwet was die val van kommunisme nog vars in die geheue, en wou niemand die woord sosialisme meer gebruik nie. Sosialistiese doelwitte is toe in mooi menseregte terme getooi en in die Grondwet geskryf. Niemand kan tog teen menseregte wees nie! Almal kry toe die reg op behuising, gesondheidsorg, onderwys en die lekker lewe – alles gratis en verniet. Die fynskrif is nie aan die armes verduidelik nie. Nou is apartheid uit en die ANC in, terwyl mnr. Duma en miljoene ander ongeduldig wag vir die huise, werk en gratis dienste wat aan hulle belowe is. Daarom struggle hulle, want dis hoe hulle geleer is.

Dit is soos die storie van die hond wat die kar gejaag en toe gevang het, maar toe nie geweet het wat om daarmee te maak nie. Noudat die ANC al vir byna 20 jaar regeer, weet hulle ook nie wat om met die mag en staatsbronne te maak om hulle beloftes aan die armes na te kom nie. Want nêrens in die wêreld was die belastinggeld nog genoeg om vir al die armes te sorg nie. Geld is egter nie die ANC se grootste probleem nie – Staatsvermoë is. Dis nie dat daar nie geld is vir die skole, hospitale en munisipaliteite nie; die staat kan dit net nie meer doeltreffend bedryf nie. Daarom ly die arme stemvee van gister vandag die meeste.

En dit alles met sulke goeie bedoelings. In die apartheidstyd het staatspropaganda die verkeerde beeld van sosialisme geskep. Dit was egter nie bose mense met bose bedoelings nie, maar wel mense wat die onreg en armoede raakgesien het, en juis die mense wou help. Maar dís presies die vangplek. Kissinger het gesê die grondliggende probleem van politiek is nie die beheer van boosheid nie, maar die beperking van goedheid. Daarom het Benjamin Franklin gesê die taak van ’n grondwet is om die burgers te beskerm teen die goeie bedoelings van hulle regerings!

As iemand leedvermaak in my beredenering lees, verstaan hulle nie my argument nie. Dit is noodsááklik dat armoede uitgewis word, anders kan dit die land op sy knieë bring. Maar die strategie moet wees om hulle te help produséér deur middel van gehalte onderwys, opleiding en staatsbestuur, en nie bloot om hulle verbrúík te help verhoog met gratis dienste nie.

Jy kan nie ’n land suksesvol struggle nie, al het Marx ook wát gesê. Stakende werkers, dansende studente en protesterende armes sal niks behalwe groter armoede en ellende teweegbring nie. ‘n Land word suksesvol gewerk, produseer, gestudeer, presteer en bestuur. Dít is die enigste snelweg na sukses. Die ander pad is die grondpad na inploffing en staatsverval. Die vraag is of die ANC in landsbelang die denksprong sal maak van herverdeling na ‘n pro-produksie strategie? Dit is die enigste manier waarop hulle die land en sy armes werklik na ’n beter lewe sal kan lei.

Sterk Regsfonds nodig vir die toekoms van die regsorde
Benjamin Franklin het gesê dat die doel van ‘n grondwet is om die burgery teen die goeie bedoelings van ‘n regering te beskerm. Henry Kissinger agreed, by saying that the most fundamental problem of politics… is not the control of wickedness, but the limitation of righteousness”. Karl Popper also posed a very relevant question in this regard, by asking “how do we keep our rulers from ruining us? Die Nobelprysekoom Milton Friedman het tereg gesê dat dit nie help dat ‘n beleid goeie bedoelings het nie, mens moet na die resultate kyk.

Ons moet onthou dat die grondwet nie ‘n land regeer nie, maar die meerderheidsparty, wat in die lig van die na-1994 magsverskuiwing in die land feitlik eiehandig nasionale wetgewing maak om so inhoud aan die grondwetlike raamwerk te gee. Wetgewing wat die veranderende politieke magsverhoudinge en -beleidsvoorkeure weerspieël.

Daarna implementeer die (getransformeerde) staatsadministrasie die wetgewing, en bestuur die land volgens die regerende party se beleidsrigtings en –vertolking. Die regsprekende gesag vervul hier nie ‘n “opposisierol” soos baie mense verkeerdelik gehoop het by gebrek aan ‘n sterk politieke opposisie nie, en veral nie ‘n tipe “mede-regerende rol soos wat sekere wensdenkers gedroom het nie. Maar dit vul natuurlik ‘n onmisbare korrektiewe- en Waghondfunksie. Maar ons moet natuurlik waak teen wat Prof Koos Malan “Grondwetlike Heilsleer” noem, die siening dat die Reg almal in ons land polities salig kan maak. So eenvoudige oplossing is daar nie. Natuurlik moet die Reg en die Grondwet beskerm word, maar dis die beginpunt en nie die eindpunt van ons verantwoordelikheid om vir ons kinders ‘n toekoms te skep. Daarom is die Solidariteit-beweging se Hofstrategie ‘n belangrike maar klein onderdeel van ons totale strategie, en nie ‘n plaasvervanger vir selfdoenaksies of ‘n burgerlike politieke strategie nie.

Praktyk

Die grondwet bevat onder meer ‘n stel regte waarop burgers geregtig is. Dit beteken ongelukkig nog lank nie dat daardie regte in die praktyk respekteer word nie. Ons moet begryp dat grondwetlike regte net papierregte sal bly as dit nie deur die burgery opgeneem en verwerklik word nie. Maar die individuele burger beskik normaalweg nie oor die kennis en hulpbronne om sy regte te beskerm nie. Daarvoor is lewenskragtige instellings soos AfriForum nodig. Grondwetlike regte en ruimtes beteken tog niks as daar nie sterk instellings is wat daardie regte in die praktyk kan omsit nie!

Indien regte nie opgeneem en praktyk gemaak word nie, kalwe dit mettertyd die grondwetlike regstaat weg. Zimbabwe het nie oornag gebeur nie. Die land het op ‘n tyd seker ‘n goeie grondwet gehad, maar toe daar ‘n magsbehepte regering kom wat dit nie respekteer het nie, het dit prakties die einde van reg en geregtigheid beteken. Boonop was daar nie genoeg sterk en doeltreffende instellings met die nodige regsfondse wat ‘n lewendige burgerlike kultuur kon vestig en instandhou nie. Nee, daar was ‘n groeiende gaping tussen grondwetlike regte en die praktyk, en ‘n nuwe werklikheid is op die manier gevestig; nie ‘n regstaat nie, maar ‘n magstaat.

Wie is volgende?

As iemand se reg deur die owerhede misken word, mag dit niemand koud laat omdat dit “gelukkig nie my raak nie”. Dit raak ons almal, want dis die Reg wat geminag word, nie net ‘n ander persoon se reg nie. Daarom is iemand anders se reg ook my reg, en dus ook ons reg. Ons moet weet dat as ‘n Sakeman van Ermelo se reg vertrap word, dit more met u of ek se reg ook kan gebeur. Ons moet nie eenkant toe draai nie, maar moet eerder vra:” wie is volgende?”, en daardie persoon help.

Persoonlik glo ek dat ons in die Suid-Afrika van 2011 ver van die Zimbabwe Scenario af is. Daar is ‘n groot verskil tussen SA as ‘n verswakkende staat, en Zimbabwe as ‘n swak en vervalde staat. Ons het hier nog ‘n goeie regstelsel en wêreldklas juriste waarvoor ons almal baie dankbaar kan wees. Maar ons moenie die positiewe scenario as vanselfsprekend aanvaar nie, ons sal moet werk om dit so te hou, want daar is al baie tekens dat die regte van die burgery onder druk is en dat daar nog groter druk gaan kom.

Maar ons het ook ‘n eenparty oorheersde staat, met ‘n regering wat soveel gelyk vir die mense wil doen, dat hulle nie altyd die regsorde genoegsaam respekteer nie. Daarby sit ons met ‘n staatsadministrasie wat self nie altyd genoeg respek vir die reg het nie. Hoeveel keer moes ons al self uitsprake teen die staat kry om hulle werk te doen, net om beskuldig te word dat ons “teen transformasie “ is, in plaas daarvan om ons te bedank omdat ons vir die Reg opkom.

AfriForum Regsfonds

AfriForum word oorval met talle geldige sake waar gewone mense se regte op ‘n skreiende manier misken en selfs vertrap word. Ons kan nie by alles uitkom nie, ongeag die meriete van baie van die sake. Die ANC het na 1994 met grootskaalse kulturele vandalisme weggekom deur die afskaling en verwaarlosing van ons taal, en die veldtog teen Afrikaanse skole en Universiteite. Nog talle ander voorbeelde kan genoem word, soos die rasgedrewe transformasie (ontslae raak van kundigheid) van die Staatsdiens en die verval van munisipale dienste waarvoor mense belasting betaal. Hulle kon doen wat hulle wou en daarmee wegkom, omdat die Afrikaanse burgery nie die fondse gehad het om homself teen die Staat te verdedig nie. ‘n Regstaat word instandgehou met Regsake. Daarom is ons by AfriForum baie dankbaar vir die meer as dertigduisend mense wat maandeliks ‘n bydrae lewer om die beskerming van ons burgerregte te befonds. Maar ongelukkig is alle aanduidings daar dat daar nog talle meer sake in die toekoms gaan wees, soos die ANC gaandeweg die liberale bedeling omskep in ‘n linkse bestel wat hulle oorspronklike rewolusionêre doelwitte weergee.

Weeg eerder as tel

My oortuiging is dat die oplossing vir minderhede nie is om hulle te laat tel nie, maar om hulle te laat weeg. Ons weeg meer as wat ons tel. Ja, ons het nie politieke mag of -toegang nie, maar ons kan steeds wanneer nodig deur die howe toegang tot die owerheid kry om ons regte te beskerm. Met suksesvolle sake soos die Zimbabwe en –Malema sake het AfriForum reeds ‘n belangrike bydrae tot die vestiging van waardes en die oppergesag van die Reg gemaak, al neem dit ‘n tydjie om in te sink. Langenhoven het met reg gesê ‘n hond wat gewys het hy kan byt, hoef volgende keer net te knor!

Daarom is ‘n Waghond of Drukgroep soos AfriForum baie nodig- nee, noodsaaklik, om die regering op alle vlakke en op alle gebiede op hulle tone te hou deur te waak oor die regte en belange van burgers en belastingbetalers.

Ekonomiese vryheid begin met opleiding
Die hoofoorsaak van armoede is dat armes nie aktief aan die ekonomie deelneem nie. In kort – mense is arm wanneer hulle nie ŉ goeie werk het of kan kry nie. Armes het gewoonlik ook nie die kennis en vaardighede om self ŉ suksesvolle besigheid van stapel te stuur nie. Wie nie deelneem aan die ekonomie nie, kry nie die voordele van deelname soos ŉ salaris nie.

Die ekonomie vergoed mense volgens die grootte of waarde van hulle bydrae tot die ekonomie. Hierdie waarde word hoofsaaklik deur die mark se vraag en aanbod bepaal. Die vraag na die dienste van ŉ opgeleide ingenieur is hoër as die vraag na ŉ ongeskoolde handewerker. Daarby lewer ingenieurs ŉ groter bydrae met ŉ hoër waarde, omdat hulle beter opgelei is.

Dit beteken dat ŉ werknemer se vergoeding regstreeks deur sy vlak van opleiding en vaardigheid bepaal word.

Voordele van opleiding

Navorsing bewys duidelik dat opleiding veral twee belangrike voordele het.

Hoe beter mense opgelei is, hoe hoër is hulle vergoeding

Die werkloosheidskoers van opgeleide mense is veel laer as normaal, en as hulle hulle werk verloor, kry hulle vinniger weer werk.

Ekonomiese vryheid

Ekonomiese vryheid beteken verskillende goed vir verskillende mense. Sosialiste sien dit as “vryheid van behoeftes” soos geld, behuising of gesondheidsorg en elektrisiteit.

Die pad na ekonomiese vryheid vir sosialiste is dat geld deur belasting van werkendes gevat  word en aan armes gegee word in die vorm van toelaes, dienste, staatsdiensposte, ens. In die praktyk is hierdie stelsel nie in Suid-Afrika moontlik nie, omdat net 10% mense belasting betaal. Geen mens kan op die lang termyn meer betaal word as wat hy bydra nie.

Ondersteuners van die vrye mark sien ekonomiese vryheid as die vryheid om jou eie ekonomiese besluite te neem, sonder inmenging deur die staat. Hierdie siening het baie sin, maar net as mense se onderwys en opleiding goed genoeg was om aan die vryemarkekonomie deel te neem (of te mag deelneem – dis nie ŉ resies wat iemand moet wen nie).

Padkaart na vryheid

Daarom begin Solidariteit se padkaart na ekonomiese vryheid by goeie onderwys en opleiding.

In enige moderne ekonomie is ongeskoolde en swak opgeleide mense arm en werkloos, of het hulle onsekere en swak betalende werk.

Onderwys

Solidariteit is nie self betrokke by onderwys nie en ondersteun organisasies soos die Suid-Afrikaanse Onderwysunie en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrika (Fedsas).  Verder is ons Helpende Hand betrokke by verskeie ondersteuningsprojekte, soos die Skooltassie- en die Kosblikkieprojek. Ons het die afgelope vyf jaar al byna 12 500 skooltassies met skoolskryfbehoeftes uitgedeel. Daarby is daar skoolvoedings- en ander hulpprojekte.

Opleiding

Solidariteit se rol met opleiding is veel groter. ŉ Paar rand van elke lid se ledegeld gaan maandeliks vir die Helpende Hand se beursfonds, waarmee meer as 500 beurse jaarliks toegeken word. Ons wil hierdie beursfonds grootskaals uitbou, omdat ons vyf keer meer aansoeke kry as wat daar beurse beskikbaar is.

Ons tweede projek is ons Tegniese Kollege, Sol-Tech, waar tans sowat 600 vakleerlinge studeer. Ons gaan dit aanstaande jaar na 800 jongmense uitbrei, omdat ons oorval word met aansoekers.

Solidariteit begin volgende jaar ŉ afstandsakademie, wat ŉ universiteit in wording is.  Ons skop Maart volgende jaar die Akademie af met sentrums in Pretoria, die Oos-Rand, Wes-Rand, Vaaldriehoek en Bellville.

Ons beoog om volgende jaar minstens 300 studente te hê in rigtings soos Kleinsakebestuur, Rekeningkunde en Kantooradministrasie.

Kampus-bouprojek

Ons begin volgende jaar bou aan ons eie kampus, waarheen ons by voltooiing Sol-Tech en die Akademie wil skuif sodat duisende mense daar opgelei kan word. Die Kampus gaan sowat R150 miljoen kos.

Hierdie opleidingsprojekte word befonds deur die Solidariteit Groeifonds, waartoe elke lid maandeliks R10 bydra.  Daarbenewens dra ons besigheidsbeen ook jaarliks miljoene rande tot opleiding by, waarvan die grootste gedeelte uit ons Auto & General-korttermynskema kom.

Sowat ŉ duisend jongmense baat tans by ons opleidingsprojekte. Ons hoop om dit binne vyf jaar uit te brei na 5 000 jongmense.  Dán sal ons regtig ŉ verskil maak.

Studiefonds

Ons beoog om ons studiefonds om twee redes nog groter uit te bou:

Ons droom is om ŉ studiefonds te bou wat groot genoeg is sodat ons alle jongmense wat wil studeer kan help om hulle drome waar te maak.

Die tweede doelwit is om ons huidige lede ook te help om hulle kwalifikasies te verbeter. Dit sal hulle in staat stel om beter werk met beter vergoeding te kry.

Opleiding is die enigste pad na ware en blywende ekonomiese vryheid. Die geskiedenis het oor en oor bewys dat die ander paaie net doodloopstrate na armoede en ellende is.

Solidariteit se krag lê in ons lede. Kyk hoe ver het ons reeds gekom met ons lede se tien rande. Met ŉ paar rand per lid lei ons reeds duisend lede per jaar op, en spaar ŉ duisend ouers groot bedrae aan studiegeld.

Met die nuwe planne om ons Studiefonds grootskaals uit te brei, kan ons saam vir derduisende mense help om hulleself te help. Dit is die enigste pad na ware ekonomiese vryheid.

Kammaland of Moerland?
Afrikaanse universiteite ŉ kammaland? Die alternatief is (Chris Barnard se) Moerland!

Die afgelope week is ŉ debat oor Afrikaans op universiteit by Aardklop gehou waaraan ek en prof Adam Habib van die Universiteit van Johannesburg (UJ) deelgeneem het. Die debatsvraag was of Afrikaanse universiteite nie ŉ ‘kammaland’ is nie. Daar is die afgelope dekade oor en oor gepraat oor Afrikaans op universiteitsvlak – met presidente, ministers, rektore, rade, regsgeleerdes, akademici en studente. Van al die beloftes, die gerusstellings en die versekerings, van al die vrugbare samesprekings en van die opwindende proefnemings met nuwe modelle en positiewe regeringsgesprekke in of oor Afrikaans het daar bitter min gekom, behalwe meer en meer Engels. Ons is nie meer in 1994 of 2004 nie, ons hoef ons nie meer te laat beïndruk met al die mooi bedoelings of voornemens nie, ons kan kyk na die uitkomste van al die beleide en mooipraatjies. Die debat is verby, die feite is nou daar vir almal om te sien. My standpunt word in ŉ paar kort stellings uit my debatsnotas opgesom:

1. Afrikaans is onder groot druk by universiteite

Die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) is nog een van die min ankerpunte vir Afrikaans, maar ons taal is by die meeste universiteite onder groot druk. Dit is nog veel erger in die naskoolse sektor ‒ dáár is ongelukkig nie ŉ “Potchefstroom” nie.

2. Moedertaalonderrig is die beste opleidingsmodel

Ons hoef nie meer te wonder oor die belangrikheid van moedertaalonderwys en -opleiding nie, die navorsing en die bewyse is daar vir almal om te sien. Al waaroor ons nog moet wonder, is hoeveel jongmense se lewens nog vernietig moet word deur ŉ politieke ideologie voordat ons land se leiers iets meer as lippediens aan moedertaalonderwys gaan betoon.  Moedertaalonderwys is eerstens ŉ goeie opleidingsbeginsel en eers daarná ŉ taalbeginsel. (Business Day, 22 Julie 2011: Regeringsbeleid van tweedetaalonderrig oorsaak van onderprestasie in wiskunde en lae geletterdheidsvlakke) Leerders wat die Wiskunde toets geskryf het in hulle moedertaal kry 48%, ander kry 23%, of oor die 50% swakker!

3. Stem met voete vir Afrikaanse gehalte-onderrig en lewenswyse

Afrikaanse ouers en jongmense het met hulle voete gestem vir gehalte-onderrig in Afrikaans asook vir ŉ universiteit waar hulle nog ŉ Afrikaanse studentelewe en lewenswyse kan geniet. Dit terwyl hulle hulself nie geïsoleer het nie en steeds kontak gehou het met die werklikhede van Suid-Afrika. Hulle het so pas in Tukkies se studenteraadverkiesing oorweldigend vir Afrikaans gestem deurdat AfriForum Jeug loshande gewen het.

Die feite het gewys dat dit ŉ wenresep is om op universiteit in jou moedertaal te leer en dit daarna, waar nodig, te gaan toepas in ŉ ander taal soos Engels. Hierdie model het beter gewerk as ander modelle waar studente in ŉ tweede taal probeer studeer het om hulself kwansuis beter vir die arbeidsmark voor te berei. Afgestudeerdes van voormalige enkelmedium, Afrikaanse universiteite is wêreldwyd hoog in aanvraag.

4. Afrikaans is ons taal ‒ ons hoef dit nie te verduidelik of te verdedig nie

Die groot massa Afrikaanssprekendes het gekies vir gehalte-onderwys in hulle taal ‒ omdat dit hulle taal is. Ons hoef dit nie te verduidelik of te verdedig of te regverdig nie. Dis nie ŉ Kammaland nie. Die alternatief, om Chris Barnard se boek aan te haal, is Moerland!

5. Die afskaling van Afrikaans is ŉ onreg en ŉ ramp

Die afskaffing of afskaling van Afrikaanse hoër en beroepsonderwys is ŉ onreg teenoor en ŉ ramp vir duisende Afrikaanse jongmense wat daardeur van lewenskanse ontneem word. Hierdie institusionele uitsluiting van Afrikaanse jongmense uit universiteite soos die UJ en veral universiteite van tegnologie en kolleges vir verdere onderwys en opleiding (VOO) het duisende jongmense van die kans op opleiding ontneem en nie net van die kans op Afrikaanse hoër opleiding nie. Arm Afrikaanse jonges kan nie Potchefstroom toe ry of daar gaan bly nie; hulle word van hulle reg op Afrikaanse hoër opleiding ontneem.

Voorbeeld: Die aantal wit studente aan universiteite van tegnologie het van 43 000 studente in 1993 na net 14 042 in 2008 afgeneem (dus, ŉ afname van 67%). Persentasiegewys is dit ŉ afname van 19,4% na net 10% (dus, ŉ 48,5%-afname) in die aantal wit teenoor ander studente. (SA Survey 2008/2009, SAIRR). Wat die VOO-kolleges en sakereuse se AA-gedrewe opleiding betref, lyk die prentjie nog slegter.

6. Privaat en gemeenskapsinisiatiewe is enigste kans vir hierdie jongmense

Die stryd téén armoede en ongelykheid is terselfdertyd ŉ stryd vír gehalte-opleiding in Afrikaans. Elke geslag moet beter opgelei wees as die vorige een. Voortspruitend uit professors Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer se navorsing in ’n Vaste plek vir Afrikaans, het die Solidariteit Beweging besluit om volgende jaar ŉ telematiese Afrikaanse hoër onderwysinstelling (universiteit, technikon en kollege) te stig. Ons werk al jare daaraan, en handel tans die registrasieproses af. Ons wil volgende jaar ses landswye telematiese leersentrums oprig.

Ons bedryf reeds die land se enigste Afrikaanse tegniese kollege, Sol-Tech, wat ook een van die grootste en beste kolleges is, soos gemeet aan sy slaagsyfer van 96% teenoor die staatskolleges se 46%. Die grootste skenking wat ons hiervoor gekry het, was R10! Die kollege is gebou met die R10 wat van elke Solidariteit-lid se maandelikse ledegeld afkomstig is, wat dit een van die grootste helpmekaaraksies in die land maak.

7. Afrikaanse akademiese tradisie van die min suksesverhale in Afrika

Postkoloniale suksesverhale in Afrika is skaars. Afrika het ná die “scramble out of Africa” in die 1960’s oorwegend die pan-Afrikaanse ideaal gegrond op swart nasionalisme gevolg. Daar is gekies om etniese identiteit te ignoreer.

Omdat etnisiteit in belang van pan-Afrikanisme onderdruk moes word, is die koloniale taal as onderrigmedium en taal van geleerdheid aangewend. Die tragiese uiteinde hiervan is welbekend. Wat nog tragieser is, is dat die regering hierdie rampresep hier herhaal.

Een uitsondering op die mislukking is die suksesvolle Afrikaanse akademiese tradisie. Nadat Afrikaners militêr onderwerp, ekonomies vernietig en polities ondergeskik gestel is, het hulle stadig maar seker begin om hulle posisie te herwin. Die slagspreuk “Suid-Afrika eerste” het oorlog teen ŉ koloniale mentaliteit verklaar. Groot staatskorporasies is opgerig sodat Suid-Afrika se minerale rykdom tot voordeel van Suid-Afrikaners ontgin kon word. Die mannekrag moes in Suid-Afrika opgelei word, sodat die land ontwikkel kon word deur mense vir wie Suid-Afrika die middelpunt van hulle wêreld was.

Afrikaners het spoedig in opstand gekom teen kulturele ondergeskiktheid in hulle eie land. Die stryd het met aandrang op Nederlands as skooltaal begin, maar spoedig na Afrikaans as skool- en universiteitstaal oorgegaan. Politieke onafhanklikheid met die Statuut van Westminster in die 1930’s is gerugsteun deur die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat se Afrikaanswording naas Stellenbosch en Potchefstroom wat reeds Afrikaans was. ŉ Florerende akademie het gevolg. Arm plaaskinders uit afgeleë distrikte kon internasionaal erkende kundiges op hulle gebiede word, want hulle kon die akademie in hulle moedertaal betree.

Daar is mense wat die Afrikaner net as “colonialists of a special kind” kan sien. Daardie mense kan nie sien dat Afrikaner ŉ postkoloniale roete uitgekap het wat dit vir die agtergeblewe bevolkingsmassa moontlik gemaak het om in te haal, om as gelyke om die tafel met sy eertydse heerser te sit nie. Sulke mense het verkies om hulle eie moedertaal (“tribe”) prys te gee sodat die “nation” kan lewe. Hulle sien hoe hulle die groot meerderheid van hulle eie mense verder en verder in armoede versink, maar hulle kan nie help nie; hulle het die moedertaal as postkoloniale reddingsboot verwerp. Daardie mense beroof die Afrikaner van sy postkoloniale reddingsboot wat tot suksesvolle handelsvloot gegroei het. Hulle vervang dit met onderwys alleen deur die medium van Engels, en hulle noem dit bevryding van die juk van apartheid en kolonialisme.

Afrikaanse universiteite ŉ kammaland? Nee, eerder die polsslag van bevryding van ŉ postkoloniale werklikheid. Die oorwegend swart Engelssprekende universiteit wat dr Nzimande beskryf, die een wat verbruikers eerder as produsente van kennis is, waar afgestudeerde studente nie vertroud met die ontwikkelingsuitdagings van ons land is nie, wat denkbeelde uit die ontwikkelde wêreld weerspieël sonder om dit plaaslik te interpreteer, sal Suid-Afrika deur kammaland na Moerland voer.

8. Afrikaans en onderwys: ŉ Paar aanhalings

“Onderwys is die belangrikste voertuig vir die behoud van ŉ taal.” Prof Andries Postma van Nederland

“Once a language is no longer used for educative purposes, its decline is inevitable.” Glynn Lewis in Multilingualism in the Soviet Union

“ŉ Taal is meer as net ŉ stel woorde ‒ dit verteenwoordig ŉ hele kultuur, lewenswyse en uitkyk, waardestelsel, letterkunde en tradisie. Die waarde daarvan kan nie in rand en sent gemeet word nie.” Volksblad, 28 Oktober 1994.

“Dit is die geboortereg van die Afrikaanse moedertaalsprekers dat hulle hul taal mag gebruik ‒ ŉ skending van hulle taalregte is ŉ skending van hulle menseregte.” Prof Rena Pretorius, voormalige hoof: Departement Afrikaans, UP

In 2001 doen die Gerwel-kommissie ŉ aanbeveling dat die NWU en die Universiteit van Stellenbosch (US) spesiale mandate moet kry om Afrikaans bewustelik en stelselmatig in onderrig en navorsing te bevorder.

Vanjaar ontvang die NWU en die US weer toekennings vir die bes bestuurde universiteite. Die US was onder die top 500.

Kosmopolitiese universiteite wêreldwyd is ingebed in plaaslike identiteit of kultuur. Hoekom kan universiteite nie wêreldklas kosmopolitaans en Afrikaans wees nie? Of Afrikaans én Suid-Afrikaans? (Professor Deon Geldenhuys)

Die UJ se argumente oor nasiebou/kosmopolitaans is ŉ reënboogkleurige rookskerm vir inlywing by die meerderheid se oorheersende Anglo-Afrika-kultuur. Dis krummels om die moord op akademiese Afrikaans te legitimeer deur die koöptering van ŉ handjievol Afrikaanssprekendes. Afrikaanse universiteite is net so goed of beter toegerus om die wêreld te betree.

“Die strategiese briljantheid van die begrip “transformasie” lê daarin dat weerstand daarteen met min moeite afgemaak kan word as moreel verwerplik: Hy wat transformasie teenstaan, so word geargumenteer, veg vir die behoud van onregverdig verkreë voorregte en vir die voortgesette agtergeblewenheid van swart Suid-Afrikaners wat wêreldwyd erken word as die slagoffers van gevoellose wit brutaliteit.” Van Zyl Slabbert in Duskant die Geskiedenis

“Skyn die son nie dieselfde vir die hele wêreld nie? Asem ons nie almal saam die lug in nie? Is jy nie skaam om slegs drie tale toe te laat en ander mense tot blindheid en doofheid te veroordeel nie? Sê my, dink jy God is hulpeloos en kan nie gelykheid bewerkstelling nie, of dat hy jaloers is en dit nie sal skenk nie?” Sint Konstantyn in die agtste eeu

Ma! Pietertjie slaan terug!
Die ANC se skreeuende reaksie op AfriForum se haatspraak-oorwinning laat my dink aan ŉ storietjie uit my kinderjare. Daar het ŉ boelie in die buurt gebly, wat veral op die bure se klein Pietertjie gepik het. Boelie het die arme Pietertjie kort-kort getimmer totdat dié se Pa seker dik vir die storie geword het en vir Pietertjie ŉ paar truuks geleer het. Nie lank daarna nie was dit weer sulke tyd: Boelie jaag vir Pietertjie. Maar die keer het dinge anders verloop, en nie lank daarna nie kom Boelie huil-huil by die huis met ŉ blou oog aangehardloop: “Ma Ma, Pietertjie slaan terug, Pietertjie slaan terug!

Die ANC hou daarvan om te slaan, maar nie om teruggeslaan te word nie. Hulle wil die boelies wees wat maak en breek soos hulle wil en hul staatsmag en ons belastinggeld gebruik om hulle wil op almal af te dwing. En wee die slagoffer wat kla of dit net durf waag om teen hierdie mishandeling te protesteer of om homself daarteen te verweer. Dan is hy alles wat sleg is, en gun hy nie die ANC om sy bloedige erfenis te bewaar nie. Die ergste is die Afrikaanse ANC-simpatiseerders wat soos die gesin van die mishandelde kind die hardhandige Pa se kant kies as die polisie ondersoek kom instel. Waarskynlik uit vrees dat die Pa nóg kwater gaan word vir die inmengery van die gereg en hulle dan ook ŉ oorveeg of twee gaan gee!

Ons moet tog net nie pateties raak nie!

Ons moet tog net nooit pateties raak nie, byna soos ŉ mishandelde vrou wat nie wil gaan kla nie, haar man steeds verdedig en die fout vir sy aanranding by haarself bly soek. Kom ons kyk na die kern van die saak: AfriForum het ŉ saak gemaak teen Malema se hatige opswepery van swart teen wit. Swartmense is opgesweep om witmense dood te maak, punt. Dit terwyl ons land reeds geteister word deur die hoogste geweldsmisdaad in die wêreld, en nadat plaasmoorde bykans daagliks met “eentonige” geweld plaasvind. Én nadat AfriForum die leier van die ANC en president van die land by verskeie geleenthede gevra het om sy jeugleier in toom te hou. Dis mos nie ŉ kleinigheid as iemand mense hatig opsweep om rassegeweld te pleeg nie! Waarvoor is die howe en die polisie dan daar as hulle nie mense teen geweldenaars moet beskerm nie? Die saak het veel eerder gegaan oor die mislukking van leierskap en die gevolge daarvan. Die ANC moet eerder dáároor kla as oor AfriForum se hofsaak. As Malema aan die begin aangespreek is het dit nooit ŉ probleem geraak nie. Afrikaners moet tog nooit pateties raak nie. Ek neem ernstig aanstoot dat die ANC kwaad word as ons ons mense se lewens teen ŉ rassistiese opstoker moet verdedig wat soos ŉ wafferse Idi Amin niemand in sy magsug sal ontsien nie.

Grondwet

Die vraag is hoekom soveel linkse en liberale woordvoerders ŉ probleem met die “Skiet die Boer”-hofsaak en -uitspraak het? Hierdie mense is dan in die reël klokslag volspoed op Ou Ryperd as iets of iemand bedreig- of die Grondwet geskend word! Die antwoord is maklik: “Boerebashing”! Kom ons wees eerlik – as die liedjie oor enige iets anders as wit Afrikaner boere gegaan het of deur ŉ wit boer met “swart” woorde gesing is, was die wêreld in opstand. Dít mag nie. Maar nou was dit ŉ swart ANC-leier wat die wit Afrikaner boere wil doodsing. Dít mag wel. Nie dat hulle hul eie rassisme sal erken nie. Nee, hul eie anti-wit en anti-boer rassisme word agter flou argumente weggesteek soos ‘so ŉ saak sal nie help nie’, ‘Malema kry net publisiteit’ ens., ens. Asof niksdoen sou help en asof Malema nie oorgenoeg publisiteit kry nie!

Diegene moet maar kennis neem wat die Belgies-Amerikaanse politieke wetenskaplike Pierre van der Berghe oor rassisme gesê het:

“If your constituency has the good fortune to contain a demographic majority, racism can easily be disguised as democracy. A racially-defined majority is a far cry of a majority made up of shifting coalitions of individuals on the basis of a commonality of beliefs and interests.”

Linkses moet maar ophou skree en raas omdat Pietertjie terugslaan en eerder die fout by hulle eie rassisme soek, en liberales moet maar eerder bly wees dat die Grondwet deur AfriForum verdedig word. Dis nou dalk lekker as die Boere doodgewens en -gesing word, maar een van die dae is dit dalkies júlle beurt – en wie gaan dan help?

Vertrouensbreuk kan deur kulturele ooreenkoms herstel word
Die ANC se hantering van die haatspraaksaak dryf die groeiende vertrouensgaping tussen die regerende party en talle Afrikaners op die spits. Die ANC verdraai nou die uitspraak as sou dit hulle struggle-erfenis verbied. Dit is onwaar, en dit is ook nie wat AfriForum vir die hof gevra het nie. AfriForum se saak het gegaan oor Malema se rassistiese opsweping van swartmense teen witmense, Afrikaners en Boere in ŉ land wat reeds deur geweld geteister word. Malema se dreunkrete het nie die ANC-verlede probeer verheerlik nie, maar was daarop gerig om swart teen wit op te stook. Die saak is gemaak nadat alle pogings gefaal het om die probleem met gesprek op te los. As die ANC aan die begin van die krisis opgetree het, sou die regter dit nie nodig geag het om so drastiese uitspraak te maak nie.

Die vertrouensgaping tussen die ANC en Afrikaners het in die tweede termyn van die Mbeki-administrasie ontstaan, en mettertyd gegroei tot wat nou as ŉ vertrouensbreuk beskryf kan word. Dit het gespruit uit mnr. Mbeki se verdelende rasse-uitsprake, en is vererger deurdat die regering die land al swakker regeer het totdat selfs gesaghebbende ontledings soos die Dinokeng Scenario teen die gevaar van ŉ mislukkende staat begin waarsku het.

Aan die begin van die Zuma-bewind het Afrikaners oor die spektrum heen na hom uitgereik, en vir ŉ tydperk het die hoop opgevlam dat ŉ minder rasbewuste president die verhoudinge kan herstel in belang van die land en al sy mense. Namate dit duidelik geword het dat die ANC hierdie gesprekke nie ernstig opneem nie, het die belangstelling om te praat begin verflou en het die president sy politieke kapitaal verspil.

Die knellende probleme van Afrikaners spruit uit wat die Kanadese filosoof Charles Taylor “demokratiese uitsluiting” noem. Dis waar ŉ meerderheid die grondliggende belange van ŉ minderheid met hulle getalle bloot wegstem, soos byvoorbeeld hulle werks-, taal-, grond of onderwysregte- of waar hulle belasting bloot gevat word sonder dat hulle belange ook daarmee gedien word. Die president het in sy staatsrede gesê dat politieke vryheid sonder ekonomiese vryheid betekenisloos is. Maar politieke vryheid sonder kulturele vryheid is maar net so betekenisloos.

Oorheersing

Timothy Sisk, die Amerikaanse politieke wetenskaplike, beskou hierdie uitsluiting as die rede hoekom minderhede wêreldwyd ŉ gewone demokrasie as strukturele oorheersing deur die meerderheid sien, en nie as vryheid nie. Hulle beleef dít waarteen die kenner van multi-etniese samelewings Donald Horowitz gewaarsku het: “gewone meerderheidsregering sal in ŉ land soos Suid-Afrika slegs een soort rasse- of etniese oorheersing vir ŉ ander verruil.” Vir baie lede van minderheidsgroepe voel dit of die ANC soos ŉ faksieregering téén hulle regeer – dat demokrasie maar net ŉ geldige rookskerm is vir oorheersing. Dit is nou maar so dat minderhede moet veg vir dit wat meerderhede as vanselfsprekend aanvaar. Daarom het selfs die Verenigde Nasies (VN) al in 2004 in ŉ gesaghebbende verslag ernstig teen “kulturele uitsluiting” gewaarsku, waar die minderheid se instellings, waardes en lewenswyses nie erken en gerespekteer word nie, of waar hulle op grond van hulle identiteit – soos nou met die haatspraaksaak waar die ANC vir Malema ondersteun – geteiken word.

Kontrakbreuk

Daar bestaan ŉ kontrak tussen ŉ regering en sy burgers. Dit behels dat die burgers die regering toestemming gee om oor hulle te regeer en instem om die owerheid te gehoorsaam en belasting te betaal, mits die regering sy deel van die kontrak nakom deur die land goed te regeer; belasting verantwoordelik te gebruik; almal en nie net sy eie kiesers se belange te dien nie; en sy kernfunksies soos veiligheid behoorlik nakom. In die lig hiervan is daar ŉ groeiende siening dat die regering nie meer sy deel van die kontrak nakom wat Afrikaners betref nie. Dit is onderliggend aan die groeiende vertrouensbreuk. Die ANC se ondersteuners het wel kanale om hulle griewe in die party te hanteer, maar minderheidsgroepe is demokraties uitgesluit en kan nie hulle vertrouenskrisis langs “normale” kanale hanteer nie. Die tallose gesprekke sedert 1994 tussen verteenwoordigers van Afrikaanse organisasies met die ANC en die regering, het sonder uitsondering nog op niks uitgeloop nie.

Verdien vertroue

Hierdie vertrouenskrisis moet nie ligtelik opgeneem word nie. Charles Taylor het gesê dat tussengroep vertroue in multi-etniese samelewings nie vanselfsprekend aanvaar kan word nie, maar as ŉ werk-in-wording gesien moet word. Die regering moet almal se vertroue verdien – dit kom nie vanself of goedkoop nie. Volgens Taylor is dit baie belangrik dat dit gereeld hernuwe moet word, omdat vertroue na ŉ verloop van tyd begin taan en kwyn, met negatiewe gevolge vir die land en alle betrokkenes. Versoening kan nooit werk as dit verskraal word tot inlywing by die meerderheid nie.

Die enigste manier om hierdie vertroue te hernu of te herstel is gesprekke wat op ooreenkomste uitloop wat die knelpunte wat die probleem veroorsaak het, sal ontlont. Uiteraard het die regering hier die grootse verantwoordelikheid, omdat hulle ŉ monopolie op staatsmag en -bronne het. Maar om te verseker dat dit nie maar weer net in ŉ doellose gepraat ontaard nie, bestaan daar twee voorwaardes vir so gesprek:

Die eerste is dat wedersydse erkenning en respek vir mense, gemeenskappe, kulture en menselewens ononderhandelbaar is. Die ANC se ondersteuning van Malema se haatspraak het tot groot wantroue onder Afrikaners teenoor hulle gelei.

Die tweede is dat dit nie net by praat moet bly nie. Dit mag nie net ŉ eensydige verduideliking van regeringsbeleid of ŉ begrypende geluister na Afrikaners se bestaanskrisisse wees nie, maar moet op ŉ ooreenkoms of ooreenkomste uitloop soos ŉ opvolg- of ŉ kulturele skikking wat wel in werking gestel word en nie maar net op die rak bly lê nie.

Die ANC kan nie alleen die land se probleme oplos nie. Afrikaners wil graag op ŉ opbouende manier help om oplossings vir ons land en ons gemeenskap se probleme te ontwikkel. Maar dan moet hulle die ruimte en geleentheid gegun word, en nie as politieke slaansakke misbruik word vir alles wat verkeerd is nie.

Die toekoms van werk
Globalisering, die nuwe ekonomie, tegnologie, werkloosheid – wat hou die toekoms van werk in vir die gemiddelde werknemer?

Die ekonomie is wêreldwyd besig om te verander, en die werksmag daarmee saam. Optimiste voorspel ŉ hemel op aarde waar robotte bykans al die werk doen en mense op ŉ permanente vakansie is. Pessimiste voorspel ŉ hel op aarde waar robotte al die werk doen, en mense permanent werkloos is.

Die waarheid lê nie in een van hierdie twee uiterstes nie, maar die feit is wel dat dryfkragte soos nuwe tegnologie en globalisering die werksplek wel heeltemal gaan verander. Die toekoms van werk gaan gevolglik nie soos die verlede wees nie.

Die wêreldwye mededinging tussen maatskappye, dwing almal om beter en goedkoper produkte vinniger te maak en te versprei.

Handewerk na kenniswerk

Alles gaan oor hoër produktiwiteit: om al hoe meer te doen met al hoe minder.

Dit beteken dat maatskappye deurlopend hoër tegnologie en doeltreffender produksieprosesse moet inspan om voor te bly. Dit het wêreldwyd die gevolg dat die kundigheidsvlakke en vereistes wat aan werknemers gestel word, verhoog. Daar is al hoe minder handewerkers en al hoe meer kenniswerkers in die ekonomie.  Daar gaan net twee klasse oorbly, maar ander klasse as wat Marx gedink het: kenniswerkers en werkloses!

Die omvang hiervan op ŉ wêreldskaal is verbysterend. Daar is al hoe minder werksgeleenthede vir swak en middel geskooldes, en al hoe meer vir hoog geskooldes.  Daar is gewis ŉ grondverskuiwing vanaf handewerkers na kenniswerkers. Al hoe minder mense kry dus al hoe meer geld.

Masjien vervang mens

Tydens die Nywerheidsrewolusie is die perd deur die masjien vervang. Maar waar die masjien vroeër die perd en mense se spierkrag vervang het, vervang die rekenaar nou die mens se breinkrag deur sy onverbeterlike vermoë om inligting te verwerk. Die impak van hierdie nuwe omwenteling is gevolglik baie groter as die Nywerheidsrewolusie.

Ekonomiese struktuur

Dit bring alles mee dat die struktuur van die ekonomie vanaf die mynbou, landbou en fabriekswese na ŉ tegnologiekennis en dienste-ekonomie verander het. Die gevolg hiervan is dat meer hoogs opgeleide mense nodig is, en baie minder ongeskooldes. Die struktuur van die werksmag verander dus vanaf ŉ piramide na ŉ onderstebo-piramide.

SA werksmag

Daar is twee kragte wat op die Suid-Afrikaanse werksmag inwerk. Die eerste is die hoogs moderne ekonomie wat wêreldmededingend moet wees en wat hoëvlak mensekrag vereis.

Die tweede krag is die massiewe ongeskooldheid, onderontwikkeldheid, armoede, werkloosheid en ongelykheid in die land. Die harde werklikheid is dat miljoene mense in die land werkloos is, omdat hulle weens swak onderwys en opleiding eintlik onindiensneembaar is. Daar is nou meer as 800 000 oop poste in die ekonomie wat om hierdie rede nie gevul kan word nie. Die belangrikste dryfveer van hierdie krisis is ekonomiese kultuur en die swak onderwys- en opleidingstelsel in die land.

Die toekoms van werk

Die toekoms van werk lê in hoër- en hoogs opgeleide personeel, wat hulleself deurlopend ontwikkel in ŉ kultuur van lewenslange leer.

Betekenis

Die betekenis hiervan is dat lewenslange opleiding en ontwikkeling in die toekoms ŉ ongekende belangrikheid gaan inneem.

Opsommende neigings

1.	Werk in die toekoms gaan op al hoe hoër vlakke wees.

2.	Daar gaan bitter min geleenthede vir swak- of middelopgeleide mense wees.

3.	Gehalte opleiding gaan deurslaggewend vir die toekoms wees.

4.	Deurlopende opleiding en ontwikkeling en lewenslange leer is noodsaaklik.

5.	Hoër opgeleide mense se vergoeding gaan al meer word.

6.	Hoër opgeleide mense se werkloosheidskoers gaan laer wees en as hulle hul werk verloor sal hul gouer weer werk kry.

7.	Ons lede gaan deur rassewetgewing al meer druk beleef, en sal hulself net met beter opleiding en hoër produksie kan handhaaf.

Betekenis vir Solidariteit

Ons sal saam met die veranderings in die werksplek en ons ledebasis moet verander om toepaslik te bly. Die arbeidsmark van die verlede was deur middelgeskoolde werknemers gekenmerk wat as jongmense deur hul werkgewers of die staat opgelei is en dan lewenslank met daardie opleiding moes klaarkom.

Die hoër en deurlopende vereistes van die werksplek, en die feit dat die meeste werkgewers en die staat se opleidingstelsel ernstig verswak het, laat ŉ reusagtige leemte wat ons lede soos ŉ skip op droë grond gaan laat.

Die vakbond se belangrikste diens wat die meeste waarde vir ons lede toevoeg is kollektiewe bedinging vir salarisse en diensvoorwaardes. In ŉ tydperk waar vergoeding toenemend deur posvlakke en opleiding bepaal gaan word, gaan dit al hoe meer belangrik wees dat Solidariteit dit aanbied. Dit sal ŉ voorsprong aan ons lede gee, en ŉ mededingende voordeel aan die vakbond.

Die belangrikste bykomende diens wat Solidariteit behoort te lewer gaan wees om al ons lede en hulle kinders en gemeenskap te help om op die voorpunt van kennis en vaardighede te wees. Ons sukses gaan daarin lê om hulle te help om suksesvol te wees.

“Regeer ons goed of ons regeer onsself!” ‒ strydkreet van die eeue
Selfbeskikking. ŉ Gelaaide woord met uiteenlopende betekenisse vir verskillende mense. ŉ Woord wat oor die eeue al vir menigte vryheid gebring het, maar wat se regte betekenis al net soveel uitgehol en misbruik is om opstand of verdrukking te probeer regverdig. ŉ Woord met ŉ skynbaar magnetiese aantrekkingskrag, maar wat al die slagoffer was van woordkapers soos kommuniste, nasionaliste en liberaliste. Maar wat beteken selfbeskikking regtig, en is dit nog betekenisvol vir die moderne Afrikaner in Suid-Afrika?

Daar is reeds gesê dat selfbeskikking uiteenlopende betekenisse het. Rassegroepe, etniese groepe of politieke meerderheidsgroepe soos die ANC vertolk dit as die vryheid van die bevolking van ŉ land, met ander woorde algemene demokrasie sonder beheer deur  ŉ buitelandse moondheid soos in die koloniale tyd. Liberaliste sien dit as vryheid vir  ŉ individu. Waar die meerderheid dus net die bos raaksien, sien die liberalis net die boom raak. Maar volke, etniese groepe of kultuurgroepe vertolk selfbeskikking as hulle reg op vryheid.

Selfbeskikking is ŉ reg, maar…

Daar bestaan min twyfel in die internasionale reg dat vryheid vir volke of kultuurgroepe die moderne opvatting van selfbeskikking is, maar sonder om die ander twee vertolkings uit te sluit. Dis nie net die meerderheid of die individu wat die reg op selfbeskikking het nie ‒ volke, etniese groepe en kultuurgroepe het ook daardie reg. Maar dis nie die einde van die storie nie. Hierdie reg van volke het “bepalings en voorwaardes”. Dit geld nie orals, altyd, dieselfde en onder alle omstandighede nie. Daar is min homogene lande in die wêreld, en die reg op volle selfbeskikking, soos ŉ eie land en regering, vir alle volke en kultuurgroepe sal tot die grootskaalse ontwrigting en verbrokkeling van die huidige staatsorde lei as dit tot sy uiterste gevoer word. Die wêreld vrees altyd dat dit moontlik erger gevolge sal hê as die huidige verdrukking van hierdie groepe in baie lande.

Bepalings en voorwaardes

Daar is verskeie beperkings en voorwaardes vir die uitoefening van die reg op selfbeskikking:

Eerstens word ŉ volk se reg op selfbeskikking opgeweeg teen ŉ staat se reg op staatseenheid.

Tweedens kan ŉ volk nie sy reg op selfbeskikking uitoefen ten koste van ander volke se reg op selfbeskikking nie. ŉ Minderheid kan byvoorbeeld nie ŉ onafhanklike staat uitroep teen die wil van die meerderheid in die bepaalde gebied of ten koste van hulle vryheid nie. Voorbeeld: Die wêreld het die volle selfbeskikking van die 90%-meerderheid in Kosovo gesteun, maar die minderheid Serwiërs bloot minderheidsregte gegee.

Derdens moet laer vlakke van selfbeskikking, soos korporatiewe selfbeskikking (groepsregte) en interne selfbeskikking (gebiedsregte), eers oorweeg word. Volle selfbeskikking word eers na ŉ lang proses as die laaste uitweg gesien, gewoonlik na grootskaalse verdrukking deur die meerderheid en ŉ bloedige geveg.

Vierdens moet die praktiese voorwaardes vir selfbeskikking, soos die meerderheidsbesetting van ŉ omlynde grondgebied, die meerderheidsteun van die betrokke kultuurgroep en die demokratiese uitputting van makliker opsies soos groepsregte of interne selfbeskikking soos gebiedsoutonomie, bestaan. Hierdie laaste praktiese voorwaarde bied die grootse struikelblok vir Afrikaner-voorstanders van selfbeskikking.

Verweer van regerings

Regerings verweer hulle gewoonlik teen aansprake op selfbeskikking deur te sê dat die bevolking reeds vry is, dat die minderheid volle demokratiese regte geniet, dat individuele regte vir almal beteken die groep is ook vry, dat daar nie genoegsame bewese steun vir selfbeskikking is nie, dat Afrikaners wat dit steun net terugverlang na apartheid, en dat die praktiese voorwaardes vir selfbeskikking nie bestaan nie. In kort gebruik hulle hul meerderheidsregte om minderheidsregte te dwarsboom. Minderhede se antwoord hierop is dat algemene demokrasie in ŉ groepsgebaseerde land bloot neerkom op die strukturele oorheersing deur die meerderheid, omdat minderhede demokraties van die politieke mag oor hulself uitgesluit is.

Suid-Afrika

Wat is die huidige stand van selfbeskikking in Suid-Afrika? Die antwoord is nie positief nie. Selfs bekende voorstaanders daarvan, soos wyle prof. Carel Boshoff van Orania, het die ingewikkeldheid van die probleem goed ingesien, en vereenvoudigde vertolkings van die probleem en oplossings daarvoor opsygeskuif met ŉ reguit uitspraak: “Die Afrikaner se verspreidheid oor die ganse Suid-Afrika en die daarmee gepaardgaande vervlegtheid met die SA ekonomie en die afhanklikheid van nie-Afrikanerarbeid wat ook sy ondergang as staatkundige moondheid teweeg gebring het, maak die herstel van sy vryheid nog steeds onmoontlik.”

Daar is dus ŉ direkte verband tussen die bevolkingswerklikhede en die onderskeie groepe se kanse op selfbeskikking. In ŉ vervlegte gebied word die kans op selfbeskikking beperk deurdat die meerderheidsgroep daarvoor toestemming moet gee, omdat hulle ten nouste daardeur geraak word. Hulle bly immers naby mekaar in dieselfde gebied. Maar in ŉ redelik leë en onderontwikkelde gebied kan daar prakties tot hoë vlakke van selfbeskikking ontwikkel word sonder dat die meerderheid se instemming verkry hoef te word.

In Eerstewêreldlande soos Switserland waar daar ŉ getalle-ewewig en magsewewig tussen die verskillende Eerstewêreldgroepe is, is dit normaalweg in almal se gemeenskaplike belang om vir mekaar hoë grade van selfbeskikking of outonomie te gun en grondwetlik te erken. Waar daar soos in Kanada nie ŉ getallebalans tussen Eerstewêreldgroepe in ŉ Eerstewêreldland is nie, voer die kleiner groep gewoonlik ŉ politieke stryd om erkenning, waar hulle lojaliteit aan die land uiteindelik verkry word deur hoë vlakke van interne selfbeskikking waar hulle die meerderheid vorm, en uitgebreide groepsregte waar hulle verspreid woon. Maar, soos Donald L Horrowitz in sy gesaghebbende Ethnic groups in conflict opmerk, verskil dit in gemengde Eerste- en Derdewêreldgroepe en -gebiede. Waar ŉ Eerstewêreld-minderheidsgroep ŉ Derdewêreld-meerderheidsgroep oorheers, kom laasgenoemde in opstand en is die oorheersing nie volhoubaar nie. Waar ŉ Derdewêreld-meerderheidsgroep ŉ Eerstewêreld minderheidsgroep oorheers, verhuis die minderheidsgroep na ŉ Eerstewêreld-gebied. Dit verklaar die grootskaalse na-’94 emigrasie na Westerse state.

Die antwoord oor die stand van selfbeskikking is dus dat daar tans nie geleenthede vir volle selfbeskikking (onafhanklikheid) vir Afrikaners is nie, maar dat die deur vir ŉ proses om groter selfbeskikking te ontwikkel darem nog oop is. Die kans is dus nie groot nie, maar miskien groter as die kans op sukses van ander strategiese opsies soos om met die partypolitiek die meerderheidsteun te probeer kry.

Die stand van selfbeskikking kan soos volg opgesom word:

Die Grondwet erken die reg op selfbeskikking van die bevolking in geheel, maar laat die deur vir die selfbeskikking van kultuurgemeenskappe op ŉ skrefie oop. Die kanse vir interne selfbeskikking is natuurlik groter, maar dit sal steeds moeilik bereikbaar wees.

Die ANC is hewig teen etniese selfbeskikking gekant, sien dit as apartheid en ŉ bedreiging vir nasionale eenheid, vir ANC-oorheersing en vir hulle alleenreg op die besluitneming oor die belastingbetalers se geld.

Die internasionale reg steun vorme van etniese selfbeskikking, maar stel streng voorwaardes daarvoor. Die internasionale reg is egter nie afdwingbaar nie en moet dus nie oorskat word as ŉ bron van hoop vir selfbeskikking nie.

Die grootste struikelblok vir Afrikaner-selfbeskikking is dat die praktiese voorwaardes daarvoor ontbreek. Hier word veral verwys na vereistes soos meerderheidsbesetting van ŉ omlynde grondgebied, saam met meerderheidsteun van die inwoners.

Die aandrang op selfbeskikking sal weer opvlam hoe swakker die ANC die land en groepe soos die Afrikaners regeer. Soos Prof Boshoff gesê het oor die toekoms: ”die Grondvraag bly die Grondvraag.”

Om al hierdie redes is die grootste struikelblok vir Afrikaner-selfbeskikking nie die ANC nie, maar die feit dat die praktiese voorwaardes daarvoor tans nie bestaan nie. Die bal is dus nie in die ANC se baan om vir Afrikaners kragtens die internasionale reg selfbeskikking te “gee” nie. Daar bestaan nie ŉ voltooide gebied met meerderheidsbesetting wat net “gegee, geëis of gevat” kan word nie. Daarom sal die voorstaanders van selfbeskikking self hierdie praktiese omstandighede vir selfbeskikking moet skep as hulle vryheid wil verwerklik.

In die afwesigheid van ŉ “pasklaar” gebied kan selfbeskikking nie van “bo” af beding of gevat of deur die internasionale gemeenskap gegee word nie, want dit bestaan eerstens nog nie. Dit moet van “onder” af opgebou word, hoe moeilik dit ook al mag wees. Natuurlik probeer die linkse ANC en liberale groepe om Afrikaner-selfbeskikking te dwarsboom. Dit is heeltemal te wagte, want hierdie groepe is ideologies daarteen gekant. Dis nie hulle beleid nie en daarom sal hulle dit nie bevorder nie en sal hulle dit teenstaan. Daarom is die enigste kans vir Afrikaner-selfbeskikking dat die voorstaanders daarvan self die praktiese omstandighede daarvoor skep.

Alternatiewe vir selfbeskikking

Die geweldige praktiese, politieke en ekonomiese uitdagings vir selfbeskikking is presies hoekom die oorgrote meerderheid Afrikaners makliker opsies voorstaan. Soos die Romein Sallust gesê het: “Min mense wil vryheid hê. Die meeste verkies regverdige heersers.” Daarom probeer hulle partypolitieke opposisiestrategieë en ander planne wat makliker en meer uitvoerbaar klink. Maar as dit nie werk nie, groei die steun vir selfbeskikking weer sterk, veral as dit die enigste oorblywende moontlikheid vir voortbestaan is.

Die probleem vir minderheidsgroepe wat teen selfbeskikking gekant is, is dat hulle in ŉ bestel vasgevang is waar die meerderheid oor hulle beskik. Dit beteken dat die meerderheid oor hulle veiligheid, gesondheidsorg, dorpe en stede, pensioene, werksgeleenthede, kinders se skole, in kort, oor hulle toekoms beskik. Natuurlik beteken dit nie dat hulle die wanbestuur van die ANC voorstaan nie, maar bloot die stelsel wat hierdie wanbestuur moontlik maak, en dat hulle “die stelsel” van binne af probeer “regstem” deur die meerderheidsteun te probeer verkry. Dit kom neer op ŉ strategie van “regeer my beter”, eerder as “ek wil myself regeer”.

Maar daar is groot struikelblokke in die pad van ŉ gewone liberale demokrasie. Die Amerikaanse staatsman Henry Kissinger het dit treffend saamgevat: “In die Weste het demokrasie uit homogene samelewings ontwikkel. Daar was nie institusionele versperrings vir ŉ minderheid om ŉ meerderheid te word nie. In die Weste is verkiesingsneerlae gesien as ŉ tydelike terugslag wat weer omgekeer kan word. Maar in multi-etniese lande beteken minderheidstatus gereeld permanente diskriminasie en die risiko van politieke uitsterwing.”

Daarom het wenlande soos Switserland, Kanada, Spanje en talle ander moderne state die gewone liberale demokrasie wat net op individuele regte gegrond is, verder ontwikkel om vir kultuurgroepe ook voorsiening te maak. Hulle grondwette gee nie net regte aan groepe nie, maar ook die magte om daardie regte uit te voer!

Suid-Afrika se Grondwet voldoen nie aan die nuutste internasionale standaarde en beste praktyke vir die beskerming van kultuurgroepe soos die Afrikaner nie. Die reeds afgewaterde groepsregte in die Grondwet word magteloos gemaak deurdat die magte om dit toe te ken steeds by die meerderheidsparty berus. Daarom word die regte wat wel bestaan bloot as “verdraagsaamheidsbepalings” gesien. Ons Grondwet beskerm net meerderheidsregte ‒  soos affirmative action. Die regerende meerderheid wat oor die staatsmag en -hulpbronne beskik, word grondwetlik beskerm teen ons as maglose minderheid. Raar maar waar.

Gevare vir selfbeskikking

Benewens die struikelblokke vir selfbeskikking wat hierbo genoem is, is daar nog ŉ paar gevare vir selfbeskikking. Dit is:

Die gebrek aan ŉ praktiese en haalbare plan vir selfbeskikking;

die privatisering van die Afrikaner en die afgradering van sy historiese nasionale strewe tot dié van ’n verbruiker of individu;

die morele vergiftiging van die selfbeskikkingsbegrip deur dit as ŉ sinoniem vir die terugkeer na ŉ vorm van apartheid te probeer gebruik, soos om selfbeskikking as dekmantel vir rassistiese haatpolitiek te probeer misbruik;

die misbruik daarvan deur politieke entrepreneurs wat steun probeer wen deur die oppervlakkige vertolking daarvan om hulle agenda te probeer bevorder;

onoordeelkundige of onverstandige gebruik deur swak ingeligte en kortbroekpolitici in ŉ poging om die Afrikaner se regmatige frustrasies te gebruik om steun vir hulle onwerkbare planne te werf; en

ŉ gebrek aan begrip van die internasionale reg se bepalings oor selfbeskikking, wat gewoonlik neerkom op ŉ oorskatting van die mag van internasionale handveste. Die dwaling is dat die internasionale reg gebruik kan word om selfbeskikking prakties in te stel, dit wil sê dat die reg die praktyk skep. Die werklikheid is dat die praktyk geskep moet word en dat die internasionale reg dan gebruik kan word om daardie praktyk juridies te erken.

Die toekoms van selfbeskikking

Geen verstandige minderheidsgroep op hierdie gevaarlike vasteland behoort die skrefiesdeur van selfbeskikking toe te maak nie. Mens weet nooit. Daardie reg staan in die Grondwet, en in ons situasie moet álle grondwetlike ruimtes en geleenthede gebruik, beskerm en bevorder word. ŉ Grondwet is tog nie soos ŉ spyskaart waar net party regte gekies word nie. Teen die tempo waarteen die land demoderniseer en die ANC radikaliseer, sal net polities roekeloos-nalatige groepe moontlike grondwetlike opsies wegskuif. Maar daar is twee belangrike voorbehoude vir selfbeskikking. Die eerste is dat weens die Afrikaner se getalle en sy verspreiding oor die hele land, gebiedsgegronde selfbeskikking nooit die aller antwoord vir alle Afrikaners kan wees nie. Dit kan ŉ belangrike deel van die oplossing wees, maar ander planne sal steeds gemaak moet word. Tweedens sal die aansprake op ŉ gebied baie afgeskaal moet word ooreenkomstig die getalle Afrikaners wat hierdie opsie steun. In plaas van ŉ staat sal daar waarskynlik net na ŉ stad gekyk kan word, met ŉ goedgesinde omliggende gebied wat moontlik later daarby kan inskakel.

Die laaste voorwaarde vir die verwerkliking van selfbeskikking is dat die ruimtes vir selfbeskikking op ŉ wetenskaplike, planmatige en verstandige wyse benut word en nie verder polities vergiftig word met ondeurdagte planne en uitsprake nie. Alhoewel die voorwaardes vir onmiddellike en volle selfbeskikking nie nou bestaan nie, kan gebiedsgebaseerde interne selfbeskikking byvoorbeeld van onder af in laebevolkte gebiede tot hoë vlakke van outonomie soos in die geval van ŉ provinsie ontwikkel word ‒ binne die huidige grondwet.

Aanvullend of as alternatief kan ŉ Westerse staat binne ŉ Afrikastaat ontwikkel word deur self gemeenskapsinstellings op belangrike terreine te vestig. Dit is ŉ model van gemeenskapsgedrewe of selfdoen- kulturele selfbeskikking, met die voordeel dat minderhede binne hierdie instellings meerderhede is wat só vir hulself selfstandige ruimtes skep waarbinne hulle belange veilig kan wees. As hierdie instellings in ŉ sambreelliggaam georganiseer word, kan dit ook as ŉ sentrale punt vir gesprekke met die regering dien.

Indien die regering nie gehoor wil gee aan billike beroepe van Afrikaners om ons beter te regeer nie, is die ondervinding in ander dele van die wêreld dat daar ŉ groeiende aandrang onder Afrikaners gaan kom om hulself te regeer. Soos Leopold Takawira, stigterslid van die NDP in Zimbabwe, voorloper van die ZANU, in 1960 gesê het: “We are no longer asking Europeans to rule as well. We now want to rule ourselves.”

Meer opleiding in plaas van meer kommunisme
“This mobilisation for skills development is an important foundation for creating a skilled and conscientised [sic] working class that is capable of strengthening community and shop floor structures and struggles – an important step in consolidating the National Democratic Revolution as our most direct route to socialism”. Minister Blade Nzimande, 6 Julie 2011. Umsebenzi Online.

Kommunisme mag wêreldwyd dood wees, maar dis nog springlewendig in Suid-Afrika! Dis nou as mens lees wat die minister van hoër onderwys, mnr. Blade Nzimande, onlangs in die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) se mondstuk gesê het. Volgens mnr. Nzimande is die doel van opleiding om ŉ grondslag te lê vir die skepping van ŉ werkersklas wat die vermoë het om werksplekstryd en -strukture te versterk ter bevordering van die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) as die kortste pad na sosialisme.

Dat die geskiedenis in talle tragiese gevallestudies onomstootlik bewys het dat rewolusies en sosialisme veel eerder die kortste pad na armoede en ellende toe is, het die minister skynbaar skoon ontgaan. Mens wonder of hy dit verder gemis het dat die opkoms van China en Indië, juis volg op hierdie twee reuse se wegbeweeg van die sosialistiese beleid wat die minister nou hier wil instel. Ten spyte van die minister se Marxisties-gekleurde ontleding van ons land se geskiedenis, het die ANC in 1994 die mees suksesvolle staat in Afrika geërf, juis omdat ons nié die sosialistiese pad van die meeste Afrikalande geloop het nie.

Tweede kans vir kommunisme?

Dit lyk of kommuniste soos die minister nou dink dat sosialisme ŉ tweede kans moet kry omdat die VSA as bakermat van die kapitalisme groot ekonomiese probleme het. Maar, soos die ekonoom Heilbronner gesê het, ‘krisisse is juis hoe kapitalisme werk, en nie hoe dit ondergaan nie’! Dit is beslis so dat die vrye mark nie foutloos en sonder probleme is nie. Die leed en wanhoop van duisende mense wat hulle werk en lewensbrood tydens ŉ ekonomiese afswaai verloor kan geen mens onaangeraak laat nie. Dis hoekom ŉ wyse man gesê het dat die vryemarkstelsel maklik is om te verdedig, maar moeilik is om lief te kry!

Ek ondersteun nie die vrye mark omdat dit volmaak is nie, maar omdat dit die enigste stelsel is wat kan werk en so aan miljoene mense ŉ bestaanswyse kan bied. Maar daarom sien Solidariteit ook ons rol om die foute en swak punte van die stelsel te balanseer en te ondervang deur die dienste wat ons lewer. Daarom is ons soms teen besture, maar nie teen besigheid nie.

Die vrye mark is ook nie ŉ towerstaffie wat aan almal werk en rykdom gee nie. Dis moeilik om die stelsel goed te laat werk. Selfs die Economist het erken dat daar voorwaardes vir die stelsel se sukses is: “The conditions that must be satisfied if capitalism is to serve the public good are not trivial. A comprehending and supportive climate of opinion must be added to the list. That is why the battle of ideas matters so much.”

Ongelykheid as nadeel van die markekonomie

Die rede hoekom kommuniste die vryemarkstelsel so haat is dat dit tot ongelykheid lei. Maar die enigste alternatief vir die ongelyke verdeling van welvaart was nog altyd die gelyke verdeling van armoede – om Churchill aan te haal.

Mense se vergoeding word in ŉ vrye mark deur hul bydra tot produksie bepaal. Die grootte van hierdie vergoeding word deur die vraag en aanbod van hul arbeid vasgestel. Hoe skaarser jou vaardighede en hoe hoër jou bydra, hoe hoër jou salaris. Maar sosialiste wil hê dat vergoeding deur mense se behoeftes, en nie deur hulle produksie nie bepaal moet word. Hulle het inderdaad geldige besware teen die verskynsel dat sommige maatskappyhoofde miljoene vir hulself vat, en die werkers net met die krummels wil laat.

Maar sosialisme lei orals juis tot armoede omdat ŉ stelsel wat volgens behoeftes en verbruik vergoed en nie produksie beloon nie, altyd verbruik tot ver bo produksie verhoog. Armoede ontstaan juis as daar meer verbruik word, as wat daar produseer word. Die harde reël is dat armoede aan jou voordeur klop as jy meer uitgee as wat jy verdien.

Opleiding as antwoord vir armoede, werkloosheid en ongelykheid

Daar is al oorgenoeg bewyse dat goeie onderwys en opleiding die enigste oplossing vir armoede, werkloosheid en ongelykheid is. Hoe hoër mense opgelei is, hoe minder van hulle is werkloos en hoe meer verdien hulle. Opleiding lei dus tot groter indiensname, ŉ afname in armoede en minder ongelykheid as gevolg van ŉ hoër gemiddelde verdienste. Die groot ongelykheid in Suid-Afrika ‘n bloot ‘n weerspieëling van die ongelyke opleiding en gevolglike ongelyke produksie in die land, en is nie ‘n kapitalistiese of rassistiese komplot om mense arm te hou nie. Dis hoekom Solidariteit wêrelde probeer versit om ons kinders en jongmense te help om gehalte onderwys en -opleiding te kry. Dis ook hoekom ons slagspreuk nie soos die ANC-in-struggle “liberation before education” is nie, maar eerder vryheid deur opleiding!

Minister Nzimande sit vasgevang in die geskiedenis. Dit is so dat in Marx se tyd daar moorddadige uitbuiting en ellende was. Mens hoef maar net Marx se vriend Frederich Engels se boek oor die “Toestand van die Werkersklas in Engeland” te lees om te sien hoe erg dit was. Kommuniste trek ‘n verkeerde lyn van die haglikheid in Engeland tydens die Nywerheidsrewolusie na die toestande in vandag se Plakkerskampe in ons land. In Mars en Engels se tyd was daar nog nie vergelykbare opleiding en loopbane waardeur mense hulle lewens kon verbeter nie. Buitendien is Marx se idees in die praktyk beproef met rampspoedige gevolge. Die Vrye mark het homself ook onherkenbaar verander en verbeter, en het instellings soos vakbonde ontstaan wat groter balans meegebring het. Daarom, in plaas daarvan om rewolusies en sosialisme te bepleit, moet die Minister eerder sorg dat die skole, kolleges en universiteite gehalte onderwys en opleiding bied. Meer Opleiding is die antwoord op ons probleme, nie meer kommunistiese politiek nie.

Staat binne staat is oplossing vir staatsverval
Die stelselmatige staatsverswakking van Suid-Afrika, is ŉ onaangename werklikheid wat sentraal in enige toekomsbeplanning moet staan. Werklikheidsdenke vereis ongelukkig die aanname dat hierdie staatsverswakkingsproses gaan voortduur, omdat die ideologiese redes hiervoor steeds die grondslag van die ANC-ideologie en -beleid vorm. Hierdie gevolgtrekking moet nie as ŉ swartgallige verwensing van die ANC-regering gesien word nie, maar as ŉ realpolitieke vertrekpunt waarvandaan daar vir ŉ veilige en voorspoedige toekoms beplan moet word.

ŉ Droomplan gegrond op wensdenkery sal ongelukkig nie die toets van werklikheid deurstaan nie. Aan die ander kant sal dit ook nie help om so neerslagtig en negatief oor die toekoms te wees dat almal wanhopig landuit wil trek nie. Daarom kan daar met toekomsbeplanning tussen drie benaderings onderskei word:

1.	Utopia (wensdenkery)

Hierdie benadering beteken dat die toekoms optimisties en bykans utopies beskou moet word, en dat die ideaal met die werklikheid verwar word. Die gevaar met hierdie benadering is dat mens jouself mislei, en dat dit ŉ niksdoenresep is waar niemand vir enigiets behalwe ŉ sonskyntoekoms voorberei nie. So ŉ benadering strook nie met die feite nie, en verdoem sy aanhangers tot ontnugtering en ondergang.

2.	Die doemprofeet

Hierdie benadering kyk pessimisties na die toekoms, en lei bloot daartoe dat sy aanhangers só deur gevoelens van ondergang en wanhoop oorweldig en verlam word, dat hulle niks doen aan hulle probleme nie. Dit ignoreer alle positiewe feite en moontlikhede, en is maar net ŉ ander weergawe van ŉ niksdoenresep vir gewaarborgde ondergang.

3.	Werklikheidsdenke

Werklikheidsdenke beteken dat die voortsetting van die huidige proses van staatsverval en demodernisering as uitgangspunt vir opbouende beplanning vir die toekoms aanvaar word. Dit is ook die basis van wetenskaplike navorsings soos die Dinokeng Scenario navorsingsprojek. Maar al dui die feite op die ergste, kan en moet ons steeds strewe na die beste.

Werklikheidsdenke beteken om te doen wat jy kan met wat jy het. Dit beteken om jouself en jou toekoms nie as slagoffers van ander se denke en dade te sien nie, maar om verantwoordelikheid vir jou eie sukses te neem.

Staatsverval nie die einde van alles

Na afloop van die Koue Oorlog word staatsverval as die ergste nagmerrie moontlikheid wat ŉ land en sy mense kan oorkom, beskou. Dis natuurlik te begrype, want state wat inplof val gewoonlik op hulle burgers se koppe en toekoms. Maar aan die ander kant is daar ook baie (redelik) suksesvolle state, maar wie se inwoners brandarm is en deur werkloosheid, geweld en korrupsie geteister word.

Daar is nou ŉ groeiende groep navorsers en politieke wetenskaplikes wat die verbasende bevinding maak dat die verval van sentrale regerings juis nié noodwendig tot chaos en ellende hoef te lei nie, maar eerder tot ŉ beter bedeling as gevolg van die opkoms van nuwe ordes.

In die boek States within states redeneer die twee vooraanstaande politieke wetenskaplikes Paul Kinston en Ian Spears, dat staatsverval in baie gevalle tot suksesvolle “state binne state” lei. Dit kom voor waar streke byvoorbeeld deur etniese groepe stabiliseer word wat dit in ordelike, werkbare en vooruitstrewende gebiede omskep met baie beter ekonomiese groei en lewensgehalte as in die omliggende gebiede wat verval het.

Geen regering beter as ŉ swak regering

Gevallestudies in Sierra Leone, Soedan, Libanon, Zaïre, Somaliland en Koerdistan in Irak word gebruik om hul punt te staaf. Die skrywers meen dat daar talle regerings is wat hulle state so swak regeer dat dit tot verval lei, en dat dit gereeld gebeur dat die land beter daaraan toe is indien daar nie ŉ regering is wat die land met swak beleidsrigtings kan benadeel nie. Goed georganiseerde etniese minderheidsgroepe in state wat verval word dus nie deur swak regerings verhinder om voorspoedig te wees nie. Hulle wend hulle geld aan om hul streke op te bou, omdat die swak sentrale regering nie meer goed genoeg funksioneer om belasting in te vorder en dit uit te mors deur hul eie ondersteuners se steun met dienste te probeer koop nie.

Verskille en lesse

Daar is talle verskille met die werklikhede in Suid-Afrika, en daar kan beslis nie sommer direkte toepassings en gevolgtrekkings op ons land en ons situasie gemaak word nie. Dit sal misleidend en selfs gevaarlik wees. Maar daar kan wel belangrike lesse hieruit geleer word. Die belangrikste hiervan is dat kultuurgemeenskappe of minderhede nie net op die staat moet vertrou om hul toekoms te verseker nie. Regerings kan ŉ staat laat verval.

Dit beteken beslis nie dat minderhede in konflik met die sentrale regering moet leef nie. Minderhede moet veel eerder sterk burgerlike instellings op elke noodsaaklike terrein vestig om dienste te kan lewer waar die staat s’n verval. Al hierdie “selfdoendienste” kom in praktyk neer op ŉ staat binne ŉ staat. Daarom praat selfs plaaslike politieke wetenskaplikes al van die moontlikheid van “suksesvolle” staatsverval.

Privatisering

Dit gebeur reeds lankal in die praktyk met die stigting van privaatskole, privaathospitale, privaatsekuriteit en selfs privaatveiligheidsdorpe. Die probleem is dat privatisering alleen nie ŉ oplossing vir ŉ hele gemeenskap is nie, maar net vir dié wat dit kan bekostig. Dit is hoekom gemeenskapsgebaseerde modelle van selfdoen “privatisering” ondersoek moet word, soos wat Solidariteit reeds met ons tegniese kollege gedoen het. Die uitdaging is egter om finansieringsmodelle te ontwikkel om die dienste volhoubaar en op ŉ gehaltegrondslag te vestig.

Die werklikheid is dat selfs ryk Europese state nie eers meer hulle eie strukture en dienste kan bekostig nie. Dit geld soveel meer vir ŉ arm en swak bestuurde land soos Suid-Afrika. Die uitdaging vir minderhede in Afrika is – soos ŉ top politieke wetenskaplike vir my gesê het – om nie afhanklik van die staat te wees nie. Kom ons wees bly dat ons land nog nie verval het nie, en dat die voorwaardes vir totale verval genadiglik nog nie teenwoordig is  nie. Laat ons ook hoop, bid en werk dat Suid-Afrika ‘n suksesvolle staat word. Maar laat ons nie moedeloos raak oor die verval wat ons daagliks waarneem nie, want ‘n staat binne ‘n staat word al meer díe antwoord op staatsverval.