AfriForum pak Tshwane-metro oor rekeningprobleme en vra inwoners se insette

 

AfriForum het ʼn openbare deelnameproses onder inwoners van Pretoria rakende munisipale diensterekeninge geloods om die omvang en aard van die probleme wat dié inwoners met water- en elektrisiteitsrekeninge ervaar, te bepaal.  Die resultate sal gebruik word om te bepaal of die probleme van so ʼn ernstige omvang is dat AfriForum in samewerking met inwoners regstappe teen die Tshwane-metroraad moet neem, sou die Metroraad nie dringend aandag aan die geïdentifiseerde probleme skenk nie.

Lees Beeld.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het sy organisasie besluit om die openbare deelnameproses te begin, nadat tientalle klagtes van Pretorianers rakende hulle water- en elektrisiteitsrekeninge ontvang is.

Die openbare deelnameproses behels volgens Kriel onder meer ʼn opname en openbare inligtingsessies waar die publiek hulle probleme kan aanmeld.  Die vraelys kan ingevul word op AfriForum se webwerf by www.afriforum.co.za.

Die openbare inligtingsessies sal van 19:00 tot 21:00 by die volgende plekke plaasvind:

• Donderdag, 1 Julie by Hoërskool Zwartkop;
• Woensdag, 7 Julie by die NG Kerk Garsfontein;
• Dinsdag, 13 Julie by Hoërskool Tuine;
• Woensdag, 14 Julie in Hoërskool Wonderboom se skoolsaal.

Gedrukte vraelyste sal tydens die inligtingsessies aan inwoners verskaf word, terwyl die vraelyste ook versprei word deur invoegings in die plaaslike koerant die Rekord.

Kriel het die hoop uitgespreek dat Pretoria-inwoners die geleentheid sal aangryp om hulle probleme te opper en sodoende AfriForum in staat te stel om die Tshwane-metroraad tot verantwoording te roep.

Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.

  • http://www.solidariteit.co.za Reint Dykema

    Nog ‘n verdere probleem:

    AfriForum oorweeg regstappe nadat Tshwane Metro nuwe bustariewe eensydig instel

    AfriForum het vandag in ʼn verklaring kommer uitgespreek oor die onverwagte en eensydige verandering van bustariewe in die Tshwane Metro. Volgens Cornelius Jansen van Rensburg, AfriForum se woordvoerder oor plaaslike regeringsake, het dit reeds ʼn groot impak op publieke vervoer gehad.

    “AfriForum het verskeie klagtes ontvang van die publiek. In een voorval is ʼn gesiggestremde persoon, wat reeds ʼn jaarkaartjie gekoop het, ingelig dat sy kaartjie nou ongeldig is. Daar word skielik van die publiek verwag om R6 per rit te betaal. Hy en vele ander wat nie kontant by hulle gehad het nie en nie vooraf oor die planne gewaarsku is nie, was dus vandag gestrand,” het Jansen van Rensburg gesê.

    Volgens die busbestuurders is hulle eers Woensdag 30 Junie 2010 omtrent die verandering ingelig. Die eensydige aankondiging het ook amptenare ontkant betrap. Jansen van Rensburg het verneem dat van die busvervoer werknemers oorweeg om te staak weens die gebrek aan konsultasie oor hierdie verandering van die tariewe.

    “Die onverwagse aanpassing van bustariewe beteken dat mense wat reeds kaartjies vir die jaar gekoop het, se geld in effek gesteel word. Diegene wat die meeste benadeel word, is die armes, bejaardes en gestremde inwoners van die Metro,” het Jansen van Rensburg bygevoeg.

    AfriForum se regspan het in ʼn dringende prokureursbrief aan die Metroraad geëis dat die besluit teruggetrek moet word tot ten minste na ʼn konsultasieproses gevolg is. Volgens die prokureursbrief het die Metroraad 7 dae tyd om hulle besluit in heroorweging te neem.

  • Alana

    In Sannieshof ly die hele gemeenskap onder ernstige probleme soos die krisis met die voorsiening van skoon water. In Pretoria is die probleme nie so ernstig nie – ‘n vinnige opname onder tien kollegas het getoon dat net een van hulle die afgelope jaar ‘n probleem gehad het. In haar geval ‘n baie hoë rekening en dit is met ‘n enkele besoek aan die dienssentrum in Centurion reggestel. Die ander nege is tevrede met die diens wat ons kry – so wat regverdig dat ons ons rekeninge ophou betaal? AfriForum volg die verantwoordelike roete om eers te kyk wat die omvang van die probleem is en dan oor optrede te besluit.

  • Bernard

    Hoekom maak julle nie soos die mense van Sannies hof nie????????????




  • RSS
  • Newsletter
  • Twitter
  • Facebook
  • Flickr
  • YouTube