Kom nou af op JP Landman se rubriek van 3 Desember in Die Burger: Lees hier
“Elke mens is geregtig op sy eie mening, maar nie op sy eie feite nie!”
“Tussen 1995 en 2008-’09 het die getal staatsamptenare in diens van die nasionale departemente, die nege provinsies en verskeie statutêre liggame afgeneem met omtrent 10% of net meer as 125 000 mense.
Die getalle het gegaan van 1 275 644 tot 1 149 916.
As ’n mens net terugdink aan die blankes wat die staatsdiens verlaat het en die rasionalisasie wat ons rondom tien tuisland-administrasies gehad het, klink die syfers glad nie so vergesog nie.
Een van die tien tuislande, KwaZulu, het na bewering meer amptenare in sy landboudepartement gehad as die ou Republiek Suid-Afrika in sý landboudepartement.
Dit het lekker gegaan.
Daar gaan die intense opinie dat die staatsdiens “verdubbel” of selfs net gegroei het.
Oor die periode waarin die nasionale en provinsiale regerings se indiensneming met 125 000 gedaal het, is 4,3 miljoen werkgeleenthede in Suid-Afrika geskep.
Dit is 44% meer werkgeleenthede, terwyl die nasionale en provinsiale regerings met 10% gekrimp het.
Daar gaan die opinie dat werkskepping in die land van die openbare sektor gekom het.
En daar gaan boonop die gevolgtrekking dat werkskepping sal ly omdat die staat nie meer soveel ekstra mense in diens kan neem nie.
Die eenvoudige waarheid is dat die privaat sektor oorweldigend die skepper van werkgeleenthede is. “
