Solidariteit gaan vandag 107 000 misdaadbriewe aan Zuma oorhandig en daarna ‘n geslote gesprek met Zuma voer oor die bekamping van misdaad en ook sake rakende die polisiediens. Daar is baie ondersteuning vir hierdie stukkie aktivistiese briljantheid, maar daar is ook die handvol dit-gaan-nie-help-nie-kritici. Toegegee, Zuma het nie baie jare in skool deurgebring nie maar die lees van die briewe is nie al waaroor dit gaan nie.
Dit gaan oor die mobilisasie van Suid-Afrikaners oor iets waaroor ons sterk voel, dit gaan oor die bewusmaking van ‘n kwessie wat ons almal raak, dit gaan daaroor dat die regering moet besef dat hulle meer aandag daaraan moet gee, dit gaan daaroor dat nasionale en internasionale media druk op die regering plaas. Massa aksies soos hierdie maak misdaad weer ‘n nommer een besprekingspunt. Verder gaan Solidariteit ook die polisiediens met die regering bespreek en maniere voorstel van hoe vaardighede in die land gebruik kan word om misdaad te bekamp.
Elke siel wat alewig wil vra “wat help dit?” wil ek net voor sê: dit help nog minder as jy net niks doen nie. My teorie was altyd dat ‘n goeie Suid-Afrikaanse burger iemand is wat nasionaal en munisipaal stem op stemdag, bloed skenk en tenminste nou en dan sy deel bring vir dit in waarin hy glo. Mens ken jou aan dit wat jy bereid is om te doen, die groot gevaar is nie dat hierdie geslag gaan verloor nie, die gevaar is dat daar ‘n geslag gaan verby gaan sonder om te baklei.
As hierdie aksies sonder ‘n roeping plaasgevind het kon mens sê dat dit geen invloed gaan hê nie, maar as ‘n Christelike organisasie glo Solidariteit wel in dit wat hulle doen en dat verandering in ‘n oogwink kan plaasvind.
Die toekoms word nie deur mense verander deur te dink alles is onmoontlik nie, maar juis deur die wat aangaan asof niks onmoontlik is nie.









Solidariteit, wat julle doen dien dalk sy doel wanneer daar van die standpunt uitgegaan word dat die regering die plan moet voorsien om misdaad te bekamp. So ook maak dit sin om die verantwoordelikhede van die regering op hulle te wil afdwing.
Wat ek (en ek se ek want ek praat nie namens ander nie) egter nie kan verstaan nie is hoe kan daar van ‘n persoon of party of organisasie verwag word om ‘n plan te maak waar daar nie ‘n plan is nie. Wat ek hiermee bedoel is dat nie een van die politieke partye, organisasies of vakbonde ‘n plan ter tafel kan le wat ‘n impak op hierdie probleem gaan he nie.
Om meer Polisiebeamptes aan te stel gaan nie die probleem oplos nie – daar is eenvoudig te veel faktore wat daarmee gepaard moet gaan en wat teen die einde van die dag weer ‘n negatiewe impak op ander aspekte sal he. Daar is die kostes om hierdie manne aan diens te hou, daar is die opleidings kwessies, die voertuie wat aangeskaf moet word, die uitrustings, die opleiding van huidige polisiemanne (hulle is nie op standaard nie) ens ens. Waar gaan die gelde vandaan kom – sekerlik nie uit die sakke van die belastingbetaler nie aangesien Eskom in elk geval die kraantjie reeds toegedraai het (om maar net een te noem)
Die misdadiger het reeds aan ons bewys dat teenwoordigheid van meer Polisiebeamptes of misdaad bestryders nie ‘n afname in misdaad te weeg bring nie, maar dat misdadiger slegs van area verwissel en steeds voortgaan met sy misdade.
Die modus operandi van die rower en aanvaller het tot so mate verander in die laaste paar jaar dat daar ‘n absolute verandering sal moet plaasvind in die benadering tot bekamping van hierdie soort misdade.
Die modus operandi verleen aan die rower absoluut te veel ‘voordele’ en ‘n baie groot voorsprong in vergelyking met die vermoee van die Polisie en enige ander reaksie eenheid.
In kort, die rower en aanvaller het daarin geslaag om sy modus operandi suksesvol aan te pas rondom die swakhede wat in die kommunikasie stelsels tussen die slagoffer en die reaksie eenhede ontstaan het. In so mate dat hy (die krimineel) die tyd en wyse waarop die slagoffer so voorval kan rapporteer absoluut beheer, manipuleer en reguleer.
Die Polisie het by meer as een geleentheid bewys dat hulle meer as opgewasse is om te kan reageer na so toneel (en die voorval behoorlik kan hanteer) indien hulle vroeg genoeg in kennis gestel is om dien ooreenkomstig te reageer.
Ja ek weet daar is gevalle waar daar blykbaar nie voertuie beskikbaar was nie of lede wat slap was, maar dit is in die minderheid gewees.
My uitgangs punt is, kom met ‘n haalbare en uitvoerbare oplossing vorendag en le dit voor aan die parlement of president of wie ook al – daarna kan druk op die regering uitgeoefen word om hulle verantwoordelikhede na te kom.
Ons (ek) vra – wat is die alternatief – al wat ek sien is dat daar die heel tyd geskree word om druk uit te oefen op die regering, om gehoor te word, om die media bewus te maak, om te bewys wat ons almal al reeds weet.
Die publiek – jou volgelinge, my buurman, my werkgewer, my organisasie, my mede Suid Afrikaner, my volksgenoot, my vriend ens ens is die persone wat die verantwoordelikheid moet dra – die taak is eenvoudig net te groot vir ‘n sekere mag om te kan dra aangesien die situasie reeds van so aard is dat dit nie meer deur een instansie onder beheer gebring kan word nie, maak nie saak hoe groot so instansie is nie.
Die tyd vir teenkanting, dwarstrekkery, geleenthede gebruik om as gevolg van ‘n ander se swakhede steun te werf, die media te gebruik om op ander se onvermoee te wys, ens is lankal verby. Ons het ‘n keuse, of ons staan saam en werk aan die probleem of ons oefen druk uit op persone wat ons weet nie ‘n plan het of onvermoeend is om die probleem op te los nie.
Dit het tyd geword dat die gemeenskap (in al sy kleure en geure) begin om aan oplossings te werk en deel te neem, om nie meer tyd te verspil met verwyte en ‘redes’ nie.
My vraag is, bring ons die huidige regering tot ‘n val met ons aanvalle, wie is daar wat ‘n werkbare oplossing het vir die probleem soos dit tans daaruit sien, en indien daar so party of organisasie is, waarom het die party of organisasie nog nie met die plan begin nie.
Hierdie kwessie is nie polities van so aard dat ons dit kan gebruik as veldtog materiaal nie, ons publiek in sy geheel lei hieronder en indien daar ‘n party is wat ‘n oplossing vir die probleem het en dit nie bekend maak of in plek stel nie, is dit baie laag om toe te laat dat daar nog meer mense met hulle lewens moet boet net om eers sy politieke steun te kan werf – en ek hoop regtig ek is verkeerd met hierdie vermoede en dat daar werklik geen party is wat hierdie roete volg nie.
Ek wil graag beklemtoon dat ek nie teen sulke optredes, soos deur u onderneem word tans, gekant is nie, maar dat ek graag sal wil sien dat ons meer energie plaas in die vind van oplossings en werkbare, uitvoerbare en waardevolle metodes as om druk te wil uitoefen op iemand wat nie ‘weet wat om te doen’ nie. Daarmee se ek nie dat ‘iemand’ dom is nie – ek se bloot dat daar nie ‘n persoon is wat ‘n oplossing het nie en dit help veel om druk te plaas op iemand wat ‘nie kan nie’.
Dit is net so goed ons hou aan en aan om vir ‘n kreupele te wil se hy moet opstaan en loop en hoe meer hy vir ons se hy kan nie, hoe meer probeer ons steun werf van ander om ons eise op hom af te dwing. Ons kan in so geval slegs van die kreupele verwag om te loop indien ons aan hom eers die instrument verskaf wat hom daartoe in staat sal stel om te loop.
Dit is ‘n goeie argument, en dis belangrik om sulke energie op die regte manier te gebruik, soos om werkbare planne te maak rakende die bekamping van misdaad.
Daar is ‘n paar partye wat goeie voorstelle het oor die polisiediens, strukture en hier en daar ‘n oplossing vir ‘n paar dinge. En daar moet inderdaad ‘n ware poging kom om al die goeie idees in ‘n briljante plan te omskep. Wat hierdie misdaadveldtog egter goed doen is om energie los te maak vir deelname in die debat en in die oplossing.
Hierdie energie skep nou die geleentheid vir Solidariteit om byvoorbeeld kongresse oor misdaad te hou waar kenners bymekaar kan kom om aan ‘n plan te werk wat aan die regering voorgele kan word of tenminste eie werklikhede in ons eie gemeenskappe te skep sonder die regering se hulp.
u sê tereg dat bohaai opskop nie die probleem oplos nie, maar dit skep wel die klimaat waarin mense gemobiliseer kan word om aan oplossings te begin werk.
Dankie vir die inset, dit het my wel bietjie laat nadink.
Mooi so, hou so aan ons staan agter julle, julle het rug graad.Moet nie laat mense julle terug hou nie.
Dit help wel, maar nie in die sin dat die regering nou skielik wakker skrik en iets doen. Die aksie help om ons mense bewus te maak, om mense aan te moedig vir soortgelyke aksies, om burgerlike ongehoorsaam te begin kweek en om nie alles gelate te aanvaar nie. Dit help ook vir internasionale bewuswording. Die Duitse politieke tydskrif “Spiegel” het dit vandag op hulle webblad-voorbald gehad, ‘n lang en kritiese artikel oor die ANC-beheerde SA en veral die misdaadsituasie, en hulle het wye dekking aan Solidariteit en Flip Buys gegee.