Solidariteit gaan vandag 107 000 misdaadbriewe aan Zuma oorhandig en daarna ‘n geslote gesprek met Zuma voer oor die bekamping van misdaad en ook sake rakende die polisiediens. Daar is baie ondersteuning vir hierdie stukkie aktivistiese briljantheid, maar daar is ook die handvol dit-gaan-nie-help-nie-kritici. Toegegee, Zuma het nie baie jare in skool deurgebring nie maar die lees van die briewe is nie al waaroor dit gaan nie.
Dit gaan oor die mobilisasie van Suid-Afrikaners oor iets waaroor ons sterk voel, dit gaan oor die bewusmaking van ‘n kwessie wat ons almal raak, dit gaan daaroor dat die regering moet besef dat hulle meer aandag daaraan moet gee, dit gaan daaroor dat nasionale en internasionale media druk op die regering plaas. Massa aksies soos hierdie maak misdaad weer ‘n nommer een besprekingspunt. Verder gaan Solidariteit ook die polisiediens met die regering bespreek en maniere voorstel van hoe vaardighede in die land gebruik kan word om misdaad te bekamp.
Elke siel wat alewig wil vra “wat help dit?” wil ek net voor sê: dit help nog minder as jy net niks doen nie. My teorie was altyd dat ‘n goeie Suid-Afrikaanse burger iemand is wat nasionaal en munisipaal stem op stemdag, bloed skenk en tenminste nou en dan sy deel bring vir dit in waarin hy glo. Mens ken jou aan dit wat jy bereid is om te doen, die groot gevaar is nie dat hierdie geslag gaan verloor nie, die gevaar is dat daar ‘n geslag gaan verby gaan sonder om te baklei.
As hierdie aksies sonder ‘n roeping plaasgevind het kon mens sê dat dit geen invloed gaan hê nie, maar as ‘n Christelike organisasie glo Solidariteit wel in dit wat hulle doen en dat verandering in ‘n oogwink kan plaasvind.
Die toekoms word nie deur mense verander deur te dink alles is onmoontlik nie, maar juis deur die wat aangaan asof niks onmoontlik is nie.
Geen verwante artikels nie.









Lees hierdie beleid voordat jy deelneem aan die blog of enige kommentaar plaas.