Amerikaanse werkloosheid daal, huispryse styg

Click op die grafiek om dit te vergroot

Click op die grafiek om dit te vergroot

.

.

.

.

.

.

.

Verlede week het die Buro van Arbeidstatistieke in Amerika in hul jongste opname bekendgemaak dat die Amerikaanse werkloosheidskoers vir die eerste keer sedert April 2008 gedaal het (afgesien van ʼn minimale, kortstondige daling in Julie vanjaar). Die amptelike werkloosheidskoers was in November gelyk aan 10% (Suid-Afrika sʼn is tans 24,5%), teenoor die 10,2% van die vorige maand. Die verbetering in die syfers (stygings in indiensname of heelwat kleiner dalings as voorheen) was op ʼn breë basis en was nie beperk tot ʼn spesifieke sektor van die ekonomie nie. Dit verteenwoordig 325 000 minder mense in die “werklose” groep in daardie land, met 227 000 mense wat in die “werkende” groep inbeweeg het, terwyl die grootste deel van die res uit die “werklose” kategorie beweeg het na die kategorie van “marginaal aan die arbeidsmag verbind”.

Volgens die Amerikaanse definisie is mense wat “marginaal aan die arbeidsmag verbind” is diegene wat beskikbaar is om te werk en wat wel in die afgelope 12 maande na werk gesoek het, maar wat om verskeie redes nie in die maand waarin die opname gedoen is na werk gesoek het nie. Hierdie definisie stem rofweg ooreen met Statistiek Suid-Afrika (StatsSA) se definisie van “ontmoedigde werksoekers”. Indien hierdie werksoekers wat marginaal aan die arbeidsmag verbind is, ingesluit word by die werklose bevolking, en die breë werkloosheidskoers vir die VSA uitgewerk word, het dit gedaal van 11,6% na 11,3% (Suid-Afrika se vergelykbare koers is tans 31,1%).

ʼn Verdere teken van oplewing in die Amerikaanse arbeidsmark is die feit dat die gemiddelde lengte van die werksweek, die gemiddelde lengte van die vervaardigingswerksweek en die gemiddelde hoeveelheid oortyd gestyg het in November. Minder mense werk dus verkorte ure, en al hoe meer mense verdien ietwat meer geld per maand. Dit gee hoop dat die huidige ekonomiese hersteltydperk (met die VSA se ekonomie wat in die derde kwartaal met 2,8% gegroei het) nie slegs ʼn tydelike “papierverskynsel” is nie, maar dat dit alreeds deursyfer tot op huishoudingsvlak. Dit kan uiteindelik veroorsaak dat die ekonomiese herstel selfonderhoudend sal wees.

Ander goeie nuus van oorkant die Atlantiese Oseaan is dat Amerikaanse huispryse soos gemeet deur Standard & Poor’s in die derde kwartaal weer gestyg het. Saam met die verbetering in die werkloosheidskoers (met die aanname dat dit voortgesit sal word oor die mediumtermyn) is Clem Sunter se voorwaardes vir die begin van die “New Balls Please”-scenario, wat ʼn volgende tydperk van wêreldwye ekonomiese groei verteenwoordig, nou bewaarheid. Dit wil nie sê dat alles ewe skielik gaan verbeter nie, maar dit ondersteun die siening dat die wêreldekonomie definitief op ʼn herstelpad is. Die pad sal seersekerlik nog ʼn paar onverwagse kinkels en draaie hê, maar beweeg darem in die regte rigting.

Wêreldmarkte is veral aangenaam verras deur die Amerikaanse werkloosheidsdata. Hoewel die huidige werkloosheidskoers van 10% steeds sowat dubbeld so hoog is as wat dit voor die resessie was, was die algemene verwagting dat die koers onveranderd sou bly op 10,2%. Na afloop van die aankondiging van die werkloosheidsyfers het die goudprys teruggesak en die dollar het versterk, namate beleggers se risikovermydingsgeneigdheid verlaag het. Dit het natuurlik beteken dat die dollar se wisselkoers teenoor die rand ook gespring het van sowat R7,32 vir ʼn dollar na die omgewing van R7,50 vir ʼn dollar. Hierdie tendens kan voortduur indien die nuus uit die VSA oor die volgende paar maande aanhoudend positief is, selfs al wil die Amerikaanse beleidmakers (wat probeer om hul eie uitvoerindustrieë te ondersteun) nie hê dat dit moet gebeur nie. Dit voorspel pyn vir Suid-Afrikaanse kopers van ingevoerde goedere (soos brandstof), maar plesier vir vervaardigers van uitvoergoedere.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube