Dit bekruip jou soos `n onverwagse kuier van die skoonouers of `n geiser wat skielik deur die nag begin lek. Die krieweling in die keel, jou neus wat netnou nog jou eerste koppie boeretroos ingeadem het en die volgende oomblik klink soos `n stootskraper wat onder die see`n pad tussen koraalriwwe probeer oopkloof.
Outeur Argief vir Ansie Janse van Rensburg
Daar kom `n tyd in elkeen se lewe wanneer jy te staan kom voor iets wat groter is as jouself. Hetsy op professionele vlak wanneer jy opdaag vir jou eerste dag by `n nuwe werk en besef dat jou werkgewer die Pa is van die meisie wat jy op die Matriekdans ge”drop” het vir Wilde Wilma van die Kloosterskool. Of wanneer jy jou aanstaande skoonouers vir die eerste keer ontmoet en jy deel witvoetjie komplimente uit oor skoonma se heerlike croutons, net om in `n ysige stem meegedeel te word dat dit haar eersteprys kerkbasaar souskluitjies is! As ek terugdink, het ek `n paar sulke oomblikke beleef.
Soos die keer toe ek op my deurgeskaafde-skoenriem-begroting toer na Egipte besef het dat die nuttige “handstort” langs die toilet nie daar was om op te maak vir die stadig-druppende stortkop nie! Dit het weer gebeur, verlede Donderdag aand toe ek gloeiende kole van 600 grade met dapper en stapper aangedurf het.
”Never again”. Twee woorde wat deesdae hoogmode geword het en met groot emosie in toesprake misbruik word deur Wêreldleiers soos Obama. Nooit is egter `n lang tyd en die mens se geheue is van korte duur.
Verlede week was die jaarlikse herdenking van die Joodse Volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog. Meer as 6 Miljoen mense is deur Hitler sistematies uitgemoor, alles onder die dekmantel van etniese reiniging om die Duitse ras te suiwer. Is dit werklik nodig dat ons na meer as 50-jaar nog die onbegryplike wandade teen die mensdom moet afstof en herdenk? Lees verder ‘“Nooit weer nie” word “Altyd weer”’
Gister was die 100 jaar viering van die Titanic seeramp. Op 15 April 1912 het die RMS Titanic teen `n ysberg gebots en meer as 1500 mense het verdrink. Hoekom is mense na al die jare nog gefassineerd met een van die grootste seerampe in mense heugenis? Lees verder ‘Nalatenskap van die Titanic’
Dit is weer daardie tyd van die jaar. Dit gons in die gange en by die watermasjien. Met rooktyd staan groepies en hou bosberaad oor hierdie jaar se eindjaarfunksie en die grensgevalle van verlede jaar word weer opgehaal. (Onthou julle vir Marie van admin wat twee weke in Vista opgeneem was nadat haar man saam met `n temp in die koi dam gevang is?). Dames gaan op `n kitsdieët van water, witdulsies en duiwelsdrek om binne een maand 15 kg te verloor om in die swart nommertjie in te beur wat in `n optimistiese bui twee nommers te klein gekoop is. Terwyl jy jou partytjievere regskud en stilettos afstof, onthou dat Bacchus se voggies die oorsaak was van vele bevorderingsbruê wat tot as verbrand is. Jou unieke interpretasie van die Leeuloop wat opgevoer is in die hitte van die oomblik (op die maat van die rum wat doef-doef deur jou are bruis) mag dalk net teen jou tel wanneer jy volgende keer `n salarisverhoging wil beding. Hoe gemaak sodat jou eindjaarfunksie aksiefoto`s op Facebook nie jou toekomstige loopbaanvooruitsigte beperk tot kruiwavoorman by Builder`s Warehouse nie? Lees verder ‘Eindjaarfunksie tussen die Daisies’
Na my mees onlangse liefdesteleurstelling besluit ek om myself te registreer op `n webwerf vir enkellopendes. Die Engelse noem dit nie verniet `n “break-up” nie. My verhouding met die werklikheid breek heeltemal op, ek hallusineer oor my eie gelukkige einde waar ek Mnr X koelbloedig vermoor of hy my smekend agternastaar terwyl ek met my sportmotor en Calvin Klein onderbroekmodel-kêrel verby hom jaag en hy in die petroldampe verstik. Enigiets wat jou herinner aan jou eks word teen die naaste muur gebreek of afhangend van jou bui, tot as verbrand deur die vlamme van `n vreugdevuur terwyl jy soos `n bevryde besetene danspassies uitvoer en jou bure die brandweer ontbied. My skaal breek op van al die Ben en Jerry roomys wat ek tussen die gesnik en gesnuif op my bank sit en verorber. En dis daar waar ek in `n laktose-intoleransie koma met die idee opkom… ek gaan opsit by die kuberkers!

